’n Bekeerde boom dra gepaste vrug

Om die vrug van bekering te dra, beteken om elke dag te leef as iemand wat deur God se genade nuutgemaak is. Lees hier hoe die vrug van ’n ware bekering lyk.
deur ds Schalk Buys
Johannes die Doper het in die woestyn van Judea opgetree as die boodskapper wat die weg vir Christus voorberei. Sy oproep aan die mense is eenvoudig: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom,” (Matteus 3:2).
Johannes het mense gedoop as ’n teken van reiniging en nuwe begin – dit was ’n bekeringsdoop. ’n Doop wat gewys het dat een bekeer het van hul sondes. Hierdie doop moes egter nie stop by die doop self nie:
Dra dan vrugte wat by die bekering pas.
Matteus 3:8
In hierdie vers sien ons die verwagting dat die doop gepaard moes gaan met ’n drastiese verandering in die gedoopte se lewe. Dit het dus gegaan oor die persoon se hart. ’n Veranderde hart wat sigbaar word in een se vrug wat hulle lewer.
Hierdie het die leefwyse van die Fariseërs en Sadduseërs baie direk aangespreek. Hulle het aan die mense baie godsdienstig vertoon maar dit was nie werklik iets wat vanuit hul hart gekom het nie. Die oorsprong van hul vrug was dus verkeerd en daarom het hulle misvormde vrugte gebaar.
Bekering moet ’n omkeer van die hart wees
Johannes roep hierdeur die mense, veral die Fariseërs en Sadduseërs, tot bekering. Die Griekse woord vir bekering is metanoia, wat letterlik beteken “om van gedagte te verander.” Dit dra nie net die betekenis van spyt wees of om skuldig te voel nie. Dit wys op ’n totale omdraai van ons denke, ons harte en ons lewens.
Wanneer ’n persoon bekeer, draai hulle weg van die sonde en draai na God toe. Bekering is daarom ’n innerlike, persoonlike verandering wat nie anders kan as om sigbaar te word in ons uiterlike lewe nie.
Ons geloof en so ook ons bekering word sigbaar in ons dade – ons vrug. Dit word deur die Heilige Gees in ons bewerk. Ons vrug word gebaar en daarvolgens kan ons die nodige onderskeiding tref. Soos ’n boom se gesondheid aan sy vrugte gesien word, so word ware bekering sigbaar aan die dade, gesindheid en lewensstyl van die gelowige.
Wat beteken dit om die vrug van bekering te dra?
Die konsep van “Dra die vrug wat by die bekering pas” is nie net ’n innerlike bekering en ervaring nie. Dit behoort van nature uit te loop op sigbare tekens van een se bekering. Hierdie bekering lewer sigbare vrug. Hierdie vrug sluit dan in: Liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.
Die enigste manier hoe ons dan die vrug lewer is deur die werking van die Gees in ons. Dit is tog die vrug van die Gees waarvan ons in Galasiërs lees.
Daarom, omdat die bekering slegs moontlik is deur die werking van die Gees, is om vrug te dra slegs moontlik deur die werking van die Gees. Die Heilige Gees roep ons daarom tot gehoorsaamheid aan God se wil en wette. Hy roep ons tot toewyding aan die Here. Hy roep ons tot vrygewigheid, tot regverdigheid en tot medelye, om net ’n paar te noem.
Die gevaar van ’n skynbekering
Die Fariseërs en Sadduseërs het geglo dat hulle veiligheid by God gewaarborg is bloot omdat hulle afstam van Abraham. Johannes ontmasker egter hierdie selfversekerde denke: God kan selfs uit klippe vir Abraham kinders verwek.
Met ander woorde, jou herkoms of uiterlike merkers is nie ’n waarborg van geloof nie – net omdat jou oupa en pa ’n gelowige was verseker nie dat jy ’n ware gelowige is nie. Geloof, en daarmee saam die vrug van ons bekering, gaan oor innerlike bekering en die uiterlike produk daarvan wat dan die vrug is.
Dieselfde gevaar bestaan vandag. ’n Mens kan grootword in die kerk, gedoop wees in die kerk, trou in die kerk, elke Sondag erediens bywoon in die kerk, familie hê in die kerk – en tog sonder ware bekering of geloof wees. Die uiterlike tekens mag aanwesig wees, maar as die hart nie deur die Gees vernuwe is nie, is dit ’n skynbekering. So iemand vertrou op hul werke eerder as op Christus self.
Jesus Christus self waarsku dat ware geloof aan sy vrugte geken word:
Aan hulle vrugte sal julle hulle ken …
Matteus 7:16–20
’n Lewe wat nie die vrug van bekering dra nie, is soos ’n boom wat blare het maar geen vrug nie – nutteloos vir die boer, bestem om afgekap en in die vuur gegooi te word (Matteus 3:10). Dit beeld die erns van oordeel uit: uiterlike godsdiens sonder innerlike vernuwing lei tot verwerping.
Dra jy die vrugte van ’n ware bekering?
Matteus 3:8 roep ons op om eerlik te vra: Is my geloof net leë woorde en tradisie, of is dit ’n lewende toewyding en verhouding met die Here? Christus self het gesê:
’n Goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie.
Matteus 7:18
Ware bekering bring altyd sigbare verandering mee. Om die vrug van bekering te dra, beteken om elke dag te leef as iemand wat deur God se genade nuutgemaak is – iemand wie se lewe wys dat Christus regeer.
