Wat beteken dit dat ek ’n rentmeester is?
Alles wat ons het, het ons van die Here af ontvang. Lees hier hoe ons as rentmeesters ’n lewe van dankbaarheid teenoor die Here moet leef.
deur ds. Janré van Jaarsveld
Het jy al gewonder wat jou doel in die lewe is? Of, hoekom die Here jou gemaak het? Baie mense worstel met hierdie vrae, soveel so dat daar al baie boeke daaroor geskryf is. Maar, as ons ’n antwoord op hierdie vraag wil hê, kan ons dit net by die Here kry.
God het die hemel en die aarde uit niks geskep en ons weet die Here het geskape om homself te verheerlik. So die Hele skepping, wat my en jou insluit, moet die grootheid en die almag van die Here besing. Dit is hoekom ons lewe, dit is hoekom die Here ons gemaak het: Ons lewe en werk vir die Here!
Wat is ’n rentmeester?
Ons lees in Genesis dat God die mens na sy beeld geskape het. Hy het vir die mens ’n opdrag gegee: Vermeerder, vul die aarde, ontwikkel die skepping en heers daaroor. Ons kan hierdie opdrag in een woord saamvat: rentmeesterskap. ’n Rentmeester is iemand wat sy werkgewer, of sy baas se besittings en eiendom oppas en bestuur. ’n Rentmeester is baie soos ’n plaasbestuurder. Jy bestuur die plaas en jy pas die plaas op asof dit jou eie is, maar die plaas behoort aan die eienaar, nie aan die plaasbestuurder nie.
Adam en Eva as rentmeesters
Dit is presies wat Adam en Eva moes doen. God is die Eienaar van sy skepping. Hy is alleen-eienaar van die aarde en die aarde bly God s’n. Die mens moet die kosbare eiendom bestuur tot eer van God die eienaar. Adam en Eva se rentmeesterskap is eintlik baie besonders, want die Here sluit ’n verbond met hulle. Hy sê vir Adam en Eva: “Ek is julle Vader, julle is My kinders. As Vader gee Ek vir julle alles wat julle nodig het: lewe, liefde, gesondheid, ’n pragtige tuin om in te bly, kos om te eet. As Vader eis Ek van julle liefde, gehoorsaamheid én rentmeesterskap: werk in my diens. Bestuur My skepping na die beste van julle vermoë. Maak dit wat mooi is nog mooier en voller en heerliker en pas My skepping op.”
Wat beteken rentmeesterskap vir jou lewe?
So, ons weet alles wat ons het, is regtig net genade. En ook, alles wat ons het, is by die Here geleen. Ons is rentmeesters vir die Here en dit beteken ons lewe vir die Here en alles wat ons het, ons geld, ons gawes, ons talente en vermoëns is by die Here geleen, dit behoort aan Hom. “Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien” (1 Samuel 2:7).So ek en jy lewe nie vir onsself nie, maar ons lewe net vir die Here.
’n Kind van die Here kan nooit praat van my huis, my kar, my geld en salaris, my roomys, my speelgoed, my kerk, my tafel en my pak lekkers nie. Alles wat ons het behoort aan die Here en ook nie net ’n tiende daarvan nie, maar al tien tiendes!
As jy regtig ’n Christen is, sal jy verstaan en ook besef dat jy ’n rentmeester is. Dit wat ons het, kom uit ons Hemelse Vader se Hand uit. Elke gelowige wat uit die verlossing van Jesus Christus leef, weet: my besittings, my beursie, my bankrekening, my besigheid, my boerdery, my sakgeld en snoepiegeld, my gawes, my talente, my vermoëns, my breinkrag, my goeie punte, my intellek, my beeste, my hoenders, my boeke, alles … is nie myne nie. Dit is die Here s’n, want die Here het die eerste en die laaste sê daaroor. Daarom sal ons as gelowiges die Here se eiendom wat Hy aan ons toevertrou het, tot sy eer bestuur.
Hoe werk rentmeesterskap prakties?
God wil hê dat ek en jy vir hom sal werk. Dit beteken dat ons die werk wat uit sy hand kom goed en met ywer sal doen. Selfs in ons beroepe werk ons voluit vir die Here. Dit beteken dat ons hard sal werk en ons werk goed sal doen. Die Here soek harde werk en inspanning van talente by sy rentmeester-kinders.
’n Rentmeester kan nie lui wees nie. ’n Kind van die Here kyk nie hoe min kan hy doen om te oorleef nie, maar vra altyd: Here, wat nog? As jy tien talente ontvang het, gebruik al tien tot eer van die Here! Werk voluit tot eer van die Here om sy Naam groot te maak! Dit is wat die Here van ons vra. Ons is ook rentmeesters, sodat ons die wat swaarkry in hulle nood kan help. Die Here gee genoeg vir almal se behoeftes, maar nie genoeg vir almal se gierigheid nie. Die Here gee vir ons sodat ons ook ander weer kan help. Kyk waar jy die mense om jou kan help.
Onthou, die Here soek rentmeesters wat Hom uit dankbaarheid dien en Hom as die nommer een prioriteit in hulle lewens stel. Maar baie belangrik, ’n rentmeester lewe ’n lewe van dankbaarheid teenoor die Here. Onthou, ryk is die mens wat sy plek voor God ken en volstaan. Ryk is die mens wat weet dat sy verlossing in Jesus Christus vas en seker is. Hy het ’n skat wat nie deur mot en roes verniel word nie. Wees ’n rentmeester en sê met jou hele lewe vir die Here dankie vir sy liefde en genade.
1 Response
[…] Wat beteken dit dat ek ’n rentmeester is? Lees die artikel hier. […]