Oorwin jou vrees om te evangeliseer

Evangelisasie is ’n opdrag; ons mag dit nie vermy nie. Lees hier hoe jy jou vrees om te evangeliseer kan oorkom.

deur ds. Janré van Jaarsveld

Om voor ander mense te praat is baie mense se grootste vrees. Ek kan ook onthou hoe bang my medeklasmaats in die hoërskool was wanneer dit redenaars of debattyd was. Dit is daarom geen verrassing dat baie Christene ook die vrees het om die evangelie te verkondig nie, want baie Christene is ook bang om voor mense te praat of om ’n gesprek oor geloof met vreemdelinge aan te knoop.

Hierdie vrees om die evangelie te verkondig verskil van mens tot mens. Party Christene voel dat hulle nie die Bybel so goed ken om met iemand oor die Here te praat nie. Ander mense voel nou weer dat hulle as gevolg van sonde nie so goeie voorbeeld kan stel en met oortuiging met ’n ongelowige in gesprek kan tree nie.

Die grootste vrees of probleem wat Christene het om die evangelie te verkondig is egter die reaksie wat ongelowiges op die evangelie sou hê, reaksies soos woede, verwerping, haatspraak of dalk fisiese geweld. Dit is algemeen bekend dat straatpredikers baie teenkanting kry en mense raak ook met hulle handgemeen. Geen wonder Christene het ’n vrees om die evangelie te verkondig nie, want mens is bang vir wat mense sou sê, dink of doen.


Evangelisasie is ’n roeping en ’n opdrag

Ons as kinders van die Here moet onthou dat ons elkeen ’n roeping in hierdie wêreld het en hierdie roeping word baie mooi in Matteus 28:18–20 saamgevat. Die Here het hierdie groot sendingopdrag vir al sy volgelinge gegee, nie net vir ’n paar uitgesoektes soos die Apostels of manne soos Billy Graham en Angus Buchan nie. God roep elkeen van ons, vir jou en vir my, om die goeie nuus van Jesus Christus te verkondig. Hy roep ons om ander mense te vertel van ons sonde voor die Here, die offer van Jesus Christus aan die kruis en hoe Hy alleen ons Verlosser en Saligmaker is. God roep ons om aan ander mense te verkondig dat hulle tot bekering moet kom en hulle vertroue in Jesus Christus moet plaas en in Hom moet glo. Dit sluit aan by wat ons in 2 Petrus 3:9 lees:

Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

Dit is dus baie helder en duidelik dat God elke Christen en ook vir jou en vir my roep om die evangelie te verkondig, maar hoe kan ons hierdie vrees om die evangelie te verkondig oorwin? Wat kan ons doen, sodat ons met oortuiging en vreesloos ons monde kan oopmaak en die Evangelie van Jesus Christus verkondig?


4 beginsels om die vrees vir evangelisasie te oorwin

1. Weet waar jou vrees vandaan kom

Wanneer dit kom by die evangelie moet ons weet dat vrees nie van die Here af kom nie. Dit sluit aan by wat ons in 2 Timoteus 1:7 lees:

Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

Daar is baie geleenthede wat die Here oor ons pad bring om die evangelie te verkondig, maar baie keer is ons skaam of bang. So wanneer ons voel ons wil vlug om die evangelie te verkondig moet ons nie, want die Here gee ons die krag om sy Naam te verkondig.

Vrees is een van die baie taktieke wat die satan gebruik om ons te laat swyg oor die goeie nuus van Jesus Christus. Dit is sy grootste begeerte dat almal moet vergaan en dat niemand hulle moet bekeer nie. So laat ons raaksien dat vrees van die vyand af kom. Laat ons as Christene nooit vir die satan die plesier gee deur ons te laat stil maak vir die evangelie nie.

2. Vertrou op die Here

Ja, die satan het mag, maar sy mag is beperk. Die satan is ’n skepsel en ’n gevalle engel (sien Jesaja 14 en Esegiël 28). Wat ons wel aan moet vashou is in die wete dat die satan nie alwetend is nie. Hy is nie alomteenwoordig nie en hy is nie almagtig nie. Net God is. God is alomteenwoordig, alwetend, alwys en almagtig.

So prys die Here dat Hy oneindig meer mag het as die satan en die Here woon ook in ons deur sy Gees. Hy is elke oomblik van elke dag by jou. Hy sal jou nooit in die steek laat nie en jou nooit alleen laat nie. Vertrou dan die Here dat Hy in beheer is en almagtig is. Vra die Here dat Hy jou die krag sal gee en jou sal toerus om sy evangelie te verkondig aan almal wie Hy oor jou lewenspad stuur.

3. Ken die Woord van die Here

Die eerste keer as mens ’n motor bestuur is dit baie erg en vreeslik, maar hoe meer mens bestuur en oefen, hoe meer word dit later ’n tweede natuur. Om die Here se Woord te ken en om die Here te vertrou is die entstof om ons vrees te oorwin. Ons lees so mooi in Hebreërs 4:12

Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Soos ons saam met die Here in sy Woord wandel, leer ons presies wie die Here is en wat Hy doen. Ons leer van sy grootheid en sy almag. Ons leer van sy genade en sy barmhartigheid. Soos wat ons die Here se woord inneem word ons ook daarmee vertroud en ons word daarvan vol. Hoe meer van die waarheid ons in ons harte koester, hoe meer waarheid kan ons ook in die harte van ander gaan saai. Prakties moet ons dan die volgende doen:

  • Lees gereeld jou Bybel en maak tyd vir die Here, al is dit net vir 10 tot 15 minute ’n dag.
  • Doen persoonlike Bybelstudie en hou ook Bybelstudie saam met ander gelowiges, sodat jy ook meer kan verstaan wat die Bybel leer en wat die Here van jou as sy dienskneg verwag.
  • Leer en memoriseer die Bybel. Maak seker dat jy ’n paar Bybelverse uit jou hart uit ken. Verse soos Johannes 3:16, Psalm 23 en Efesiërs 2:8-10. Memoriseer daardie verse, sodat die Heilige Gees jou daaraan kan herinner wanneer jy die geleentheid kry om die evangelie te verkondig. 

4. Deel jou passie vir Jesus Christus

Baie mense gebruik die verskoning deur aan te voer dat hulle te skaam is of nie die gawes het om die evangelie te verkondig nie. Dit is altyd verstommend hoe selfs skaam mense en introverte kan praat oor die dinge waarvan hulle hou en waarvoor hulle ’n passie het. Mense praat met groot opgewondenheid en passie oor hul gunsteling films en reekse asook oor die rugby en oor die nuus.

Laat ons liefde vir die Here ons harte aan die brand steek. Jesus Christus is ’n skat wat baie groter is as enige sport of nuus of film of reeks of stokperdjie. Laat die glorie van Jesus Christus jou oorweldig dat jy ’n passie vir die Woord en vir die evangelie sal hê. Soos ons in verwondering staan oor die Here en vasgevang word deur sy heerskappy en glorie dan sal ons ook met oortuiging oor die Here praat. Ons hoef nie die beste retoriese tegnieke te gebruik nie. Ons hoef nie fantastiese en uitstekende sprekers te wees nie, maar ons sal met oortuiging uit die hart praat. En – ons passie vir Christus sal harder praat as ons kennis en ons selfvertroue.


Ons mag nie evangelisasie vermy nie

Onthou, Jesus se groot opdrag (Matteus 28:18-20) is nie opsioneel nie. Dit is ’n opdrag! Evangelisasie is nie iets wat ons kan kies om te vermy nie. Dit is ’n opdrag van die Here, maar dit is ’n opdrag wat met ’n wonderlike belofte gepaard gaan: 

En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld. God gee vir ons die waarborg dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie en nooit alleen sal laat nie. Hy is altyd by jou, veral wanneer jy sy Woord aan verlore mense verkondig. So ons hoef nie bang te wees nie. Mag die Here jou gebruik om vreesloos sy Woord te verkondig en uit te leef.  


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui