Geregtigheid en liefde by die kruis
In Romeine skryf Paulus dat God gelyk regverdig en genadig is. Lees hier wat die kruis ons oor God se karakter leer.
deur ds Alistair van Heerden

Wanneer ons kruis van Christus oordink, staan ons voor een van die diepste openbarings van wie God is. Die kruis wys nie eerstens iets oor ons nie, maar oor God. Dit is die plek waar God Homself openbaar – in sy heiligheid, sy geregtigheid én sy liefde.
In Romeine 3:21–26 bring die apostel Paulus hierdie openbaring op ’n aangrypende manier saam: God is tegelyk volkome regverdig én volkome genadig.
Paulus begin deur die donker agtergrond te skets:
Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.
Romeine 3:23
Dit is presies wat ons in die Dordtse Leerreëls bely, dat die hele menslike geslag in Adam gesondig het en doemwaardig is voor God. God sou niemand onreg aangedoen het as Hy die hele wêreld veroordeel het nie.
Dit beteken, God se geregtigheid is nie ’n klein saak nie. Hy kan nie sonde ignoreer of onder die mat invee nie. Sy heiligheid eis voldoening. Die loon van die sonde is die dood (Romeine 6:23). As God waarlik God is, moet Hy regverdig oordeel.
Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree.
Romeine 3:21
En tog, en hier begin die evangelie skitter, “maar nou” het die geregtigheid van God geopenbaar geword (Romeine 3:21). Hierdie “maar nou” is van geweldige betekenis vir ons redding.
God openbaar sy geregtigheid nie deur bloot te straf nie, maar deur te red. Hy stel die Here Jesus Christus voor as ’n versoening deur sy bloed (Romeine 3:25). Die kruis is dus nie ’n tragiese ongeluk in die geskiedenis nie, maar die daad van God self.
God is regverdig én genadig
Hier lê die hart van die kruis: God straf die sonde maar Hy doen dit in sy eie Seun. Hy laat sy reg geld, maar Hy dra ook self die oordeel. Christus staan nie teenoor God nie; Hy is die Seun wat deur die Vader gegee word. So bly God regverdig, want die sonde word werklik gestraf. Maar Hy is ook genadig, want die straf tref nie ons nie, maar ons Plaasvervanger.
Paulus sê dit aangrypend, God doen dit “om sy geregtigheid te bewys … sodat Hy regverdig kan wees én regverdig kan maak die een wat uit die geloof in Jesus is” (Romeine 3:26).
God het ’n liefdevolle geregtigheid
Dit beteken dat daar geen spanning in God is tussen geregtigheid en liefde nie. By ons mense bots hierdie twee dikwels: as ons regverdig is, voel dit soms asof ons nie liefdevol kan wees nie; en as ons liefdevol is, voel dit asof ons die reg moet versaak.
Maar in God is daar geen teenstrydigheid nie. Sy liefde is ’n heilige liefde. Sy geregtigheid is ’n liefdevolle geregtigheid. Aan die kruis kom hierdie twee nie halfpad bymekaar nie, hulle ontmoet mekaar volkome.
Hierdie waarheid beskerm ons teen twee groot dwalings. Aan die een kant teen ’n koue wettisisme, asof God net ’n streng Regter is wat straf en geen hart het nie. Aan die ander kant teen ’n oppervlakkige genade, asof God maar bloot sê: “Dit maak nie saak nie.” Nee, dit maak sóveel saak dat die Seun van God moes sterf. Die kruis wys hoe ernstig God sonde opneem en hoe diep sy liefde is.
In die lig van Paasfees moet ons dus leer om die kruis reg te lees. Wanneer ons na Golgota kyk, sien ons nie ’n God wat sy oë toeknyp vir sonde nie, maar ’n God wat self die prys betaal. Ons sien nie ’n wrede Vader en ’n liefdevolle Seun nie, maar die Drie-enige God wat in een wil ons verlossing bewerk. So word Christus die middelpunt van God se openbaring, hier straal sy geregtigheid, hier brand sy liefde.
God het die prys vir ons sonde betaal, wie kan dit dan wegvat?
Daarom kan ons met vaste troos leef. Ons verlossing rus nie op ’n God wat sy standaarde laat sak het nie, maar op ’n God wat sy eie geregtigheid gehandhaaf het. Dit beteken ons saligheid is vas en seker. Want as God self die prys betaal het, wie kan dit ooit weer ongeldig verklaar? In Christus is God volkome regverdig en juis daarom volkome ons Genadige Vader.
So berei die kruis ons voor vir Paasfees: ons leer om God te aanbid in verwondering. Want aan die kruis ontmoet geregtigheid en liefde mekaar en ons, skuldige mense, mag in daardie ontmoeting lewe vind.
