Lewe in toewyding naby aan God

Volgens Paulus moet ons oefen om in toewyding aan die Here te lewe. Maak dit hierdie jaar jou prioriteit om al nader aan God te leef. Volg só ’n geestelike oefenprogram.

deur ds. Ruan Steyn

Vir dienaars van Jesus Christus is die belangrikste nuwejaarsvoorneme vir 2021 om daagliks naby aan God te lewe. Die Here behoort ons eerste en belangrikste prioriteit te wees – wanneer dit met ons goed gaan en wanneer dit met ons sleg gaan!

Ons kan vandag met mekaar eerlik wees: in die besige wêreld waarin ons leef, is dit nie altyd maklik om die Here eerste te stel nie. Gelukkig, op grond van die Here se barmhartigheid, lei Hy sy kinders deur sy Woord en Gees om op Hom te fokus en om naby aan Hom te leef. Die Here bewys sy genade aan ons deur ons nie alleen te los om te sukkel nie, maar om sy Gees te stuur om ons by te staan: “En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Parakleet (Voorspraak, Trooster) gee, sodat Hy vir ewig by julle kan wees” (Johannes 14:16).


Voorbeelde van mense in die Bybel wat naby God geleef het

In die Bybel is daar voorbeelde van mense wat naby aan die Here geleef het en sodoende sy beskerming, liefde, genade en barmhartigheid ervaar het:

  • Noag “was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en het naby aan God geleef” (Genesis 6:9).
  • Henog “het naby God geleef en toe was hy nie meer daar nie, want God het hom na Hom toe weggeneem” (Genesis 5:24).
  • Asaf skryf in Psalm 73: “dit is vir my goed om naby God te leef”.

Dit is bemoedigend om hierdie voorbeelde te lees en te sien hoe die Here die manne en vroue van die Bybel gelei het om naby aan Hom te leef.


Oefen om nader aan God te leef
Paulus skryf in 1 Timoteus 4:7 aan ’n jonge Timoteus dat hy moet oefen om in toewyding aan die Here te lewe. Juis omdat dit soms moeilik is om in hierdie besige wêreld nader aan die Here te lewe, gaan dit oefening, deursettingsvermoë en toegewydheid van ons verg. Hoe langer en hoe ernstiger ons oefen, hoe vinniger gaan die geestelike oefening ’n goeie gewoonte word!


Hoe behoort ’n daaglikse geestelike oefenprogram vir 2021 te lyk?

  1. Bestudeer die Woord van God
    Ons leer die Here ken deur sy Woord te bestudeer. Alles wat ons moet weet ten opsigte van ons verlossing is in die Woord van God vervat. Die Here gebruik die Bybel om ons te lei, ons na die waarheid te rig en ons te verander. Sonder die Woord van God kan ons nie naby aan die Here leef nie.
  2. Memoriseer die Woord van God
    Om die Bybel te bestudeer is belangrik, maar om die Bybel te memoriseer is net so belangrik. Wanneer ons die Bybel memoriseer, lewe die Woord van God in ons harte en gedagtes. In die Evangelies lees ons dat Jesus elke keer vir Satan en die Fariseërs en Skrifgeleerdes antwoord deur die Ou Testament aan te haal.
  3. Bid
    Ons lees meermale dat Jesus gaan bid het: “Hy het Hom egter gereeld teruggetrek na afgeleë plekke en daar gebid” (Lukas 5:16). Gebed was vir Jesus belangrik gewees en daarom het Hy die skare mense, sy dissipels en sy dienswerk agtergelaat om tot sy Vader te bid. Sonder gebed kan ons nie naby aan die Here leef nie.

Elke mens se geestelike oefenprogram gaan anders lyk, maar die bestudering van die Woord van God en gebed is belangrik. Terwyl ons hierdie nuwe jaar ingaan, mag ons Paulus se gebed in Efesiërs 3:14-19 ter harte neem:

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang het. Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dit sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die heiliges tot die besef te kom van die breedte en lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui