Wat beteken dit om 70×7 keer te vergewe?
Wanneer ons oor vergifnis praat moet ons met ons harte somme maak soos God ons leer, nie soos mense nie. Lees hier meer oor die somtotaal van vergifnis.
deur Anel Potgieter
Here, ek het so seer, ek is so stukkend. Hoe kan mense so wreed en genadeloos wees? Ek weet ek moet vergewe Here, maar ek kan nie. Ek wil nie…
Ons het almal al so gevoel – te nagekom en seergemaak. En saam met seer kom woede, selfs wraakgevoelens – ’n onreg is gepleeg, en ons was aan die ontvangkant daarvan. Dikwels laat dit ons beter voel as ons kwaad is, nog beter as ons voel dat ons woede geregverdig is, dat ek die reg het om kwaad en bitter te wees. Dit is ook wat die wêreld vir ons leer: ’n oog vir ’n oog, ’n tand vir ’n tand. In wêreldse wiskunde is versoening = vergelding.
In Matteus 18 verduidelik Jesus egter dat dit nie so moet wees nie – veral nie tussen gelowiges nie. Gelowiges is almal deel van God se huisgesin. Ongelukkig beteken gelowig nie sonder sonde nie, en daarom is dit onvermydelik dat gelowiges mekaar soms sal seermaak. Dikwels kan hulle van wie ons dit die minste verwag, ons die diepste verwond. In verse 15 tot 20 van hierdie hoofstuk verduidelik Jesus baie prakties hoe konflik tussen gelowiges opgelos moet word. Hier maak die wiskunde egter nie vir ons menslike verstand sin nie. Jesus leer ons: versoening = vergifnis.
Dis teen hierdie agtergrond dat Petrus in Matteus 18:21 dan vra maar hoeveel keer? Iewers moet ’n mens tog ’n streep trek!
Lees Matteus 18:1-35 vir meer agtergrond vir dié artikel.
Somme van die wêreld vs die koninkryk
Wat Petrus egter misgekyk het in sy berekeninge is dat “besigheid” in God se Koninkryk radikaal anders gedoen word as in die wêreld. Koninkryksrekenkunde sal enige ouditeur waarskynlik na sy asem laat snak, want vir God is die kleinste = belangrikste (verse 1-6). Vir God is geen tyd of moeite te veel wanneer daar na kinders en weerloses omgesien word nie (vers 10). Geen risiko is te groot om een enkele verlorene tot geloof te roep nie (verse 11-14), en geen koste moet ontsien word om die vrede in God se gemeente te herstel nie (verse 15-20).
Optelsomme van vergifnis
Vanuit Jesus se verduideliking verstaan Petrus dat hy moet vergewe, maar hoeveel keer? In sy kop maak hy sy eie somme deur die lering van die Joodse Rabbi’s waarmee hy groot geword het en Jesus se lering te probeer bymekaar tel. Die Rabbi’s het geleer dat jy iemand slegs drie maal hoef te vergewe. Petrus het nou al baie tyd saam met Jesus deurgebring, en daarom verstaan hy dat die evangelie wel meer van hom verwag. Vir hom het die Rabbi’s bloot ’n berekeningsfout gemaak, daarom verdubbel hy hulle getal en sit selfs so ’n ietsie by. Petrus se som: 3*2 + Jesus = 7.
Vergifnis vra wiskunde van die hart
Jesus wil ons egter juis leer om nie boek te hou van die kwaad nie. Hy is nie hier besig met ’n wiskundeles nie, maar eerder ’n genadeles. Hy antwoord: “sewentig maal sewe keer”. 70*7=490. Dis eintlik ’n eenvoudige berekening. Sommige van ons kan dit in ons koppe doen, maar Jesus leer ons hier om wiskunde met ons harte te doen. Dit gaan nie oor die werklike getal nie, maar oor die beginsel.
Wat Jesus eintlik wil hê ons moet doen is om die sakrekenaar weg te pak. Daar kan tog geen werklike vergifnis wees as die merkies op die muur aanhoudend meer word nie. Wanneer ons boek hou van die seer wat ons aangedoen word dan soek ons ’n geleentheid om te mag wegloop. Aan die ander kant, wie kan haatdraend bly as hy gedurig in die gewoonte is om te vergewe. Sewentigmaal sewe is die verskil tussen vergifnis en vergelding. 70*7 = (Vergifnis-Vergelding) = (Vergelding-Vergifnis)
Is daar dan geen punt waar vergifnis stop nie?
Is dit billik van God om te verwag dat ons oor en oor moet vergewe? Is daar dan regtig geen punt waar ons mag omdraai en wegstap nie?
Ons moet onthou dat hierdie spesifieke teks handel oor hoe ons konflik tussen gelowiges moet hanteer. Die doel van alles wat Jesus hier leer is dat gelowiges mekaar tot bekering roep, en om die eenheid in die gemeente van God te handhaaf. Dit beteken egter nie dat ons haatdraend teenoor ongelowiges wat ons te nakom mag wees nie. Die Bybel is baie duidelik dat ons ons vyande moet vergewe, seën en selfs vir hulle moet bid.
Dink aan jou eie skuld voor God
Wat Jesus ons wil leer oor vergifnis is om weg te kyk van die foute van ander en introspeksie te doen oor onsself. Dit is wanneer ons bewus word van ons eie menigvuldige skuld voor God, en wat Hy ons vergewe het, en steeds daagliks vergewe, dat vergifnis van ander se foute vir ons makliker word.
Jesus gebruik ’n gelykenis om ons aan ons eie skuld voor God te herinner (verse 22-35). Soos die onvergewensgesinde slaaf in die gelykenis is ons skuld teenoor God van so aard dat ons in dit in geen leeftyd kan terugbetaal nie. Ons sonde is so ontelbaar groot voor God, en tog in sy genade vergewe Hy dit.
Ons skuld voor God is nul
Jesus het aan die kruis vir al ons sonde betaal sodat ons skuld voor God nul is. Dis hemelse wiskunde, rekenkunde van die hart, nie iets wat ons kan begryp met ons verstand nie, maar as ons iets daarvan besef dan word die seer wat ons aangedoen word in hierdie lewe baie klein. Ons kan vergewe al is dit seer en moeilik. Ons het soveel meer ontvang as wat van ons gevra word om te gee.
Verstaan asseblief dat hierdie artikel nie wil betoog dat jy jouself in gevaar moet stel nie. Nêrens verwag die Bybel van jou om in omstandighede te bly waar jy gemolesteer, mishandel of verniel word nie. Vergifnis beteken nie dat jy willoos ’n slagoffer moet bly van ander se sondige optrede nie. As jy in sulke omstandighede verkeer soek asseblief hulp. Vergifnis in so ’n geval lyk radikaal anders.