Wie moet evangelisasie doen?
Moet ek spesiaal of ’n kenner wees om te evangeliseer? Lees hier wat die Bybel vir elke lidmaat hierop antwoord.
deur ds. Daniël Myburgh
Jy weet sekerlik al wat evangelisasie is en waarom die evangelie vir jou én ander mense belangrik is. Nou wil ons weet wié die evangelie moet uitdra. Is dit iets wat net ‘spesiale’ mense mag doen? Moet ons evangelisasie vir kenners soos predikante en teoloë los? Of word dit ook van ‘gewone’ mense verwag?
Evangelisasie in die Ou Testament
Soos altyd gaan ons na die Bybel toe om op ons vrae antwoorde te kry. In die Ou Testament sien ons hoe God sekere mense geroep het om sy evangelie te verkondig. Mense soos Abraham, Moses, Josua en Dawid is spesifiek deur God geroep om sy volk se leiers te wees. Hulle het egter nie nét die volk fisies gelei en van gevaar gered nie, hulle het ook die volk, Israel, geestelik gelei. Daarna het God sekere mense gekies om as profete op te tree. Die profete was gewone mense wat gewone werke gehad het, maar óók vir ander mense God se wil bekendgemaak het. Ons weet byvoorbeeld dat die profeet, Amos, ‘n skaapboer was (Amos 1:1) en dat Daniël eers ’n amptenaar in die paleis was voordat hy as profeet geroep is (Daniël 1:1-4).
Ouers én die hele volk moet evangeliseer
Regdeur die Ou Testament hoor ons ’n algemene oproep om te evangeliseer. In Deuteronomium 6 lees ons die bekende woorde waar die Here dit van álle gelowige ouers verwag om Hom aan hulle kinders bekend te maak (Deuteronomium 6). In 1 Kronieke 16 lees ons die merkwaardige woorde: “Sing tot eer van die Here, álmal op aarde! Verkondig élke dag sy reddingsdade! Vertel vir die nasies van sy mag, (vir) al die volke van sy magtige dade” (vers 23 en 24). Hierdie opdrag is ’n opdrag vir die héle volk, en nie nét vir die profete nie. Dit is verál in die Psalms wat ons lees hoe die digters die lesers van die Psalms oproep om God se Woord te verkondig. “Sing tot eer van die Here, prys sy Naam, verkondig elke dag sy reddingsdade” (Psalm 96:2). “Ons voorvaders het hulle teen God verset … Maar Hy het hulle gered ter wille van die eer van sy Naam en om sy mag bekend te maak” (Psalm 106:7-8).
Die opdrag om te evangeliseer in die Nuwe Testament
Dit is dus nóú reeds duidelik dat alle gelowige mense die opdrag kry om die evangelie met mekaar te deel, maar dit is selfs nóg duideliker in die Nuwe Testament. Al Jesus se dissipels het gewone werke gehad voordat hulle as sy navolgers geroep is: van tollenaars tot onder andere vissermanne. Hierdie mense word deur Jesus Christus geroep net soos hulle is – hulle word sy navolgers terwýl hulle ’n sekere beroep beoefen – máár die Here los hulle nie net soos hulle is nie. Elke dag word hulle toegerus om God se wil te leer ken en hul gawes tot sy eer aan te wend. Aan die begin gee Christus aan hulle die opdrag: “Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom’” (Matteus 10:7). En dan verál die opdrag net voor sy Hemelvaart: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense My dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matteus 28:19-20). So sien ons dan hoe dissipels nie nét navolgers van Christus was nie, maar óók die opdrag gekry het om die evangelie te verkondig.
Paulus as evangelis
Een van die bekendste Evangeliste van die Nuwe Testament is Paulus. Het jy geweet dat dit nie Paulus se beroep was om die evangelie te verkondig nie? Handelinge 18 sê vir ons dat Paulus se beroep ’n tentmaker was. Paulus het met leer en ander materiaal gewerk en daarvan tente gemaak – dit is hoe hy ’n inkomste gekry het. Maar tog lees ons dat Paulus ook sendingwerk gedoen het en die evangelie na verskillende lande versprei het. Dit is dus moontlik om ’n sekere beroep te beoefen, maar óók evangelisasiewerk te doen. Dit is nie slégs opgeleide predikante wat die evangelie mag verkondig nie – ons élkeen kry die opdrag om van die Here te getuig.
Evangelisasie as deel van die amp van profeet
In Heidelbergse Kategismus Sondag 12 bely ons dat ons, as gelowiges, in verskillende ampte staan. Omdat ons met Christus verenig is, is ons profete, priesters en konings. As priesters behoort ons onsself aan die Here toe te wy en as konings behoort ons teen die sonde en die duiwel te stry. Maar dit wat vir ons vandag belangrik is, is die amp van profeet. As profete kry elkeen van ons opdrag om die evangelie te verkondig. Al hierdie ampte kan saamgetrek word in die amp van gelowige.
Die Bybel gee vir ons ’n duidelike antwoord op die vraag of mens spesiaal of ’n teoloog moet wees om die evangelie te verkondig. Ons antwoord is kristalhelder: God verwag van álle gelowiges om mekaar met sy wonderlike evangelie te bedien. Al is ek nie ’n predikant van beroep nie, moet dit my nie terughou om God se Woord met ander te deel nie. God Drie-enig sal my altyd bly toerus nadat Hy my daarvoor geroep het. Kom ons elkeen leef dan ons roeping deur die amp van gelowige uit.