Die wonderwerk van God se Woord

deur ds. Janré van Jaarsveld
Wanneer mens die Bybel lees kom ons baie gou onder die indruk dat God almagtig is en dat Hy in beheer is van sy skepping. God wys veral sy almag en heerskappy in die wonderwerke en wonders wat vanuit sy Hand kom. Die Bybel gebruik verskillende woorde om wonderwerke en wonders aan te dui. Die evangelies gebruik veral twee woorde om die wonders van Jesus aan te dui. Matteus, Markus en Lukas praat van “kragtige dade” of “wonderdade”. Die Evangelie volgens Johannes noem die wonders “tekens”. ’n Teken wys na iets anders wat baie groter en belangriker is, soos God se grootheid en sy almag.
Wonderwerke in die Ou Testament
As ons aan wonderwerke dink, dink ons dadelik aan Jesus se aardse bediening en die wonders wat Hy gedoen het, maar dit is nie al nie. Selfs in die Ou Testament kom daar baie wonderwerke en wondertekens voor. Die skepping (Genesis 1 en 2) kan seker beskou word as die eerste wonder: God spreek en daar is lewe! Die Sondvloed (Genesis 6 en 7) kan mens egter ook beskou as ’n wonder. Alhoewel dit ’n vernietigende wonder was, bly dit ’n wonder. Daar sien ons hoe God meester van die natuur en sy skepping is. Ons kan ook bepaalde tye merk waarin ’n groot hoeveelheid wonders na vore kom. Ons kan sommer dadelik dink aan die tien plae (Eksodus 7), Moses se staf wat in ’n slang verander het (Eksodus 4) en die volk Israel se uittog uit Egipte toe die Here ’n pad deur die rooi see gemaak het (Eksodus 14). Daar sien ons hoe die Here vir sy volk gesorg het toe hulle in die woestyn rondgetrek het, op pad na die beloofde land Kanaän toe. Dink aan die manna (Eksodus 16) en die kwartels (Numeri 11) wat Hy gegee het om sy volk te versorg en dink aan die water uit die rots (Numeri 20) om sy volk se dors te les. God is so groot en goed en Hy wys en bevestig dit ook deur sy wonderdade.
Ons sien ook baie wonderwerke as ons kyk na die bediening van Elia en Elisa. Gaan lees maar gerus deur 1 en 2 Konings om meer te leer oor die wonderwerke wat die Here deur Elia en Elisa gedoen het. Daar is ook wonderwerke in die boek Daniël. Meeste Christene is goed bekend met die verhaal van Daniël en die leeukuil (Daniël 6) en hoe die Here hom uit die leeukuil gered het. Ons lees ook in Daniël van sy drie vriende : Sadrag, Mesag en Abednego wat deur die Keiser in ’n vuuroond gegooi is (Daniël 3). Hulle al drie het niks oorgekom nie. Kyk net hoe groot is die Here! Ons lees selfs ook van wonderwerke in die bediening van Jesaja.
Daar is baie wonders in die Ou Testament en daar is net te veel om in hierdie artikel te noem. Ons leer egter vanuit die wonders van die Ou Testament dat geen wonder onder die mense verrig word nie, behalwe wanneer dit dien om die Woord en Verbondsbeloftes van God te bevestig of wanneer dit vir die vooruitgang van sy ryk nodig is. God doen juis wonders om sy heerlikheid, almag en sy majesteit te laat skitter!
Die Seun word Mens
Die sentrale wonderwerk van die Bybel is volgens my die vleeswording van die Woord (1 Timoteus 3:16) toe ons Here Jesus Christus vir ons gestuur is. Jesus het baie groot en kragtige wonderwerke op aarde gedoen — gaan lees gerus die Evangelies. Jesus het blindes laat sien (Markus 10), dowes laat hoor (Markus 7), verlamdes laat loop (Matteus 9) en siekes genees (Matteus 8). Hy het selfs mense uit die dood laat opstaan … dink maar net aan Lasarus. Jesus het ook in Lukas 8 gewys hoe hy absoluut meester van die skepping is toe Hy selfs die golwe, wind en storms in bedaring gebring het.
Ons kan nou duidelik sien en aflei dat die Bybel regdeur van die Ou Testament tot die Nuwe Testament vol wonderwerke is. Daar is egter ’n paar dinge wat ons moet onthou. God doen wonders om sy barmhartigheid, liefde, almag en majesteit bekend te maak. Hy wys hoe groot Hy is. Wonderwerke het nie die doel om geloof in dié wat wonderwerke ontvang en beleef het te kweek en te wek nie, maar dit het die doel om geloof (wat God gee) te versterk en te laat groei! Deur wonderwerke word mense met diepe ontsag en eerbied vir God vervul.
Dit is wonderlik dat ons vandag uit die Here se Woord uit kan lees en veral van hierdie wonderwerke kan lees en kan weet dit is nie net ’n mooi storie nie, maar dat dit regtig gebeur het. Wonderwerke is feite. Wanneer jy die Bybel lees en oor die wonderwerke lees, bid ek dat jy ook met ’n diepe ontsag vervul sal word van hoe groot God is. Dieselfde God wat wonderwerke doen, is ook jou God en Hy is by jou tot en met lengte van dae en Hy gee vir ons sy Woord, sodat ons Hom kan leer ken en leer om op Hom te vertrou. Wat ’n wonderwerk!