Fokus op die pad van die regverdige

Die Here leer ons hoe om die pad van wysheid te stap – ons moet let op ons harte, monde, oë en voete. Lees hier watter vier riglyne ons in Spreuke 4 leer oor hoe om die regte pad te stap.

deur ds. Marnix Boersema


Ons is almal pelgrims oppad na ons eindbestemming. Daar is net twee paaie wat ’n mens kan stap: die pad van regverdiges of die pad van goddeloses. Die pad waarop jy is, bepaal waar jy uiteindelik gaan opeindig.

Mense wat op Jesus Christus as hulle Verlosser vertrou en gehoorsaam aan Hom leef, stap die pad van die regverdiges. Dié pad van Jesus Christus loop uit op ewige voorspoed en totale herstel!

Die pad van die regverdiges is soos helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is.

Spreuke 4:18

Wat so besonders van hierdie pad is, is nie nét dat dit ’n pad ín die Lig en ván die Lig is nie; maar ook dat hoe langer jy op hierdie pad loop, hoe helderder die Lig vir jou begin skyn! Dit beteken, soos wat jy aanhou leef in gehoorsaamheid aan die Here Jesus Christus, hoe meer gaan Hy Homself aan jou bekend maak, totdat jy Hom uiteindelik eendag heeltemal en volkome sal sien!


Stap die pad van die regverdige

Die enigste manier hoe jy die pad van God kan stap, is deur te konsentreer en te luister na die Here se woorde. Die Wysheidsboeke in die Bybel – soos Job, die Psalms, Prediker en Spreuke – wys vir ons heeltyd hierdie twee paaie in die lewe uit. En, heeltyd wil díé boeke vir ons wys hoe ons die pad van die regverdiges, die pad van Lig, kan stap.

In Spreuke 4 lees ons van vier goed wat ons moet doen: Ons moet let op die gedagtes van ons hart, die woorde uit ons mond, die fokus van ons oë, en die gerigtheid van ons voete.

1. Pas jou hart op

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.

Spreuke 4:23

Jou hart is wie jy regtig is. Dit is jou manier van dink, jou emosies. Dit is wat jou in die lewe dryf. Jesus leer ons dat die hart ’n afgodefabriek is: “…uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak.” (Matteus 15:19,20)

Die rede waarom ons egskeidings het, moord pleeg, lieg en steel is omdat daar fout is met ons diepste wese – ons harte. Dit is waarom die Here die ware jy moet verander. As die Here se Heilige Gees nie jou hart nuutmaak nie, is jy nie gered nie, nie ’n Christen nie.

Spreuke sê dat wat in jou hart aangaan jou hele lewe bepaal. En dít bepaal die koers wat jy inslaan. Hou daarom fyn dop wat binne-in jou hart aangaan. Waarop is jy gefokus in die lewe? Wat is jou motiewe waarom jy dinge doen? En die belangrikste van alles – is jy weergebore? Vra jouself af: Is jou hart op die Here gerig?

2. Weerhou jou mond

Weerhou jou van leuens, moenie mense mislei nie.

Spreuke 4:24

Mense op die pad van die regverdiges moenie net hul harte bewaak nie, hulle moet ook let op hul woorde. Want, die hart en mond werk op mekaar in. Die mond sê wat die hart dink, en die hart bedink wat die mond sê.

Hierdie pad tussen ons hart en mond is ’n tweerigtingstraat. Die dinge wat ons sê, word laterhand iets wat in ons harte leef. Die manier hoe ons praat vorm ons denkpatrone. As ek gereeld ondankbaar mor oor iets, gaan ek laterhand ’n ondankbare hart hê. As ek my besig hou met vulgêre praatjies, plant ek weer onsedelikheid in my hart, ensovoorts.

Maar, as ons harte gevul is met die Waarheid van die Here, sal ons monde ook die waarheid praat. Die waarheid bring koers en rigting in ons lewens!

3. Hou jou oë gefokus

Hou jou oë op die pad vorentoe, kyk reg voor jou uit.

Spreuke 4:25

Jou liggaam gaan die pad vat waar jou oë kyk. En dit waarna jou oë kyk, projekteer na binne teen die mure van jou hart. Die duiwel wil hê ons moet gedurig êrens anders kyk as na die pad van God wat voor ons lê. Hy wil hê ons moet ons vasstaar in al die probleme langs die pad, sodat ons nie meer vorentoe kyk nie.

Mense sê mos “jy is wat jy eet” – miskien “word ons ook waarna ons kyk”. Hierdie is so ’n belangrike beginsel vir ons om in ons tye te onthou! Enige tyd kan ons enigiets op YouTube kyk, of inligting op Google lees. Ons lees nuusartikels en kyk na statistieke en syfers, en mense se menings en videos en kommentaar en ons oë is oraloor, alewig op die uitkyk vir die nuutste vreesaanjaende krisis. Ons oë is heeltemal te veel op opinies van mense en heeltemal te min besig om te lees uit die Bybel!

Waarop fokus jy wanneer die probleme een-vir-een in jou lewe opduik en jy voel dit kry nie end nie? Jy moet reg voor jou uitkyk. Spreek die probleme aan. Hanteer die krisis van jou dag en tyd, maar moenie toelaat dat jou oë fokus op die pad van die regverdiges verloor nie!

4. Hou jou voete op koers

Baken jou koers af, dan sal jy seker wees van elke tree. Moenie links of regs wegdraai nie, weerhou jou van die verkeerde koers.

Spreuke 4:26-27

Daar waar jou oë kyk, daar gaan jou voete! Dit beteken ons moet prakties uitvoer wat ons reeds met ons geloofsoë kan sien. Ons fokus in die lewe, dit waarop ons ons oë rig, gaan die rigting en koers bepaal wat ons in die lewe inslaan.

Dink só daaraan: iemand wat se oë gefokus is op sukses en gewildheid, se hele lewe gaan daarop gerig wees. Hy gaan sy familie, sy gesondheid en alles opoffer om daardie sukses en gewildheid te behaal. Maar, iemand wat daarop gerig is om te lewe soos die Here wil, en die Here se Koninkryk sy fokus te maak, gaan sy gesinslewe, werkslewe, ontspanningslewe … alles … heeltemal anders inrig.

As ons fokus is om dissipels van die Here Jesus te wees, wat Hom op die pad van die regverdiges volg, dan moet ons doen wat Hy sê. As ons dan hierdie rigting wil inslaan, moet ons die koers afbaken en die pad vir ons voete gelyk hou. Hoe doen ek dit? Wel ons sal in ons daaglikse lewe moet vra: Waar wil die Here hê moet ek loop? Is ek gehoorsaam aan Hom, wanneer ek hierdie ding doen, daardie besluit neem of hierdie gesindheid koester? Ons moet trap in die voetspore van ons Here.


Stap dan nou die regte pad!

So, ons weet daar is net een van twee paaie wat ons in hierdie lewe kan stap. Op watter een is jy? Wat gaan vandag in jou hart aan? Waaroor praat jy, en hoe praat jy? Wat is jou fokus in die lewe?

Vra jouself hierdie vrae en jy sal vinnig agterkom watter pad jy stap en watter koers jy ingeslaan het. Slaan ag op die woorde in Spreuke – as jy in die voetspore agter die Gesalfde aanstap, sal die Lig van die Here vir jou skyn. En, hoe langer jy die pad van die regverdige stap, hoe helderder word dit, totdat die volle dag uiteindelik deurbreek!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui