Agter die 95 Stellings
Deur Wilna Myburgh
Die Reformasie is baie groter as net Martin Luther en die dag van 31 Oktober 1517. Só antwoord Dr. Victor E. d’Assonville al my vrae rondom die Reformasie:
1. Was Martin Luther regtig so heldhaftig? Mense sê dat sy plan net was om sy stellings op die kerk se kennisgewingbord te sit en só ’n spreekbeurt by die Pous te kry. Is dit so?
’n Mens sou sy optrede wel as heldhaftig kon bestempel, maar dan nie weens die vasspyker van die Stellings nie, eerder weens die inhoud daarvan. Uit sowel hierdie Stellings, asook vroeë en latere geskrifte van hom, het geblyk dat hy nie gehuiwer het om dít wat volgens die Skrif van God se Woord die waarheid is, hardop uit te spreek nie. Sy heldhaftigheid het miskien die beste in 1521 in Worms na vore gekom. In die teenwoordigheid van Keiser Karl V het hy geweier om sy geskrifte te herroep, tensy die Roomse Kerk eers uit die Skrif kon aantoon waar dit verkeerd is.
2. Die Reformasie word op 31 Oktober gevier. Was dit regtig die dag waarop Luther die 95 Stellings teen die kerkdeur vasgeslaan het?
Dit word algemeen deur die belangrikste navorsers aanvaar dat die gebeure van 31 Oktober plaasgevind het. Daar is eenstemmigheid dat die 95 Stellings deur Luther, soos gedruk en verder versprei ná 31 Oktober 1517, wel toe gepubliseer is.
Die bevraagtekening van die datum is ook verkeerd bewys. 31 Oktober is in elk geval hoogs waarskynlik omdat dit die aand voor die belangrike openbare vakansiedag, “Allerheiliges”, is. Strategies was 31 Oktober dus die logiese datum vir só ’n kennisgewing.
Die kerkdeur was die normale kennisgewingbord vir die universiteit waar sulke stellings, as uitnodiging aan kollegas tot ’n diskussie daaroor, vasgemaak sou word. Of dit Luther self was of dalk ’n ander werknemer (beampte) van die universiteit, maak ook nie saak nie. Die feit van die publieke bekendmaking van die stellings op die gebruiklike kennisgewingbord staan vas.
3. Het hy dit laat druk, of was dit met die hand geskryf?
Die eerste kopie was waarskynlik handgeskrewe. Luther het nie die 95 Stellings net in Wittenberg bekend gemaak nie, maar dit ook (handgeskrewe) aan Biskop Hieronymus Schultz en Aartsbiskop Albrecht van Brandenburg/Mainz gestuur. Die Stellings was oorspronklik in Latyn en dus eintlik vir akademiese diskussie bedoel. Dit is deur ander vertaal en versprei – op ’n ongekende vinnige wyse. Die boekdrukkuns het veral ten opsigte van die verspreiding van sowel die oorspronklike Latynse asook die vertaalde Stellings ’n geweldige rol gespeel.
4. In 1517 het Luther die Stellings bekend gemaak. Eers in 1521 is hy gedaag om sy werke terug te trek. Wat het intussen gebeur? Was Luther nog deel van die Rooms-Katolieke Kerk?
Wat in 1517 as ’n diskussie oor aflate begin het, het spoedig ontwikkel in ’n diskussie oor die gesag van die Skrif, oor die pous, oor die sakramente, en oor die vraag van genade en regverdigmaking. In hierdie tyd is ontmoetings tussen verteenwoordigers van die Roomse Kerk en Luther gehou in ’n poging om hom tot ander insigte te bring. Die reaksie van die Roomse kant het Luther egter daartoe gebring om verdere studie te doen en aan verdere gesprekke en diskussies deel te neem. Twee baie belangrike gesprekke, wat Luther verder in sy eie ontwikkeling na ’n Reformatoriese verstaan van die Skrif gelei het, was die Heidelberg Disputasie (1518) en die Leipzig Diskussie (1519). In Leipzig het Luther byvoorbeeld uitdruklik bevestig dat die Skrif hoër gesag as die pous sowel as konsilies/sinodes het.
Almal was die hele tyd nog lidmate van die Roomse Kerk. Luther, soos die ander Reformatore, wou nooit met die Roomse Kerk breek nie, hulle wou dit hervorm. Tussen 1517 en 1521 was Luther besig met verdere Skrifstudie. Drie van sy belangrikste boeke het in 1520 verskyn. Die pouslike bul (dekreet) waarin sy geskrifte veroordeel is, het ook in 1520 verskyn. Dit was van Rome se kant die breuk met hom en die Reformasie.
5. Dit het altyd vir my geklink of Luther net die 95 stellings geskryf het, maar dis toe nie die geval nie. Wat het hy nog geskryf?
Die Versamelde Werke van Luther beslaan ’n hele aantal boekrakke. Baie daarvan het bewaar gebly, onder andere Voorlesings oor Bybelboeke (Ou en Nuwe Testament), sy Groot en Klein Kategismus, boeke, traktate, preke en die beroemde “Tafelgesprekke”, gesprekke met sy studente wat deur ander afgeskryf is. Die belangrikste is egter sy Bybelvertaling in Duits.
6. John Wyclif is bekend as die môrester van die Reformasie – het Martin Luther van hom geweet?
John Wyclif (1329–1384) en sy oortuigings van die gesag van die Skrif en sy afwysing van die Roomse siening van die sakramente was redelik algemeen bekend. Jan (Johannes) Hus (1373–1415) het egter ’n groter rol by Luther se ontwikkeling gespeel. Hus was ’n groot navolger van Wyclif en het sy idees oorgeneem. Luther het tydens die Disputasie van Leipzig (1519) geleentheid gekry om Hus se geskrifte te lees en besef dat Hus honderd jaar vantevore soortgelyke probleme aangespreek het.
7. Wanneer het die woord reformasie ter sprake gekom?
Die woord reformasie was reeds enkele eeue al in omloop in die Roomse Kerk. Dit het veral betrekking gehad op die hervorming van al die wanpraktyke en magskorrupsie met die loop van tyd. Met die “Reformasie” van die sestiende eeu het dit egter heeltemal ’n ander betekenis gekry, naamlik die vraag oor die gesag van die Woord van God en daarom ook oor die genade en die regverdigmaking, met al die konsekwensies wat daarmee saamhang.
8. As ons Calviniste is en nie Lutherane nie, hoekom vier ons die dag waarop die 95 Stellings vasgeslaan is?
31 Oktober 1517 was ’n belangrike impuls. Terwyl Calvyn en Luther wedersydse waardering vir mekaar gehad het, was Calvyn se rol in die verdere ontwikkeling van die Reformasie baie belangrik en nie teenstrydig met Luther nie. Luther het die naam Lutherane afgewys en Calvyn die naam Calviniste. Vir hulle was dit belangrik dat ons Christus volg en nie mense nie.
9. In die tyd van die Reformasie is die belydenisskrifte geskryf. Is dit nog steeds van toepassing?
Belydenisskrifte van die Waarheid berus op die Skrif as Woord van God. Die belydenisse is in die huidige tyd steeds noodsaaklik omdat dit ons belydenis van ons geloof volgens die Skrif tot uitdrukking bring. Dit is vandag, meer as ooit tevore, nie net van toepassing nie, maar hoogs aktueel.