Die 5de gebod – basis van naasteliefde

Die vyfde gebod sê dat jy jou vader en moeder moet eer, maar dit gaan oor baie meer as net jou ouers. Lees hier wat dit vir ons oor al ons verhoudings sê.
deur Johann de Waal
Toe die Here Jesus ’n Fariseër moes antwoord op wat die grootste gebod was, het hy hom só geantwoord:
Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en die groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Matteus 22:37-40
Ons kan die tien gebooie ook in hierdie twee kategorieë plaas, met die eerste tot die vierde gebod wat te make het met “Jy moet die Here jou God liefhê” en die vyfde tot die tiende gebod wat te make het met “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”. In die tien gebooie is daar ook ’n sekere struktuur, die eerste gebod loop in die tweede gebod in en die tweede in die derde, ensovoorts. Die gebod wat eerste ter sprake is met om jou naaste lief te hê, is: “Eer jou vader en jou moeder”.
Hoe kan dit dan wees? Is dan om moord te pleeg nie ’n belangriker gebod as om vir jou ouers te luister nie? Hoe kan hierdie gebod voor moord, egbreuk pleeg, steel, en valse getuienis wees? Hoe kan om jou vader en jou moeder te eer die basis wees van om jou naaste lief te hê?
Die Heidelbergse Kategismus se verstaan van die vyfde gebod
Dit klink snaaks om te dink dat om vir jou ouers te luister enigiets te make het met om jou naaste lief te hê, maar die vyfde gebod gaan oor baie meer as net dit. In sy eenvoudigste verstaan eis dié gebod ons om vir ons ouers te luister en hulle te respekteer. Die Heidelbergse Kategismus bied dan vir ons nog ’n wyer verstaan. Nie net ons ouers moet ons eer aan bewys nie maar almal wat oor jou gestel word. Dit beteken die regering, die polisie, jou onderwysers, jou leerlingraad, almal wat ’n gesagsposisie beklee. Die Heidelbergse Kategismus gaan ook verder en sê ons moet met hulle gebreke geduld hê.
Die vyfde gebod gaan oor meer as jou ouers
As ons na 1 Timoteus 5 gaan kyk dan sien ons dit strek nóg verder:
’n Bejaarde man moet jy nie hard bestraf nie, maar vermaan hom soos ‘n vader, jongeres soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jongeres soos susters in alle reinheid.
1 Timoteus 5:1-2
Sien alle verhoudings as familieverhoudings
In hierdie gedeelte sien ons dat ons alle verhoudings moet benader asof dit familieverhoudings is. Jy moet dus jou onderwysers/werkgewers hanteer asof hulle jou ma of pa is. Hierdie beteken dan ook dat jy ondergeskiktes moet hanteer asof jy hulle ouer is. Dit is die ander kant van dieselfde muntstuk, en dieselfde moet toegepas word in hierdie geval.
Hierdie familiefokus op verhoudings kom al vroeg in die Bybel ter sprake. “En Ada het Jabal gebaar. Hy was die vader van die tentbewoners en die veeboere. Die naam van sy broer was Jubal. Hy was die vader van almal wat op siters en fluite speel,” Genesis 4:20. Elisa het Elia ook as sy geestelike pa gesien, en almal wat hulle opgevolg het was gesien as “profete-seuns”.
Die vyfde gebod as basis van naasteliefde
Deur na alle verhoudings as familieverhoudings te kyk, en die vyfde gebod toe te pas op die wat onder ons gestel is, skyn hierdie gebod ’n lig op elke verhouding met ons medemens. Dit maak dan sin dat die vyfde gebod die basis van naasteliefde is. Deur so na die kerk en die gemeenskap te kyk, sien ons dat dieselfde beginsels van ’n gesonde familie gebruik moet word in alle verhoudings in die samelewing.
Die familie as boublok van die samelewing
Die familiestruktuur is die boublokke van die samelewing. En ons sien hoe word dit vandag aangeval. Die Post-moderne tydsgees verwerp familie en wil dit vervang met ’n onnatuurlike alternatief. Daar is ’n rede hoekom ’n gesin uit ’n vader- en moeder-figuur bestaan: Die bruidegom is die sinnebeeld vir Christus en bruid die sinnebeeld vir die kerk.
Elkeen het sekere rolle om te speel in gesinne. En die menslike geslag word in hierdie struktuur gebou. Deur afbreek te maak aan hierdie struktuur wat net na die skepping ingestel word, maak ons ook eintlik afbreek aan hoe elke verhouding in ons samelewing benader moet word.
Ons as gelowiges moet hierdie struktuur bewaar. Ons moet hierdie verdraaiing van die gesinstruktuur verwerp, en vashou aan die orde wat God ingestel het. Dit wat op die spel is, is baie meer as net die familie, dit is elke verhouding waarin ons, onsself vind.