Moet Christene Israel se feeste vier?
deur Philip Wepener
Het jy ook al van Christene gehoor wat sê dat dit nie verkeerd is om die feeste in die Ou Testament te vier nie? As jy op die Internet ’n soektog doen, sal jy sien dat daar Joodse Messiaanse Christene is of Christene met ’n Joodse kulturele agtergrond, wat dit vier. Maar moet ons as Christene hierdie feeste nog vier? Indien nie, wat moet en mag ons vier?
Hoekom moet Christene nie die feeste in die Ou Testament vier nie?
Paulus skryf die volgende aan die Christene in Kolosse oor die feeste in die Ou Testament:
Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ’n fees, ’n nuwemaansfees of ’n Sabbat nie. Hierdie dinge is net ’n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was …
Kolossense 2:16-17a
In Kolosse was daar valse leraars gewees wat die kerk met allerhande dwalings bedrieg het (Kolossense 2:8, 18). Een van hierdie dwalings was dat Christene die wette aangaande eetgewoontes en die feeste moes onderhou om gered te word. Paulus stel dit egter duidelik dat Christus al ons sondes deur sy offer aan die kruis weggeneem het (Kolossense 2:13-15). Daarom is daar niks wat ons kan doen of hoef te doen om gered te word nie. Ons word alleen deur die geloof in Jesus Christus gered (vergelyk Kolossense 2:6; Johannes 14:6; Romeine 10:9).
Paulus sê in vers 17 dat die feeste ’n voorafskaduwing was. Israel het dit gevier om God se genade en goedheid te erken en te onthou, maar die feeste het nog ’n dieper betekenis gehad: dit het heengewys op die toekoms, naamlik God se vervulling daarvan.
Die vervulling van die feeste in Jesus Christus
… maar die werklikheid is Christus.
Kolossense 2:17b
Die voorafskaduwing het verbygegaan en die werklikheid het deurgebreek: dit is Jesus Christus. Die feeste in die Ou Testament het in Hom vervul. Daarom is ons nie verplig om dit te vier en te onderhou nie. Ons moet ook nie so lewe asof ons aan die feeste gebonde is nie. Dan lewe ons asof Christus gekom het, maar die feeste nog die voorrang moet geniet. Ons lewe dan asof ons nog onder die Joodse Wet (Ou Verbond) is – wat ons nie meer is nie, want Christus het dit volkome vervul.
Moet Christene dan die feeste in die Ou Testament lees en preek?
Verseker! Die feeste is deel van God se geopenbarende Woord (2 Timoteus 3:16a). Alhoewel ons nie die feeste in die Ou Testament vier nie, moet ons steeds daarvan leer. Ons moenie die feeste as sodanig beskou dat hulle nie relevant vir ons Christelike geloof is nie. As Christene gaan ons voort om die waarheid en inhoud van die feeste te ondersoek.
Watter feeste moet Christene vandag vier?
Opstandingsdag of die dag van die Here
Vandag hou ons kerk op Sondae, die eerste dag van die week (Handelinge 20:7), omdat dit die dag is waarop ons Here Jesus uit die dood opgestaan het (Matteus 28:1). Weens hierdie groot gebeurtenis, en dat ons onder die Nuwe Verbond is, is die opstandingsdag die Sabbat (Eksodus 20:8-11; Deuteronomium 5:12-15) wat ons as Christene elke Sondag vier en onderhou. Opstandingsdag word ook “die dag van die Here” genoem (Openbaring 1:10).
Nagmaal
Ons Here Jesus het twee sakramente ingestel, waarvan een ’n gemeenskaplike fees is: die nagmaal (Matteus 26:26-30). Die Here het aan sy dissipels gesê om hierdie feesmaal te vier ter herinnering aan sy kruisiging. Paulus bevestig dit ook later in 1 Korintiërs 11:23-29.
Moet Christene ander feeste vier?
Moet Christene feeste soos paasfees, hemelvaart, pinkster en/of kersfees vier? Nêrens in die Bybel word daar opdragte gegee dat Christene ander feeste soos paasfees, hemelvaart, pinkster en/of kersfees moet vier nie. Sommige Christene en Christelike kerke het dit wel op hul feeskalenders.
Feeste of feesdae is hoegenaamd nie ’n heidense praktyk nie, afhangend van waaroor dit gaan. Sommige Christene en Christelike kerke vier dit graag jaarliks omdat dit ons aan die ware betekenis van Christus se geboorte, kruisiging, hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees herinner.
So ons mag dit vier. Christene mag enige feeste vier! Soos ons lees in 1 Korintiërs 10:31: “Of julle dan eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot eer van God.” Of soos iemand dit eenkeer mooi gestel het: “Solank Christus sentraal is – kan jy enige fees vier!”