Wat beteken sola Scriptura vir ons?

Een van die vyf Skrifbeginsels wat tydens die Reformasie ontstaan het is sola Scriptura. Hier is wat die Bybel, as enigste waarheid, in ons daaglikse bestaan vir ons beteken.

deur ds. Werner Brotherton

In Johannes 18:38 sê Pilatus vir ons Here Jesus Christus: “Wat is waarheid?” Dit is ʼn vraag wat baie mense oor wonder. So baie dinge word vandag as die waarheid voorgehou. In die skole leer ons dat alle gelowe gelyk is. Ons wet op godsdiensvryheid het ook hierdie gedagte. Wat is waarheid?


Die Bybel is waarheid

500 jaar gelede het die Roomse kerk die mense laat glo dat die Pous se woorde die waarheid is. Dit is gelyk aan die Bybel gestel. Vandag nog dra die Pous se woord dieselfde gesag in die Roomse kerk. Die postmodernisme leer ons vandag dat daar nie iets is soos ’n absolute waarheid nie. Ons antwoord as gelowiges? Die Bybel is waarheid!


Net die Bybel

Uit die Reformasie-tydperk het daar vyf wonderlike Skrifbeginsels ontstaan:
1. Sola fide = nét uit die geloof
2. Sola gratia = alleen deur genade
3. Sola Scriptura = nét die Bybel
4. Solus Christus = nét Christus
5. Soli Deo gloria = aan God alleen die eer
As ons praat oor die Bybel wat die waarheid is, is sola Scriptura van groot belang. Dit is ’n Latynse frase wat deur die Woord alleen beteken. Alleen deur die Bybel is waarheid. Christus is die Weg en die Waarheid. Daar is nie ʼn ander waarheid tot die ewige lewe buite Christus nie.


Een absolute waarheid

Om te sê dat daar geen absolute waarheid is nie is ’n drogredenasie op sy eie. Is dit ’n absolute waarheid om te sê daar is geen absolute waarheid nie?
Wanneer ons sê dat daar nie ’n absolute waarheid is nie beteken dit dat elkeen sy eie waarheid het. Ek kan glo dat Piet by die huis is. Jy glo Piet is in die winkel en Koos glo Piet is op die maan. Wie is reg? Daar kan tog net een waarheid wees. Elkeen kan nie sy eie waarheid wees nie.
Ons het egter hierdie wonderlike, troosvolle, sekere belydenis wat ons kan maak. Wanneer so baie mense wonder en stry oor wat waarheid is het ons as gelowiges ’n belydenis: Sola Scriptura!


Wat die Bybel is


1. Die Bybel is genoeg

Die Bybel is genoeg vir my om te leer van my diepe ellende. Wanneer ek al die gebrokenheid in die wêreld sien, al die seer, al die siekte leer die Bybel my waar dit alles vandaan kom: Die sondeval. Wanneer ek na my eie lewe kyk en die Bybel lees besef ek elke dag hoe sondig ek is. Daarvoor is die Bybel genoeg. Uit dieselfde Bybel word ek bang wanneer ek al my sonde sien. Hoe nou? Wat nou? Ek het werklik ʼn Verlosser nodig! Hiervoor is die Bybel ook genoeg. Die Bybel wys ons deur die werk van die Heilige Gees na ons Verlosser. Die Seun van God wat kom hang het aan die kruis. Hy het my kom verlos van straf op die sonde. Hy het dit op Hom geneem en daarna uitgeroep: Dit is volbring. Ons kan ook sê: Dit is genoeg!


2. Die Bybel is duidelik

Die Bybel is duidelik. Selfs kindertjies verstaan wat die Bybel sê, natuurlik tot die mate van hulle vermoë. Hoe dien ek die Here? Die Bybel is duidelik daaroor. Wat is die waarheid? Die Bybel is duidelik daaroor. Deur die verligtende werk van die Heilige Gees gaan die Bybel vir ons oop en word dit baie duidelik.


3. Die Bybel is heilig

Die Bybel is heilig omdat die Here heilig is. Die woord heilig beteken om afgesonder te wees. Dit beteken om eenkant te wees, nie soos die res nie. In ’n wêreld vol stemme, stemme wat kamoefleer as die waarheid, is daar net een heilige waarheid: Sola Scriptura.


4. Die Bybel is onfeilbaar

Die Bybel is onfeilbaar. Dit beteken nie die Bybel is foutloos nie. Die Bybel is deur die Heilig Gees geïnspireer, maar tog deur mense geskryf. Die Bybel is oorgeskryf deur mense en vertaal deur mense. Dit beteken daar kan klein skryffoute wees. Tog bly die Bybel onfeilbaar. Dit beteken dat die boodskap nie verlore gaan nie. Dit maak die Bybel nie onwaar nie. Dit maak die Bybel nie maar ʼn waarheid tussen ’n klomp ander waarhede nie.


Wanneer jy weer gekonfronteer word met die vraag wat waarheid is, het jy nou ’n antwoord: Sola Scriptura; die Bybel alleen!

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui