Vroue van die Reformasie

Daar is baie mans wat bekend is as Reformatore. Lees hier oor hierdie vier Reformatoriese vroue wat die nuwe verstaan van die Christelike geloof ondersteun het: Katharina von Bora, Argula von Grumbach, Jeanne d’Albret en Katharina Zell.

deur ds. Paul van den Berg

Luther, Calvyn, Zwingli en Knox was as mans baie bekend tydens die Reformasie. Daar was egter ook vroue wat destyds op verskillende plekke en maniere in Europa meegewerk het om die Reformasie te bevorder. Dit was veral besonders omdat hulle opgetree het in ’n tyd waar die vrou in die Rooms-Katolieke Kerk nie gereken was nie. Daar was twee tipes vroue wat tydens die Reformasie op verskillende maniere die reformasie ondersteun en bevorder het. Eerstens was dit vroue wie se mans as hervormers opgetree het. Tweedens was daar die adellike vroue wat ’n groot liefde en ywer aan die dag gelê het vir die Reformatoriese waarhede. Hier volg inligting oor van hierdie Reformatoriese vroue wat die nuwe verstaan van die Christelike geloof, soos deur Luther en Calvyn beskryf is, hulle eie gemaak en positief ondersteun het:


Katharina von Bora (1499-1550)

Katharina von Bora was Martin Luther se vrou. Sy het vanaf vyfjarige ouderdom as ’n non in ’n klooster grootgeword. Sy het van Luther se beswaar teen die Roomse Kerk gehoor en haar daarmee vereenselwig. Sy en elf ander nonne het toe een aand in 1523 uit die klooster ontsnap en in Wittenberg aangekom. ’n Paar jaar later is sy daar met Luther getroud. Sy het ’n geweldige groot rol in Luther se lewe gespeel. Haar lewe laat ’n mens onwillekeurig dink aan die vrou van Spreuke 31:10-31. Sy het byvoorbeeld geboer, ’n gastehuis en konferensiesentrum bedryf en handel gedryf. Baie van Luther se besoekers het in haar gastehuis tuisgegaan. Katharina het ook studente-akkommodasie gereël, sy het toegesien dat bier gebrou word en na die tuin en veë omgesien en ook die huishouding se finansies in orde gehou. Sy was, met Luther se dood, die eerste vroulike erfgenaam. Alhoewel sy later deur die staat onterf is. Luther het sy vrou bewonder vir haar skerp intellek en ook haar praktiese ingesteldheid.


Argula von Grumbach (1492–1568)

Argula von Grumbach was ’n vrou uit die adelstand in Beiere. Sy was van kleins af ’n ywerige leser en het ook die Bybel bestudeer. Sy moes dit tuis doen, want formele opvoeding buite ’n klooster was nie vir jong meisies toelaatbaar nie. Sy het saam met haar man, Friedrich von Grumbach, naby Ingolstadt gewoon. Sy het eendag gehoor van ’n jong student, Arsacius Seehofer, wat by die teologiese fakulteit in Ingolstadt die standpunte van Luther ondersteun en versprei het. Die rektor en die universiteitsraad het vir Seehofer in hegtenis laat neem en hom gedwing om sy steun vir Luther terug te trek. Argula het ’n brief in Duits aan die universiteitsowerhede geskryf waarin sy hulle uitgedaag het om oor teologiese kwessies en spesifiek die student se saak met haar te debatteer. Hulle het egter geweier. Haar brief het egter ’n kitstreffer geword en was een van die mees gedrukte geskrifte van daardie tyd. Baie van haar geskrifte daarna het die boodskap van die Reformasie in Duitsland en na ander lande bevorder.


Jeanne d’Albret (1528-1572)

Jeanne d’Albret was ’n Franse adellike. Sy was van jongs af uitgesproke en nie bang om op te staan teen onreg nie. Sy skryf op 12-jarige ouderdom ’n sterk bewoorde beswaarskrif teen haar gedwonge huwelik. Nadat haar huwelik nietig verklaar is, het sy met haar geliefde getrou. Haar seun was koning Hendrik IV van Frankryk. Op Kersdag 1560 was sy een van die eerste adellikes wat openlik hul protestantse geloof bely het. As heerser oor die ryk van Navarre het sy die vlugtelinge in Genève finansieel ondersteun. Sy het ook op skrif die protestantse geloof verdedig. Sy het die Bybel in Frans laat vertaal sodat enige gelowige die Bybel self kon lees. Sy het haar ryk se ekonomiese en juridiese sisteme hervorm. Dit alles ten spyte van al die oorloë waarby sy as heerser van haar land betrokke was.


Katharina Schütz Zell (1497/8-1562)

Sy was een van die mees uitgesproke vroue, ’n ware vuurvreter, wat by die hervorming betrokke was. Sy was ’n geleerde vrou, getroud met haar mede-hervormer, Matteus Zell. Sy was bekend vir haar barmhartigheid en omgee vir mense. Sy het byvoorbeeld haar ontferm oor die voortvlugtende hervormermans se vroue. Tydens ’n vlugtelingkrisis in haar tuisdorp, het sy die behoeftiges versorg. Sy en haar man was van die mees verdraagsame ondersteuners van die Reformasie. Sy het byvoorbeeld by Luther gepleit om liefdevol teenoor Zwingli op te tree oor hul verskille met mekaar.


Die Here het bogenoemde vroue saam met ander mans en vroue instrumenteel gebruik om die groei en vestiging van die Reformasie daar te stel. Soli Deo Gloria!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui