Hosea se “dom duif” is nog relevant
Wat beteken Hosea se “dom duif”? Ontdek waarom geestelike naïwiteit gelowiges kwesbaar maak en hoe God se Woord ware onderskeiding bring.
deur ds Werner Brotherton

Op die vraag van die Fariseërs oor wat die grootste gebod is, antwoord Christus:
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.
Matteus 22:37
Jesus leer ons hiermee om die Here met ons hele menswees lief te hê.
In hierdie artikel fokus ons op daardie laaste opdrag: om die Here met ons hele verstand lief te hê. Ware geloof sluit ons denke, kennis en onderskeidingsvermoë in. Geloof is nie bloot gevoel nie.
Wanneer geloof sonder kennis naïef raak
Die profeet Hosea beskuldig Israel herhaaldelik daarvan dat hulle soos mense sonder verstand optree. Dit beteken nie dat daar iets met hulle intelligensie fout was nie. Hulle was dom in die geloof.
Hulle het maklik agter afgode aangeloop. Hosea 4:6 verduidelik waarom:
My volk gaan ten gronde weens gebrek aan kennis.
Maar daar is nog meer. Hulle het nie net nié geweet nie – hulle wóú nie weet nie. Hulle het die kennis van die Here verwerp.
Die ouers van Israel het ook nie altyd die opdrag van Deuteronomium 6 nagekom om die volgende geslag van die Here se groot dade te leer nie.
Wat beteken die “dom duif” in Hosea?
Hosea 7:11 sê:
Efraim het geword soos ’n duif: dom en sonder verstand.
Het jy al ’n duif dopgehou? Hy pik rond, beweeg onseker, en lyk dikwels sonder rigting. So raak ’n gelowige sonder Bybelse kennis maklik ’n prooi vir dwaling.
Hoe groei ons in geestelike onderskeiding?
Om die Here met ons hele verstand lief te hê, beteken dat ons Hom moet ken. En ons leer Hom ken deur sy Woord.
Dit beteken dat ons besig moet wees met die Bybel deur:
- persoonlike stiltetyd,
- Bybelstudie,
- getroue eredienste,
- Skrifgetroue prediking.
Ons moet groei in kennis van God, sodat ons nie sommer enigiets glo wat iemand vir ons oor die Bybel of geloof sê nie.
Toets alles aan God se Woord
In Handelinge 17:11 lees ons van die gelowiges in Berea. Nadat Paulus en Silas gepreek het, het hulle die Skrifte ondersoek om te sien of dit wat verkondig word werklik waar is.
Dieselfde opdrag hoor ons in 1 Johannes 4:1:
Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is…
Geestelike naïwiteit is die gebrek aan onderskeidingsvermoë.
Daar word vandag baie oor die Bybel gesê – op sosiale media, in video’s, in boeke, en selfs in kerke. Daarom moet ons leer om te toets.
Om te toets beteken nie om agterdogtig of hardkoppig te wees nie. Dit beteken om nederig onder God se Woord te buig.
Ware geloof begin by vaste kennis
Ons bely in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 7, dat ware geloof ’n vaste kennis is. Daardie vaste kennis lei tot vaste vertroue.
Laat ons daarom nie geestelik naïef wees nie, maar groei in kennis van God se Woord, sodat ons kan onderskei tussen waarheid en dwaling – tot eer van die Here.
Lees meer oor geestelike naïwiteit en Hosea 7:11. Kry ook 6 maniere om geestelike naïwiteit te vermy!
