Gaan Christene vir ewig fees vier?
Openbaring 19 vertel van die bruilofsfees van die Lam. Lees hier hoe Jesus in sy tyd op aarde ons daarvoor voorberei het.
deur Adriaan Broodryk
Almal van ons weet hoe lekker dit is om na ’n partytjie, ’n feesviering, genooi te word. Die opwinding tot die aanloop kan jy sommer voel. En die opwinding tussen almal wat genooi is, is sommer aansteeklik.
salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam.
Openbaring 19:9
As gelowiges sien ons uit na die wederkoms, die dag waarop Jesus Christus terugkom aarde toe om ons te kom haal. Ons wag in spanning vir die bruilofsfees van die Lam waarvan ons in Openbaring 19:5-10 lees.
Maar, baie van die fees is nog onbekend aan ons. Dis byna soos ’n verrassingspartytjie vir al die genooides! Ons wonder oor baie dinge van hoe die fees gaan wees.
Die fees in Openbaring
Die boek Openbaring verduidelik wel vir ons baie dele van hoe die aanvang van die fees gaan wees. Johannes, die skrywer wat die Heilige Gees gelei het om die boek te skryf, het baie beelde gebruik wat dit soms moeilik maak om te verstaan.
Ons weet wel dat die gebeure van Openbaring geweldig gaan wees en dat die kinders van God op die nuwe aarde sal woon. Dan gaan ons tot in ewigheid fees vier tot ere van God!
Hoe lekker gaan dit nie wees nie? Ons gaan die Here aanbid en vir Hom sing, en ons gaan in sy binneste heiligdom kan wees en Hom sien. Ons geloof van die ou aarde verander dan in die aanskouing van God in sy glorie.
’n Bruilofsfees het twee partye
’n Bruilofsfees is natuurlik ook ’n partytjie, maar met ’n verskil: die samekoms van twee partye. Met ander woorde, ’n huweliksbevestiging tussen twee mense. In hierdie geval is dit die bruilofsfees tussen die Lam en sy bruid, die kerk.
Ons as die kerk, die genooides, is die bruid van die Lam. Die fees is die bevestiging dat ons vir altyd by die Here sal wees.
Volhard in die geloof al voel jy nie na fees vier nie
Ons weet dat die lewe hier op aarde nie altyd maklik is nie. Probleme, of dit nou groot of alledaags is, duik gereeld op. Dit kan ons soms mismoedig maak, maar ons mag nooit moed verloor nie.
Die Here het die woorde van Openbaring 19:9 as aansporing laat opteken. Die gedeelte vertel ons wat sal gebeur as ons in die geloof volhard. Jy gaan die fees kan bywoon! Jy gaan voor God kan staan en Hom vir ewig aanbid! Hoe wonderlik is dit nie?
Ons moet wel onthou dat ons nie tot dan moet wag nie. Ons kan en moet God hier op aarde vereer. Wat ons ook al doen en waar ons ook al is, ons staan in diens van God. Dit is deur ons optrede en karakter in God dat ons werk om die uitbreiding van die heilige koninkryk. Dit is hierdeur dat die Heilige Gees die uitnodiging na die fees na ander uitstuur.
Hierdie fees is vir ewig
Anders as gewone partytjies, het hierdie fees een ding wat glad nie dieselfde is nie: ons gaan nie weer huis toe nie. Die fees gaan nooit ophou nie. Ons gaan vir ewig by die Here kan wees en Hom dien! Hierdie fees word ons lewe!
Die gebeure van daardie wonderlike Sondagmôre voor die oop graf raak vir ons al duideliker. Jesus het ons vir hierdie fees kom voorberei. Hy het gekom en al die genooides se uitnodigings ten volle kom betaal. Hy het kom seker maak dat almal wat Hy liefhet by hierdie fees sal wees.
Ons het die troos van hierdie uitnodiging. Ons is die bruid van die Lam. Hierdie feit bring vir ons die saligheid wat ons so broodnodig het: Ons gaan vir ewig fees vier.