Hoe maak ’n Christen planne vir die nuwe jaar?
Aan die einde en begin van elke jaar hoor ons hoe almal oor hul nuwejaarsvoornemens praat. Tog maak almal tussenin ook planne! Mens hoor gereeld dat mense aan hul “bucket lists” werk. Maar hoe pas dit by die Christen se lewe in? Hoe moet ons as Christene dink oor wat ons wil, gaan en moet doen? In Jakobus 4:15 lees ons duidelik hoe ons oor die lewe moet dink:
Julle moet eerder sê: ‘As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.’
Wat wil jy graag in jou lewe doen of bereik?
As iemand jou nou vra wat jy graag wil doen of bereik, het jy ’n antwoord? Dink jy jou antwoord is dieselfde as wat God van jou wil hê? Tien teen een het jy ook so ’n bucket list van dinge wat jy graag wil doen, wil hê of bereik. Jakobus skryf in die begin van hoofstuk 4 oor die drie stryde wat in elke mens is:
- Die stryd met mekaar (Jakobus 4:1a, 11-12)
- Die stryd met jouself (Jakobus 4:1b-3)
- Die stryd met God (Jakobus 4:4-10)
Hierdie stryd wat in elkeen van ons woed, kom uit ons selfsugtige begeertes. Ons smag en soek na die verkryging van dinge. Daar is vier argumente wat duidelik vir ons uitwys hoe dwaas ons is as ons, ons eie wil soek en doen, en die wil van God ignoreer.
Vier argumente vir hoekom ons nie God se wil moet ignoreer nie
1. Die kompleksiteit van die lewe
Die lewe bestaan uit oorlewing, vir sommige maklik en vir ander moeilik. Dit gaan oor kos, klere, ’n dak oor jou kop en vervoer. Die lewe gaan oor mense, plekke, aktiwiteite, doelstellings, maande, jare en dekades. Elke dag moet jy besluite neem wat gevolge het vir die res van jou lewe. Hoe besluit jý wat om te doen?
2. Die onsekerheid van die lewe
Om net uit jou eie te beplan, is doelloos. Dink aan die boer wat groot skure gebou het en in selfvoldaanheid gedink het dat hy alles vir baie jare het. God het daardie nag alles van hom weggevat (Lukas 12:16-21). Vir ons is daar onsekerheid oor die toekoms, maar nie vir God nie. God sorg vir ons en het elke lewensdag bepaal.
3. Die kortstondigheid van die lewe
Vir ons voel die lewe dalk lank, maar vir God is dit net ’n oogwink. Vir ons kan die lewe kortstondig en onseker wees, maar vir God is alles duidelik.
4. Die broosheid van die mens
Die mens is nie in beheer van die toekoms nie. Die mens het nie die wysheid om in die toekoms te kan sien nie, en het ook nie die krag, mag of gesag om dit te beheer nie. Om jou daarop te wil beroem is om God te wil speel. God self is in beheer van elke mens.
Wat is God se wil?
Waar jy vroeër gedink aan wat jou wil vir die lewe is, moet jy dan ook dink aan wat God se wil vir jou is. God wil hê dat ons, ons in Hom moet verbly, moet bid en hom moet dank (1 Tessalonisense 5:16-18). Ons moet die regte gesindheid teenoor God se wil hê. Die wil van God is ’n verhouding tussen God en sy kinders, jou as gelowige. Dit is nie hard en onpersoonlik en onbereikbaar of onuitvoerbaar nie. Dit is nie ’n wet nie, maar ’n groeiende saak in jou lewe. Jy moet God biddend vra wat sy wil vir jou is en jou daagliks bekeer en doen wat God vra. God se wil moet elke dag, elke oomblik in ons harte wees.
Wat kan jý beplan na aanleiding van God se wil?
- Leer God se wil ken
Dit is nie verkeerd om ’n bucket list te hê nie, maar jy moet God vra of dit wat jy beplan deel is van sý wil vir jou lewe. God se wil is nie moeilik om te ken as jy biddend die Bybel lees en gehoorsaam is aan God se Woord nie. God openbaar sy wil aan die wat nederig en opreg daarna vra en daaraan gehoorsaam wil wees.
- Leef God se wil uit
Ons moet vol word van die kennis en wil van God. Dit help nie om net te weet wat God se wil is nie, ons moet dit uitleef. Ons moet die Here van harte dien in alles wat ons dink en doen.
- Vra daagliks na God se wil
Begin by die eenvoudige en God sal elke dag vir jou byvoeg wat sy wil is. Elke dag bring uitdagings en besluite. Beplan daarom elke dag met dié woorde: “As die Here wil en ek lewe gaan ek vandag … ”
Kom ons dien van harte die Here in alles wat ons dink en doen. Kom ons sê altyd: “As die Here wil en ons lewe, sal ons dit of dat doen.”
Hierdie artikel is verwerk uit ’n preek van Gereformeerde Kerk Centurion. Kry die oorspronklike teks hier.