Só het die gee van ’n tiende begin

Weet jy hoe die tiende ontstaan het? Leer meer oor tiendes en dankoffers in die Ou en Nuwe Testament en kry riglyne vir hoe jy vandag moet gee.

deur ds. Ruan Steyn

Wanneer ons oor tiendes of dankoffers praat, is daar een beginsel wat ons altyd moet onthou: al my geld en al my besittings is gawes uit die hand van die Here. Dawid getuig daarvan wanneer hy sê: “Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het” (1 Kronieke 29:14b) en “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here” (Psalm 24:1). Ons is slegs rentmeesters (bestuurders) van God se geld en sy besittings.


Die oorsprong van tiendes

Die konsep van offergawes kom reeds in Genesis 4 na vore. Kain en Abel het offers aan die Here gebring. Die Here het Abel se offer aanvaar, maar Hy het Kain se offer verwerp. Ons kan aanneem dat Abel offers aan die Here gebring het as deel van sy dankbaarheidslewe.

Die eerste keer waar die woord “tiendes” na vore kom, is in Genesis 14:20b waar Abram (voordat hy Abraham geword het) ’n tiende van al sy besittings vir Melgisedek gegee het. Jakob maak in Genesis 28:20-22 die belofte dat wanneer die Here hom beskerm, hy ’n tiende van al sy besittings vir die Here sal gee.

Dit is interessant dat daar nie in Genesis ’n opdrag is om tiendes vir die Here te gee nie. Ons kan die afleiding maak dat Abram en Jakob van harte hul tiendes gegee het. Eers nadat die Here sy Wet aan Moses en die volk gegee het, het die gee van tiendes ’n vereiste geword. In verskeie tekste is dit duidelik dat die gee van tiendes nie ’n vrywillige saak was nie, maar ’n duidelike opdrag wat in die wet gestipuleer word (Levitikus 27; Deuteronomium 12; Maleagi 3).


Tiendes in die Ou Testament

Daar is verskillende tekste wat in detail die omvang van tiendes bespreek. Ons lees onder andere in Deuteronomium 14 dat die volk aan die einde van elke drie jaar hul tiendes by die stadspoort moet plaas. Die Here lei en beveel die volk om vir die Leviete (wat nie ’n erfdeel van hul eie gehad het nie), die armes en die weduwees en weeskinders te versorg deur die gee van tiendes. Dit is belangrik om te observeer dat die gee van tiendes in verhouding gebring word met die onderhoud van die Leviete en priesters wat in God se diens gestaan het, asook die onderhouding van die tabernakel (vergelyk Levitikus 27:30-33; Numeri 18:21-31; Deuteronomium 12:5-18).

Die Israeliete was verder verplig om ’n tiende van hul jaarlikse opbrengs vir die Here te gee (Levitikus 27:30). Indien hulle eerder ’n geldwaarde wou gee deur die opbrengs terug te koop, moes hulle ’n ekstra twintig persent betaal het. Hulle moes ook ’n tiende van hul beeste en kleinvee vir die Here gegee het. Wanneer die diere getel is, het hulle die tiende dier wat uit die kraal gekom het, vir die Here gegee. Die gee van tiendes was ’n teken van die volk se dankbaarheid teenoor die Here.

Die Here het die volk gestraf indien hulle ongehoorsaam was met die gee van hul tiendes. In Maleagi 3 kondig die Here sy oordeel oor die volk aan, aangesien hul ongehoorsaam was en versuim het om tiendes vir Hom te gee. Die Here belowe egter seën indien die volk gehoorsaam en getrou is: “Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets my daarin of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloed seën oor julle sal uitstort nie” (Maleagi 3:10 – 2020-vertaling).


Tiendes in die Nuwe Testament

Jesus sê in Matteus 5:17 “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet en die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul” (2020-vertaling). Beteken dit dat tiendes steeds ’n opdrag vir die Nuwe Testamentiese kerk is? Ja, maar die omvang tussen die gee van tiendes en dankoffers verskil tot ’n mate. Die Ou Testamentiese beginsel vereis dat ’n letterlike tiende aan die Here geoffer moet word. Die Nuwe Testamentiese beginsel vereis nie ’n spesifieke hoeveelheid nie, maar vereis ’n regte gesindheid waarmee ’n dankoffer gebring word. Of ’n persoon ’n tiende van sy inkomste vir die Here offer, en of ’n persoon slegs ’n vyfde offer, dit gaan oor ons gesindheid en dankbaarheid.


Beginsels vir die gee van tiendes of dankoffers

  • Gelowiges kan nie God en Mammon dien nie (Matteus 6:24).
    As gelowiges moet ons besef dat ons net rentmeesters van die Here se geld is. Ons kan nie geld ons afgod maak nie. Ons geld staan ook in diens van God.
  • Gelowiges gee met die regte gesindheid.
    Jesus spreek die skynheilige Fariseërs aan wat hul tiendes gee, maar geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid versuim (Matteus 23:23).
  • Gelowiges gee volgens hul vermoë.
    Paulus stel die beginsel duidelik: “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan. Hy verwag nie van hom wat hy nie het nie” (2 Korintiërs 8:12).
  • Gelowiges gee vrygewig en sonder dwang.
    Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7).
  • Gelowiges gee uit dankbaarheid.
    Ons dankoffers aan die Here is ’n teken van ons dankbaarheid. Ons is dankbaar vir die Here se daaglikse versorging asook ons verlossing deur Jesus Christus.
  • Gelowiges offer nie net hul geld nie, maar hulleself.
    Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen” (Romeine12:1).

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui