God laat alles volgens sy tyd gebeur

Tyd, lewe en die ewigheid is waaroor die Prediker in hierdie deel geskryf het. Lees wat die Heilige Gees vir ons deur Prediker oor hierdie belangrike dinge sê.

deur ds Johan Nel

Wanneer ons oor tyd dink en praat, dink en praat ons oor iets wat God geskep het. God het dag en nag gemaak; Hy gee die vier seisoene. Dit beteken: God gee vir ons bepaalde tyd.

In Prediker 3:1-17 lees ons wat die Prediker oor tyd geskryf het, byvoorbeeld: Daar is ’n tyd om gebore te word, ’n tyd om te sterf (vers 2), ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag (vers 4), ’n tyd vir oorlog, ’n tyd vir vrede (vers 8).

Al hierdie dinge kom en gaan, oor en oor. Die Prediker het geskryf dat ons vasgevang is in hierdie sirkel van tyd. Hy het selfs sover gegaan as om te skryf dat alles in hierdie sirkel van die lewe tevergeefs is; of tot niks kom. Dit is so, wanneer mens net kyk na wat op aarde gebeur. Die Prediker skryf van die lewe onder die son of lewe in hierdie wêreld.

Alles wat in Prediker 3 staan, ken ons en het in ons leeftyd gebeur en gebeur steeds. As ons net na lewe hier op aarde gekyk het hoe tyd kom en gaan, het ons waarskynlik ook soos die Prediker daarby uitgekom dat alles tevergeefs is.


God is in beheer van tyd

Maar, ons het die Bybel, God se Woord. In sy Woord leer die Here ons dat dit Hy is wat tyd geskep het en vir elke ding ’n tyd gegee het. God het aan elkeen van ons binne die sirkel van dag en nag en seisoen na seisoen lewe gegee. Omdat God die tyd gemaak het en lewe aan ons gegee het, is alles nie tevergeefs nie. Inteendeel! God het tyd geskep en lewe geskep binne tyd met ’n bepaalde rede, ’n bepaalde doel en plan.


Elkeen van ons het ’n lewe om in tyd te leef

In sy ondersoek het die Prediker ’n ander belangrike waarheid in hierdie lewe raakgesien: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ’n bepaalde tyd” (Prediker 3:11). In Hebreeus staan daar in werklikheid: “God het elke ding mooi in sy tyd gemaak”. Alles gebeur nie net nie. God maak dat elke ding wat gebeur, in sy tyd wat Hy daarvoor gegee het, pas. Net so pas elke mens se lewe mooi in God se tyd.

Die lewe wat God gee, is ’n baie spesiale lewe. Om presies te weet wat hierdie spesiale lewe is, gaan ons na die Nuwe Testament toe. God het sy Seun gestuur om in die tyd op die aarde te kom lewe. Jesus het deur ’n almagtige wonder mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem en in ons plek voor die heilige God, sy Vader met ons sonde op Hom gestaan. God het ons straf en die oordeel oor sy Seun, laat kom. Jesus het baie swaar gely en ’n baie wrede dood gesterf — alles vir ons.

Deur so vir ons te sterf, het Jesus ons skuld voor God betaal, ons van die mag wat sonde oor ons gehad het verlos en ons van straf en oordeel gered. Deur Jesus se dood aan die kruis het ons verlossing van sonde, vergifnis vir sonde en vryspraak van alle straf en oordeel by God gekry. Jesus het ook vir ons uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy vir ons nuwe lewe, lewe met God, die ewige lewe gegee.

Ons kan sê: Deur Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, het ons verloste nuwe mense geword. Dit is die lewe wat God vir ons gee in die tyd: Lewe as verloste nuwe mense.

Gebruik jou tyd om soos ’n verloste nuwe mens te leef

God verwag dat ons elkeen die lewe van ’n verloste nuwe mens sal leef. Dit is baie keer nie maklik om so te leef nie. Daar is baie wat ons liggaamlik en geestelik seer wil maak. Die duiwel met sy boosheid, die wêreldgees met sy losbandigheid en verleidelikheid en ons eie sondigheid is ons geestelike vyande. Ons vyande gebruik enigiets wat hulle kan kry om ons leed aan te doen, sodat ons moedeloos word, ongelukkig word, opstandig word, begin twyfel en selfs kleingelowig word. Hierdie dinge kan in ’n gelowige se lewe gebeur.

Juis om hierdie rede het God die Vader en Jesus sy Seun die Heilige Gees gestuur. Die Heilige Gees is ons Trooster, ons Helper. Hy het gekom om ewig by ons te wees en in ons te bly. Die Heilige Gees in my gee vir my die sekerheid dat ek ’n verloste nuwe mens is. Hy gee vir my die krag om as verloste nuwe mens te leef.


God stuur alles af op die ewigheid wat Hy bepaal het

God het ook vir elke mens “’n besef gegee van die onbepaalde tyd”(Prediker 3:11) gegee. In hierdie vers leer die Here ons hoe om as verloste nuwe mense te leef. Die Here wil dat ons met die besef van die onbepaalde tyd, die ewigheid, sal leef. Hy leer ons en Hy help ons deur sy Woord, en sy Heilige Gees.

Daar is soveel in die Bybel hieroor. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • Wanneer ek swaar kry (2 Korintiërs 4:16,17)
    “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en ewig sal bly.”
  • Wanneer ek met bekommernis leef (Filippense 4:6,7)
    “Wees oor niks besorg nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”
  • Wanneer ek sukkel met my sondigheid (Romeine 7:19,24,25)
    “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek….Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.”
  • Wanneer die lewe op aarde te belangrik word (Kolossense 3:1)
    “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is,waar Hy aan die regterhand van God sit.”
  • Oor die ewigheid in die hemel (Filippense 3:14)
    “Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal, waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Wat leer ons van hoe ons moet lewe?

Hierdie is net ’n paar verse in die Nuwe Testament waar God ons leer hoe om as verloste nuwe mense onder die omstandighede wat ons hier op aarde raakloop, te leef. Die hele Bybel is vol sulke kosbare verse. Die belangrikste wat ons in hierdie verse leer is: Leef onder elke omstandighede met opregte geloof naby die Here Jesus. Naby Jesus ons Verlosser, by Hom is daar lewe, ware lewe, nou hier op aarde, maar veral in die hemel.

Wanneer ons hierdie lewe leef, sal ons gereed wees om Jesus te ontmoet, om Hom te sien en te hoor. Ook daardie dag is ’n dag wat God bepaal het. God stuur alles af op daardie dag.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui