Vra die Here vir ’n luisterende hart
Ons lees in 1 Konings van Salomo wat die Here vra vir ’n hart wat luister. Wat beteken dit, en hoekom moet ons ook daarvoor vra?

deur ds Philip Wepener
Luister is ’n vaardigheid wat by meeste van ons ontbreek. Ons skakel maklik af as ons nie met iemand saamstem nie, of as die gesprek of onderwerp ons nie interesseer nie. Soms het ons ook die slegte gewoonte om ander in die rede te val of om ons aandag op ander dinge te plaas, terwyl iemand besig is om met ons praat. Indien dit by ons die geval is, moet ons doelbewus besluit om dit af te leer. Want as ons begin leer om te luister, sal ons reg begin praat én doen.
Koning Salomo is ’n goeie voorbeeld van iemand wat wou leer om te luister. In 1 Konings 3:9 vra hy biddend die Here in ’n droom: “Gee dan aan u dienskneg ‘n hart wat luister”. Dit is opmerklik dat Salomo nie die woord wysheid gebruik nie. In 2 Kronieke 1:10-12 – ’n latere weergawe van die gebed – staan daar wel wysheid en oordeelsvermoë, maar dit is insiggewend om te let op die presiese woorde wat in vers 9 staan.
Salomo se nederige gesindheid
Kort nadat Salomo koning geword het, het die Here aan hom in ’n droom verskyn. Die Here was tevrede met Salomo se toegewydheid en baie offers. Daarom het Hy aan hom die geleentheid gegee om enigiets van Hom te vra.
Salomo het wel ’n versoek, maar voordat hy daarby uitkom, lees ons eers van sy nederige gesindheid voor die Here. In die oë van die Israeliete en ander volke is hy die koning van Israel, maar in sy eie oë sien hy homself as ’n dienskneg van die Here. Hy is nie koning omdat hy dit verdien het of omdat hy dit wou gehad het nie, maar slegs omdat die Here hom koning gemaak het.
Nederigheid is ’n mooi eienskap! So het dit Salomo daartoe gelei dat hy sy tekortkominge voor die Here erken. Een van daardie tekortkominge is wysheid, oftewel ’n hart wat luister.
Salomo vra ’n hart wat luister
Salomo het besef dat hy ’n reuse roeping het om te vervul. Hy moet as koning oor die volk van die Here regeer; ’n volk wat talryk is soos die sand wat langs die see is (1 Konings 4:20). Maar hy is nog bloedjonk en onervare. Daarom vra hy die Here iets nie om sy eie onthalwe nie, maar wat hy nodig het om die Here se volk te lei. Salomo bid: “Gee dan aan u dienskneg ’n hart wat luister.”
- In die Bybel is die hart meer as ’n lewende orgaan wat bloed regdeur die liggaam pomp. Die hart is die oorsprong vanwaar die mens se gedagtes, emosies, behoeftes en begeertes sowel slegte dinge gevorm word. Dit is die diepste kern van jou menswees; van wie jy is.
- Die werkwoord luister is ryk aan betekenis. Luister (Hebreeus: shama) kan ook vertaal word met hoor. Salomo vra nie vir hoë intelligensie nie, maar hy soek ’n hart wat oop en ontvanklik is om na die stem van die Here te wil luister én te doen. ’n Hart wat nie op eie begrip staatmaak nie, maar op die Here s’n.
Salomo gee ’n rede vir sy versoek
Salomo sê hy vra vir ’n hart wat luister: “Om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad” (1 Konings 3:9b). Hierdie woorde eggo Genesis 2:9, naamlik die boom van die kennis van goed en kwaad. Kortom: Salomo wil graag wysheid besit met een spesifieke doel voor oë: dit is om aan die Here gehoorsaam te wees.
Hoe mooi is dit! Salomo kon vir enige ander dinge soos voorspoed, vrede, of vir meer brandoffers en rykdom gevra het, maar hy vra die Here ’n hart wat na Hom wil luister wanneer Hy praat. Hoe wonderlik is dit vir ’n nederige koning om dit van die Here te vra. Hoe wonderlik sal dit wees as ons daagliks in nederigheid ook daarvoor bid.
Dit was nie net ’n droom nie
Die Here het Salomo se versoek toegestaan, want dit was goed in sy oë. Hy het vir hom ’n luisterende hart gegee, sodat hy wys en verstandig kon optree en regeer.
Die gedeelte van die twee prostitute met die een dooie en een lewende baba (1 Konings 3:16-28), so ook die wyse maniere waarop Salomo leiers gekies het (1 Konings 4), die bou en voltooiing van die tempel (1 Konings 5-6) en sy bevredigende antwoorde aan die koningin van Skeba (1 Konings 10), bevestig werklik dat dit nie net ’n droom was nie. Trouens, 1 Konings 4:29-34 beskryf deeglik die onskatbare wysheid waarmee die Here Salomo geseën het.
Die Here behaag om ’n luisterende hart te gee aan dié wat dit werklik soek!
Die Here se uitnodiging is nog steeds vandag vir almal oop: “Vra wat Ek vir jou moet gee” (1 Konings 3:5b). Wat is daar wat ons van die Here wil hê? Is daar enigiets op ons harte? Indien ons antwoord ook ’n luisterende hart is, is dit goed in die oë van die Here. Bowendien, na alles wat ons so ver gelees en gehoor het, wil ons nie anders as om ywerig daarna te soek nie. Ons is tog immers geskep om die Here ons God te eer en te gehoorsaam – veel meer as net om oor die aarde te heers.
Hoe bekom ons ’n luisterende hart oftewel wysheid?
1. Die begin van wysheid is ontsag (vrees) vir die HERE (Spreuke 9:11)
Salomo het sy liefde vir die Here bewys deur sy vaste voorskrifte te volg en aanneemlike offers op sy altaar te bring. Wysheid begin dus met ’n ware verhouding met die Here. Anders as Salomo hoef ons nie vir ’n droom of vir ’n wonderteken te wag om wysheid te bekom nie. Wysheid begin en neem toe waar ons daaglikse tyd met die Here spandeer – in ons kamer en in sy kerk.
2. Soek wysheid met gespitse ore (Spreuke 2:1-2; 4:20)
Luister is nie altyd maklik nie. Inteendeel, ons het verleer om dit te doen – veral in die kerk. Wysheid kom egter by wyse deur die aanhoor van die verkondiging van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is (Kolossense 2:3). Alle wysheid wat ons nodig het is in Christus, wat self die wysheid van God is (1 Korinthiërs 1:24). Ons moenie wysheid soek deur buite-Bybelse openbaringe of geheime boodskappe nie.
3. Die Bybel is God se wysheid in druk
Ons het vandag die volle kanon (boeke) van die Bybel wat Salomo gedeeltelik geskryf het. Ons het vandag ’n waardevolle Wysheidsgids om goeie besluite te neem en negatiewe dade te vermy. Dit beteken nie dat ons altyd almal gelukkig en tevrede sal maak nie, maar gehoorsaamheid aan die Here is ’n absolute vereiste.
4. Die Bybel leer ons om vir wysheid te bid
Jakobus 1:5 “As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” Kom ons neem die Here se aanbod aan en volhard daarin. Wysheid kom nie deur een vurige gebed of deur so af-en-toe gebede nie. ’n Wyse man en ’n wyse vrou sal sy of haar lewe lank aan gebed toewy.
5. Bly nederig!
Wanneer ons die Here vir wysheid vra en Hy ons daarmee seën, laat ons onthou om daagliks ons harte teen hoogmoed en trots te bewaar, want dit lei tot ondergang. Al word ons deur mense en leiers hoog geprys, laat ons aan die Here die erkenning en eer gee!