Hou jou hart oop vir God se Woord

In hierdie artikel kyk ons in diepte na die “goeie grond” in die gelykenis van die saaier. Lees hier oor die grond van jou hart.
deur ds Werner Brotherton
Ons Here Jesus het ons geleer dat ons in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie. In lyn met hierdie gedagte word ons deur Hom opgeroep om heilig te leef. Om heilig te leef beteken om anders as die wêreld, in die wêreld, te leef. Dit beteken dat ons daarna sal smag om met wysheid te leef.
Wysheid is iets anders as intellek. Wysheid is om die regte ding in moeilike omstandighede te doen. Dit is om in verkeerde omstandighede die regte ding te doen. Daarvoor moet ons harte reg wees. Ons harte moet reg wees om die Woord van die Here te ontvang en toe te pas in ons lewe.
Hoekom moet jou hart reg wees?
As ons die inleiding opsom sien ons dat ons as Christene heilig moet lewe, en daarvoor het ons wysheid nodig. Ons kan hierdie wysheid net kry as ons harte reg is. Jesus gebruik ’n gelykenis oor die saaier en verskillende grondsoorte om te wys hoekom ons ’n goeie, ontvanklike hart moet hê.
Ons lees in Matteus 13:3-9 die gelykenis van die saaier, en kry in verse 18-23 die verklaring daarvan. Die saad in die gelykenis val op vier verskillende plekke – van dit op die pad, op ’n klipbank, en tussen die onkruid. Dan is daar die saad wat op goeie grond val. Hierdie grond verwys na ’n goeie hart.
’n Goeie hart gaan oor meer as net jouself. As jy ’n goeie hart het, sal jy nie net doen wat reg is nie, jy sal vrug dra en vir ander iets beteken.
Lees meer oor die gelykenis hier:
Is die grond van jou hart ontvanklik?
In die gelykenis van die saaier in Matteus 13 wys die grond na ons harte. Is dit hard en onontvanklik vir die Woord? Is ons harte dalk net tydelik opgewonde oor die Woord tot die lewe se moeilikhede kom? Is die wêreld vir ons so lekker en aanloklik dat ons harte toegesluit word vir die Woord?
Christus ken ons harte (Psalm 139). Hy deurgrond ons. Wanneer ons ook self na ons eie harte kyk sien ons die invloed van die Satan, sonde en die wêreld daarin. Ons sien die onkruid wat wil opkom in die grond van ons hart.
Tog is God genadig en sorg Hy dat die ware geloof in ons hart ontkiem wat vrugte van goeie werke produseer. Hoe berei ons ons harte dan voor in ’n wêreld wat ons harte korrup wil maak? Ons doen dit deur nie maar net rustig en tevrede te wees deur net die Woord te hoor nie. Ons kan ook nie maar net dink dat ons ons deel doen wanneer ons ander kerk toe bring en hulle tot geloof kom nie.
Praktiese tekens van ’n ontvanklike hart
Die teken dat God se Woord werklik in ons hart werk is ’n veranderde lewe. Dan word Christus ons hoogste begeerte en vreugde. Dit is om ’n lewe te leef met die oog op die koninkryk. In die praktyk beteken dit die volgende:
- Ek kyk mooi wie is my vriende. Hoe beïnvloed hulle my? Is hulle gelowiges wat graag wil sien dat ek ook nader aan die Here groei in ’n gehoorsame lewe voor Hom? Of omring ek my met mense teen wie Psalm 1 en Spreuke 1 my waarsku? Gaan lees gerus Psalm 1 Spreuke 1.
- Ek sorg dat ek ’n gelowige man of vrou kry wat die Here werklik wil dien wat my sal help en saam met my nader aan die Here sal groei, en saam my kinders sal grootmaak in die weë van die Here, en seker maak dat die grond van hulle harte ontvanklik is vir die Woord. Ons sorg dat daar Huisgodsdiens is waar die grond van harte mee gevoed word.
- Ek kyk ook na watter films en reekse ek kyk, watter musiek ek luister, watter boeke ek lees. Word verkeerde gedagtes in my gekweek hierdeur? Is dit tot lof en eer van God?
- Ten diepste sorg ek dat ek onder die erediens kom, dit is onder die geklank van God se Woord. Ek sorg dat ek in ’n gemeente is waar die Woord suiwer, duidelik en eerlik gepreek word. Ek is nie daar waar stories en grappies op die preekstoel is nie, want die geloof kom deur gehoor van die Woord wat gepreek owrd, en die prediking kom alleen uit God se Woord (Romeine 10).
Hoekom is eredienste en die Woord so belangrik?
Die eredienste is belangrik, want dit is die Heilige Gees wat ons harte voorberei en die geloof in ons harte inplant deur die verkondiging van die Woord. Die Heilige Gees werk altyd deur die Woord, en daarom moet ek die Bybel lees met persoonlike stiltetyd, met huisgodsdiens en by die eredienste.
Deur besig te wees met die Bybel hou ek my hart gesond en ontvanklik vir die Woord. Deur die Bybel word my geloof gevoed en gesond gehou. En in die praktyk van my lewe kuier ek soos dit ’n gelowige betaam, waar ek nie vol drank word nie, maar vol van die Heilige Gees.
Ek doen alles tot eer en opbou van God se Naam. Ek vra voortdurend: Hoe het die evangelie my verander? Hoe verander dit my steeds? Sien ek die vrugte van die geloof?
Lees meer oor dieselfde gelykenis, waar die saad op die grond met dorings en onkruid val:
