Mag ons saamwoon voor die huwelik?

Paartjies het baie verskonings soos die tendens om voor die huwelik saam te woon vermeerder. Lees hier wat die Bybel daaroor sê.

deur ds Ruan Steyn

Almal doen dit! Dit is koste-effektief. Ons toets die waters sodat ons nie later nodig het om te skei nie. Dit is net ’n stukkie papier wat betekenisloos is. Ons leef in 2025 — moenie so outydse siening oor saamwoon hê nie!

Dit is maar enkele verskonings wat ongetroude paartjies bied wanneer hulle oor saamwoon voor die huwelik gekonfronteer word.

Saamwoon is ’n hedendaagse tendens

Saamwoon voor die huwelik is wanneer ’n ongetroude paartjie saamwoon en al die voordele van ’n huwelik geniet (dit sluit ’n seksuele verhouding in). Soos die bekende gesegde dit stel: hy soek die melk, maar is nie bereid om vir die koei te betaal nie!

In die tyd waarin ons leef, is dit nie vreemd om iemand ’n paar maande of selfs weke te ken en dan by hom/haar in te trek nie. Die kultuur het saamwoon voor die huwelik normaal gemaak. Selfs toegewyde Christene is hieraan skuldig.

Die standaard waarvolgens ons lewe word egter nie deur die kultuur bepaal nie. Nee, God se Woord, is die maatstaf vir ons lewe. Wat sê die Here vir ons in sy Woord oor saamwoon voor die huwelik?

Meeste ongetroude paartjies sal tereg sê dat daar nie in die Woord ’n direkte vers is wat saambly verbied nie. Hulle is korrek, maar die Here leer wel vir ons belangrike lesse oor die huwelik en oor geslagsgemeenskap.

Voordat ons gaan sê waarom saamwoon verkeerd is, kom ons leer eers wat die Here vir ons oor die huwelik leer.


Die huwelik is deur God ingestel

Die huwelik is reeds in die tuin van Eden deur God ingestel:

Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word.

Genesis 2:24, 2020-vertaling

Aangesien die huwelik deur God ingestel is, bepaal God die volgorde waarin alles moet geskied.

Dit is interessant dat vers 24 noem dat ’n man sy vader en moeder verlaat en dan hom aan sy vrou verbind. Dit dui op die amptelike totstandkoming van die huwelik. Eers nadat dit plaasgevind het, het die man en vrou een vlees geword. Die uitdrukking dat hulle een vlees geword het, dui op die geslagsgemeenskap wat plaasgevind het. Die beginsel wat ons duidelik hier lees, is dat geslagsgemeenskap slegs binne die huwelik wettig is.

As geslagsgemeenskap eers plaasvind en dan word die huwelik amptelik tot stand gekom, is dit onwettig volgens die Woord van die Here.

Wanneer ons Deuteronomium 22 lees, sien ons hoe belangrik dit vir ’n vrou was om ’n maagd te wees ten tye van die huweliksinstelling. ’n Man wat ’n vrou op so ’n wyse onteer het deur buite die huwelik geslagsgemeenskap met haar te hê, is daarvoor gestraf.

In die Nuwe Testament sien ons ook duidelik die beginsel raak dat die huwelik eers gesluit moet word voordat daar geslagsgemeenskap kan plaasvind. Die woord wat vir losbandigheid/hoerery gebruik word, is porneia. Die woord dui op ’n klomp seksuele sondes. Porneia dui geslagsgemeenskap buite die huwelik aan (dit sluit voorhuwelikse geslagsgemeenskap in). Paulus rig ’n skerp waarskuwing oor mense wat hulle hieraan skuldig maak:

Laat julle nie mislei nie: geen hoereerders… sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.

1 Korintiërs 6:9-10

Is saamwoon voor die huwelik verkeerd?

Ja, die Woord is duidelik daaroor. Die huwelik is deur God ingestel en geslagsgemeenskap is ’n pragtige geskenk wat God aan ’n getroue man en vrou gegee het.

Wanneer ongetroude paartjies saamwoon en al die voordele van ’n huwelik geniet, misken hulle die doel van die huwelik en die doel van geslagsgemeenskap.

Die doel van die huwelik is om God te eer, om vir mekaar tot hulp te wees, om mekaar teen losbandigheid te beskerm, om vir mekaar tot vriend te wees en om kinders voort te bring. Die doel van geslagsgemeenskap is onder andere om intimiteit te bevorder. Let wel, die doel is meer as net intimiteit.

Mense wat voor die huwelik saamwoon, besef nie altyd die negatiewe en skadelike gevolge van voorhuwelikse geslagsgemeenskap nie. Die nadele handel oor die psigiese en geestelike welstand van die paartjie: vrees vir swangerskap, vrees dat jou maat jou gaan verlaat, onsekerheid, skuldgevoelens, afsnyding van familie en vriende wat daarteen gekant is.


Help! Ons is Christene en ons woon saam …

Daar is egter hoop. Die Here leer vir ons in sy Woord dat gelowiges wat oor hulle sonde berou het, nie verdoem is tot die ewige dood nie, maar dat daar vir hulle verlossing beskikbaar is. Daardie verlossing is alleen by Jesus Christus beskikbaar (vgl. Romeine 5:1-2, 18-19; Romeine 6:11, 22).

Gomer, die prostituut van Hosea, het ’n tweede kans gekry. Sowel die vrou wat met owerspel betrap is in Johannes 8. Die Here het ’n tweede kans vir Tamar, Ragab en die vrou van Urija gegee (elkeen in Jesus se geslagsregister opgeteken).

Die Here is genadig en daarom het Hy vir Jesus in ons plek gesterf. Beteken dit dat ons net kan voortgaan om in sonde voort te leef? Natuurlik nie! Wanneer ons oor ons sonde berou het, moet ons tot bekering kom – ons kan verander.

Praat gerus met jou ouderling of predikant. Vra vir jou ouers, familie en vriende om julle prakties te help. Beplan julle troudag. Tot julle nie getroud is nie, weerhou geslagsgemeenskap van mekaar — alles tot eer van die Here en tot opbouing van julle verhouding.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui