Geestelike naïwiteit en sosiale media

Kan TikTok, YouTube en Instagram jou geloof vorm? Ontdek waarom geestelike naïwiteit op sosiale media gevaarlik is en hoe om Bybels te onderskei.

deur ds Janré van Jaarsveld


Duiwe is oral. Maak nie saak waar jy bly nie, jy het waarskynlik al een gesien wat onseker rondstap, kop knik, en sonder duidelike rigting in sirkels rondvlieg.

Dit is presies hierdie beeld wat die Here in Hosea 7:11 gebruik.

Die volk Israel se leiers was in hierdie tyd soos dom duiwe. Toe moeilike tye kom, het hulle nie eerste na die Here gevlug nie. Hulle vlieg angstig rond en soek orals en by almal hulp, in plaas daarvan om na die Here te vlug en op Hom te vertrou. God se volk het baie keer in hulle geskiedenis soos bang, dom en fladderende duiwe opgetree.

Hulle was geestelik naïef.

En as ons eerlik is, kan ons vandag maklik dieselfde word.


Wat beteken geestelike naïwiteit?

Om naïef te wees, beteken om dinge té maklik te glo of te vertrou sonder om eers mooi te dink of dit reg, waar of wys is.

’n Mens kan ook in jou geloof naïef wees. Dit gebeur wanneer jy verkeerde dinge volg of vertrou sonder om dit eers aan God se Woord te toets.

Dit is presies wat Israel in Hosea 7 gedoen het. Hulle het nie eerste na die Here gegaan nie. Hulle het eerder hulp by Egipte en Assirië gesoek—ironies genoeg by vyande van God se volk.

Dit is net ’n dom duif wat raad by ’n kat gaan soek.


Wees versigtig vir die algoritme

Ons as gelowiges moet baie versigtig wees dat ons nie soos naïewe duiwe deur die lewe vlieg nie.

Vandag kan ’n kort TikTok-video, ’n emosionele YouTube Short, of ’n mooi Instagram-boodskap vinnig soos “die waarheid” voel.

Maar sosiale media is nie jou Bybel nie.

’n Kort video met treffende musiek en inspirerende woorde is nie dieselfde as om self God se Woord te lees, te bestudeer en te oordink nie.

Baie tieners en jongmense leer vandag meer oor God op sosiale media as uit die Bybel self. Dit kan maklik tot geestelike naïwiteit lei.


Wat gebeur wanneer sosiale media jou geloof vorm?

As ons geestelik naïef deur die lewe gaan, raak ons maklik vatbaar vir misleiding. As jy nie die Bybel goed ken en naby aan die Here leef nie, gaan jy maklik dinge glo wat verkeerd is.

Nie alles wat mooi klink of aantreklik lyk, is waar nie. ’n Halwe waarheid is ook ’n leuen.

Nog ’n gevaar is dat ons stadig begin vertrou op influencers, trends en populêre opinies eerder as op die Here.

Vandag glo jy een ding. Môre glo jy iets heeltemal anders. Voor jy jou kom kry, fladder jy rond soos die dom duif in Hosea 7:11.


Ses maniere om geestelike naïwiteit te vermy

1. Lees self jou Bybel

Moenie net leef van wat ander mense oor die Bybel sê nie. Leer om self God in sy Woord te ontmoet. Gebruik hulpmiddels, leesplanne en goeie preke, maar moenie jou eie stiltetyd vervang nie.

2. Toets alles aan die Woord

As jy iets op TikTok, Instagram of YouTube hoor, vra: “Is dit waar volgens God se Woord?” Moenie blindelings agter trends aan vlieg nie.

3. Bid vir onderskeidingsvermoë

Bid daagliks: “Here, help my om nie sommer alles te glo nie. Help my om waarheid van leuen te onderskei.”

4. Wees deel van jou gemeente

Die Here het ons nie gemaak om met net ’n selfoon en Wi-Fi alleen deur die lewe te gaan nie. Gelowiges help om mekaar op die regte pad te hou.

5. Wees versigtig vir TikTok-Christenskap

Nie elke video op TikTok en YouTube oor Jesus is verkeerd nie. Maar onthou: Die algoritme is nie die Heilige Gees nie. Sosiale media wil jou aandag hê. Die Here wil jou hart hê.

6. Bly in Christus geanker

Ware wysheid is nie net om baie te weet nie. Ware wysheid is om Jesus Christus te ken, Hom te volg, en in sy Woord geanker te wees.


God roep ons om met onderskeiding te leef

Die Here wil nie hê ons moet soos dom duiwe deur die lewe rondfladder nie. Hy wil hê ons moet rus, vrede en waarheid in Hom alleen vind. Hy wil hê ons geloof moet nie gevorm word deur trends, clips of algoritmes nie, maar deur sy Woord.

U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig vir my pad.

Psalm 119:105

Hoe nader jy aan Jesus Christus leef, hoe minder sal jy soos ’n dom duif deur die lewe vlieg – en hoe meer sal jy met wysheid en onderskeidingsvermoë leef, tot eer van sy Naam.


Lees meer oor Hosea 7:11 waar die volk vergelyk word met “dom duiwe”:

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui