Wanneer die Here gee, moet ons bymekaarmaak en opberg
deur ds. Danie Snyman
Spreuke is ’n boek met praktiese raad vir ons alledaagse lewe. Hierdie verse gaan in die eerste plek oor stoflike dinge : oor ons gewone werk waarmee ons, ons gewone brood verdien. Dié verse waarsku ons teen luiheid en spoor ons aan om hard te werk solank ons kan en om so te spaar vir die jare waarin ons, byvoorbeeld as gevolg van ouderdom, nie meer kan werk nie.
Maar as ons hard moet werk in die oestyd en voorraad moet bymekaarmaak en opberg in stoflike dinge, hoeveel te meer moet ons dit dan nie doen in geestelike dinge nie! Die belangrikste in ons lewens – so leer die Woord ons – is nie die stoflike nie, maar die geestelike! Jesus leer ons “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid…”. Daarom is dit wat die Here ons hier in Spreuke van die stoflike leer, eintlik nóg belangriker vir ons geestelike lewe. Het jý genoeg van die geestelike kos wat die Heilige Gees in die Bybel vir ons gee opgegaar?
Wat leer ons in Spreuke 6:6-8?
Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom. Hy het nie ’n leier nie, nie ’n opsigter of ’n regeerder nie, tog maak hy sy kosvoorraad reg in die somer, versamel hy sy voedsel in die oestyd.
Die Here verwys ons vir die les, wat Hy hier besig is om ons te leer, na die miere. Wanneer daar kos beskikbaar is, werk die miere amper sonder ophou om voorraad op te bou vir die tye wanneer daar nie kos beskikbaar is nie. Dit doen hulle sonder dat iemand hulle hoef te dryf om dit te doen. Hulle weet van nature, instinktief, dat dit moet gebeur. Hier is kortliks wat ons uit hierdie verse leer:
- God gee ’n somer waarin kos beskikbaar is, ’n tyd wanneer daar ’n oes op die lande staan. Dit alles kom van die Here af.
- Wanneer die oes gereed is, moet daar hard gewerk word om die oes in te samel, sodat ’n mens voorraad kan hê vir die tye wat voorlê.
- Kos gaan nie altyd beskikbaar wees nie. Dit is nie permanent oestyd nie, en daarom gaan daar tye wees wat jy op die voorraad wat weggebêre is moet leef.
Dis dan die oproep wat die Heilige Gees ons deur hierdie verse laat hoor: Wanneer God die oestyd gee, moet ons hard werk en wegsit sodat ons nie in ander tye gebrek sal ly nie.
Hoe kan ons hierdie verse op geestelike sake toepas?
As ons na die geestelike kant kyk is daar ook tye en geleenthede waar ons die oes wat die Here gee van die lande kan afhaal. Dink nou aan wat die “oes” is wat die Here gee en hoe jy dit kan afhaal van die lande.
Wat is hierdie geestelike oes?
Ons het die dood-slaap van die sonde geslaap, maar Jesus Christus het in ons plek die straf van God op ons sondes vir ons gedra, veral daar aan die kruis. Deur sy dood vir ons en sy oorwinning oor die dood, deurdat Hy op die derde dag lewendig uit die graf uitgekom het, is daar nou vir ons ’n oes van God se genade op die lande. Vir elkeen wat deur die Heilige Gees tot geloof in Hom gebring is, is daar nou die oes van ’n nuwe lewe met God, wat nou al begin en tot in ewigheid aanhou. Die ryp korrels van hierdie oes – wat hierdie nuwe lewe inhou – is beskrywe in al die verse en hoofstukke van al die geskrifte wat deur die Heilige Gees geïnspireer is en wat ons as die Bybel het. Alles wat Jesus vir ons gedoen het, word in die Woord beskryf. Vir elke Christen is dit belangrik om die Woord van God te leer ken. Dit is al manier hoe ’n Christen kan leer wat God van jou verwag.
Wanneer en hoe kan ons die geestelike oes afhaal?
- Jare waarin ons nog die gesondheid het (byvoorbeeld ons oë, ons verstand, ons geheue) om die Bybel te kan lees en dit te kan inneem en in ons geheue te kan wegsit;
- Jare waarin ons deel kan wees van ’n gemeente en nog die geleentheid het om aktief te kan deelneem aan Bybelstudie en aan ander toerustingsgeleenthede;
- Rusdae (Sondae) waarop die gemeente kan saamkom om te aanbid en waar daar onder andere die verklaring en toepassing van God se Woord beskikbaaris;
- Jare waarin ons as gesin saam huisgodsdiens kan doen.
Ons moet hard werk om hierdie geestelike oes van die lande af te haal, want daar kom tye en omstandighede waarin mense dit nie van die lande kan gaan afhaal nie. Dink nou aan mense wat siek is, bejaard is, of wat deur versoeking en beproewing oorval word. Sulke mense moet leef van die voorrade in hulle spense! Dink selfs verder aan klein plekkies waar gemeentes ontbind, en die gereelde prediking van die Woord nie meer gebeur nie, of lande waar daar vervolging is, of burgeroorloë wat eredienste en Bybelstudie-samekomste onmoontlik maak.
Dís wat die Here ons deur die miertjies leer: Wanneer Hy gee, ook in geestelike dinge, moet ons hard werk om te oes en te spaar vir die dae wanneer daar niks op die lande is nie.