Ons het hoop want Jesus leef

Die Emmauspad wys vir ons iets verrassends: Jesus stap saam, selfs wanneer ons Hom nie herken nie. Hoop begin by die waarheid dat Hy leef! Lees hier meer.


Daar is dae wat alles swaar voel. Dae waar dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie. Dis nie nuut nie. Twee van Jesus se dissipels het presies so gevoel op pad na Emmaus.

Hulle het alles gesien gebeur. Jesus is gekruisig. Hy is begrawe. En nou? Nou is hulle op pad huis toe van Jerusalem af. Hulle is teleurgesteld, moedeloos en deurmekaar. In hulle eie woorde:

Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos … En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel.

Lukas 24:21, 22

Daardie sin sê alles: ons het gehoop. Maar nou is daardie hoop weg.

Ons lees van die sogenaamde Emmausgangers in Markus 16:12-13 en Lukas 24:13-33a.


Jesus stap saam – selfs wanneer ons dit nie sien nie

Terwyl hulle so loop en praat, kom Jesus self by hulle aan. Maar hulle herken Hom nie. Dis een van die vreemdste en mooiste oomblikke in die Bybel: die Here stap saam met hulle, maar hulle sien dit nie raak nie.

En tog loop Hy nie verby nie. Hy luister na hulle en vra waaroor hulle praat. En dan verduidelik Hy vir hulle die Skrif. Hy stap die 12 km tussen Jerusalem en Emmaus saam. Ons lees dat Hy hulle van Homself vertel:

Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.

Lukas 24:27

Eers later, toe Hy saam met hulle eet en die brood breek, “gaan hulle oë oop, en hulle het Hom herken” (Lukas 24:31). Skielik maak alles sin. Hulle besluit om dadelik terug te gaan na Jerusalem toe. Die kruis was nie die einde nie. Jesus leef!

Maar kyk mooi: Jesus het reeds saam met hulle gestap lank voor hulle Hom herken het.


Hoop begin nie by wat ek sien nie

Dis dalk die belangrikste troos in hierdie gedeelte. Ons dink dikwels dat hoop eers begin wanneer ons God duidelik sien of ervaar. Maar hierdie verhaal wys vir ons iets anders: hoop begin by die werklikheid dat Jesus leef. Selfs wanneer ons dit nie raaksien nie!

Hoeveel keer gebeur dit nie ook met ons nie?

Ons kyk na ons omstandighede en sê: “Ek het so gehoop …” Ek het gehoop die verhouding sal werk. Of, ek het gehoop die planne sal uitwerk. Ek het gehoop dinge sal anders wees.

En stadigaan begin hoop plek maak vir teleurstelling.


God se plan loop dieper as ons teleurstelling

Maar die Emmauspad herinner ons: Jesus is nie afwesig nie. Hy is nie ver nie. Hy stap saam. Selfs in ons verwarring, in ons twyfel, selfs wanneer ons Hom nie herken nie, is Hy nóg by ons.

En Hy doen dit op ’n baie spesifieke manier. Hy bring die Emmausganger, en ons, telkens terug na die Woord. Hy wys vir hulle hoe alles, ook die lyding, deel is van God se plan. Wat vir hulle soos ’n einde gevoel het, was eintlik die begin van iets groter.

Dis presies wat die opstanding beteken. Dit sê vir ons dat God se werk nie ophou waar ons dink dit ophou nie.


Hy was die hele tyd daar

Dit beteken nie alles maak dadelik sin nie. Die dissipels het eers later verstaan. Maar hulle het iets belangriks ontdek: hoop lê nie in hoe duidelik ek sien nie, maar in Wie saam met my loop.

En wanneer hulle uiteindelik besef dit is Jesus, sê hulle vir mekaar:

Was ons harte nie warm toe Hy met ons op die pad gepraat het nie?

Lukas 24:32

Hulle kyk terug en besef: Hy was die hele tyd daar.


Miskien is dit ook vandag waar vir jou. Jy voel dalk moedeloos, onseker of teleurgesteld. Miskien lyk dit asof God stil is. Maar die waarheid van die opstanding bly staan: Jesus leef. En omdat Hy leef, stap Hy steeds saam met sy mense.

Jy sien Hom dalk nie altyd nie. Jy verstaan dalk nie altyd wat aangaan nie. Maar Hy is daar.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui