Riglyne vir hoe om barmhartigheid te wys

Is jy onseker oor hoekom ons gee en hoe ons moet gee? Daar is twee beginsels waarvolgens ons moet gee: nabyheid en noodsaaklikheid.

deur ds. Brahm Robinson

Barmhartigheid is ’n eienskap van God. Ons lees hierdie woorde in Psalm 146:7-9 “Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly … Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees…” Dit is ’n eienskap van God wat dui op liefde wat gegee word van iemand wat het of kan, aan iemand wat nie het of kan nie. Hoewel dit ’n eienskap van God is, gebruik Hy ook mense hierin. Hy gebruik sy kerk om hulp te verleen. Die Bybel is vol opdragte aan gelowiges om die armes te help.


Barmhartigheid as deel van die wet in die Ou Testament

In Handelinge 2:43–44 en 4:32 hoor ons dat by die eerste gemeente in Jerusalem daar nie een enkele persoon met nood in die gemeente was nie. Die kerk se geloof is in dade uitgedruk. Nie ’n enkele een van die gelowiges het gebrek gely nie, want daar was liefde vir mekaar. Wanneer gelowiges van mekaar se lyding gehoor het, het hulle van hul eie middele vir mekaar gegee.

Die frase in dié hoofstukke, “daar was geen behoeftiges onder hulle nie”, kom direk uit Deuteronomium 15 wat handel oor die sabbatsjaar. Die sewende jaar was die sabbatsjaar en aan die einde van daardie jaar moes die Israeliete skuld afskryf. As iets aan ’n mede-Israeliet geskuld is, moes dit vir hom afgeskryf word. ’n Skuldeiser mag nie sy mede-Israeliet dwing om hom te betaal nie. As hulle sou luister na die Here en gehoorsaam sou wees aan al die gebooie wat Hy hulle gee, sê die Here, sal daar nie ’n arme onder hulle wees nie.

Die Here het dus versorging van die armes in die wet vir sy volk ingeskryf. Dit is hoe dit gewerk het onder die ou verbond, maar met die nuwe bedeling het Christus die wet vervul. Die mense onder die nuwe verbond leef nie onder daardie burgerlike wette wat die Here gegee het nie, maar die beginsel bly dieselfde.


Die Heilige Gees wek barmhartigheid
Wat wel gebeur in die Nuwe Testament is dat Jesus Christus sy Heilige Gees juis hiervoor aan die kerk gee. Hier gaan dit nie daaroor om mekaar se skuld af te skryf nie. In die Nuwe Testament gee die mense omdat die Heilige Gees liefde in hulle werk (vergelyk 2 Timoteus 1:7). Ons hoor in 2 Korintiërs 8 en 9 dat Paulus nie die Christene opdrag gee om gemeentes in ander gebiede te help nie, maar dat hy die opregtheid van hulle liefde toets wat die Heilige Gees in hulle wek.


Vir wie moet ons help?

Dit is duidelik dat dit Christene se plig is om mekaar te help omdat die Heilige Gees ons daartoe oortuig. Die Heilige Gees oortuig ons ook dat ons ander behoeftiges buite ons gemeentes help.

  • Ons is eerstens verantwoordelik om hulle wat die naaste aan ons is te help. Die naaste aan ons is ons gesin. “As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ’n ongelowige.” (1 Timoteus 5: 8).
  • Vervolgens het ons lede van ons breër kerkgemeenskap. Die beginsel is eintlik dieselfde: net soos ons verplig is om in ons gesin te help, so moet ons ook in ons geestelike gesin help (vergelyk Jakobus 2:15-17). As daar ’n medegelowige in jou kerkverband is wat rampspoed of teenspoed het, moet daar met die liefde wat die Heilige Gees in ons wek, hulp verleen word.
  • Ons het verder ook die opdrag om hulp aan nie-Christene in die wêreld te verleen. Dit gebeur gewoonlik net per geleentheid. Dit is die punt van Jesus se gelykenis oor die barmhartige Samaritaan (Lukas 10:25-37). Ons moet iemand naby ons help wat op die oomblik ons hulp nodig het.
  • Ons het ook ’n groter verantwoordelikheid om hulle te help wat die minste in staat is om hulself te help. Die Bybel praat van die “weeskinders en weduwees” (Jakobus 1:27). Die beginsel is egter van toepassing op enige persoon wat nie hulself kan help nie.

Vir wie moet ons nie help nie?
Daar is egter ook opdragte in die Bybel van mense wat nie deur die kerk gehelp moet word nie. Christene moenie mense ondersteun wat vir hulself kan voorsien nie, maar eerder luiheid verkies (1 Tessalonisense 4: 11-12; 5:14). “As iemand nie bereid is om te werk nie, moet hy nie eet nie” (2 Tessalonisense 3:10). Die Christelike verantwoordelikheid tot liefdadigheid is nie aan diegene wat verwag dat ander vir hulle moet doen wat hulle vir hulself kan doen nie. Om armes in hierdie omstandighede te help, is glad nie hulp nie.


Die Heilige Gees werk dus in ons om met die goedere en geleenthede wat ons het liefde te gee. Daar is twee beginsels waarvolgens ons gee: nabyheid en noodsaaklikheid. Hoe nader die persoon aan jou is en hoe groter die behoefte is, hoe groter is jou verpligting om te help.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui