Die kruis wys ons sonde én redding

Pilatus gee die mense ’n keuse om Jesus of Barabbas vry te laat. Lees hier wat dié keuse oor ons elkeen se sondige natuur en God se genade wys.
deur ds Ruan Steyn
Tydens Paasfees is daar min oomblikke wat die menslike toestand so pynlik blootlê as die gebeure wat in Lukas 23:13-25 plaasvind. In hierdie Skrifgedeelte het die mens voor ’n belangrike keuse gestaan. En, die besluit wat hulle geneem het, eggo vandag nog in ons eie harte.
Die keuse: sonde bo genade
In Lukas 23 lees ons dat Jesus voor Pilatus gebring is. Pilatus het hier as die amptelike verteenwoordiger van die Romeinse reg opgetree. Pilatus was die regter wat oor Jesus geoordeel het.
Wat merkwaardig is, is dat Pilatus herhaaldelik verklaar het dat hy geen skuld in Jesus kon vind nie – daar was geen oorsaak vir straf nie. Pilatus se woorde is belangrik, want dit bevestig dat Jesus die vlekkelose Lam is en dat Hy nie as ’n misdadiger sterf nie.
Pilatus het die skare probeer gelukkig hou en daarom het hy vir hulle ’n keuse gegee: hulle kan kies wie vrygelaat moet word en sodoende genade ontvang – Jesus, wat onskuldig is, of Barabbas, die skuldige moordenaar.
Hierdie oomblik wys vir ons die sondige natuur van die mens wat deur die kruisgebeure ontbloot word: die skare kies die skuldige Barabbas om vrygelaat te word en eis dat Jesus moet sterf. Die mense wat voorheen, tydens Jesus se intog in Jerusalem, geskree het “Hosanna, Hosanna”, is dieselfde mense wat nou skree “kruisig Hom, kruisig Hom”.
Ons is hierdie skare
Lukas herinner ons daaraan dat dit die godsdienstige leiers en die volk was wat hierdie keuse gemaak het. Dit is mense wat gedink het dat hulle God dien. Hierdie verhaal openbaar die hart van die sondaar mens: ons is meer aangetrokke tot dit wat magtig, opstandig en selfgesentreerd is as tot die nederige pad van opoffering. Weens ons sondige natuur kies ons ook vir Barabbas bo Jesus.
Ons is Barabbas
Die krag van hierdie verhaal lê daarin dat ons onsself in die skoene van Barabbas kan plaas. Barabbas is skuldig. Hy is skuldig tot die dood deur ’n aardse regter verklaar. Hy het die wet van God oortree.
Ons is óók skuldig. Paulus herinner die gemeente in Rome deur Prediker 7:20, Psalm 14:2 en 53:3 aan te haal:
Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie, daar is nie een wat na die wil van God vra nie.
Romeine 3:10-11
Sonder dat Barabbas dit verdien het, is hy deur Pilatus vrygelaat en dus vrygespreek. Jesus, wat onskuldig is, het die skuldige se plek ingeneem.
Die kruis wys ons skuld en genade
Dit is die hart van die evangelie en die krag van die kruis: die kruis wys vir ons wat ons verdien (die doodsvonnis van ’n skuldige), maar dit wys ook vir ons wat Jesus gedra het (die straf wat Hom nie moes toekom nie). Dit is die kragtige beeld van Jesus wat ons Middelaar is, die plaasvervangende rol wat Hy vir ons ingeneem het. Die kruis is die plek waar God se geregtigheid en sy genade mekaar ontmoet.
Jesus se reaksie is merkwaardig. Terwyl die skare skree en Pilatus wanhopig probeer om sy hande in onskuld te was, bly Jesus stil. Jesus se stilte is die gewig van die wêreld se sonde wat Hy vrywillig op Hom neem. Hy aanvaar gewillig die kruis sodat elke “Barabbas” – elkeen van ons wat in ons eie sonde vasgevang is – vrygelaat word en so met God versoen word.
Hierdie Paasfees word ons herinner dat ons vrygelaat is omdat Jesus, die onskuldige, ons plek ingeneem het. Jesus het die onregverdige vonnis in stilte aanvaar, sodat ons voor God se regbank vrygespreek kan word.
