Kry waagmoed deur God se beloftes


deur ds Daniël Myburgh

Dit is normaal om hierdie tyd van die jaar angstig te wees. Soveel onsekerheid lê voor. Vir baie leerders is dit die begin van ’n nuwe fase by die skool. Graad 8 of graad 12 lê dalk voor. Dalk skakel jy oor na ’n nuwe skool met nuwe vriende en onderwysers. Of dalk begin jy hierdie jaar te werk, of dalk moet jy universiteit toe gaan. Selfs al is hierdie jaar dalk net nog ’n “normale jaar” voel die meeste van ons ’n bietjie angstig oor wat hierdie jaar vir ons gaan inhou.

Josua moes groot skoene volstaan

Josua het hierdie gevoel met ons gedeel. Hy was die opvolger van Moses. In Josua 1 vers 1-9 lees ons hoe die Here aan Josua die opdrag gee om dít, waarmee Moses begin het, te voltooi. Wat ’n roeping om te vervul? Dink net aan die spreekwoordelike “groot skoene” wat Josua nou moes vol staan!

Soos ons weet was Moses sekerlik een van dié béste leiers wat die volk, Israel, al ooit gehad het. Ons kom dus agter dat Josua se roeping ’n moeilike roeping moes wees. Daar staan nie pertinent dat Josua “bang” was of “nie kans gesien het vir dít wat op hom wag nie”, maar tog kan ons dit aflei. Josua erken nie sélf dat hy skrikkerig is nie, maar tog het ons ’n sterk vermoede daarvoor oor dít wat die Here vir hom gesê het.

Die Here beloof sy nabyheid aan Josua

En dít is die belangrike hier: dit is die Hére wat in Josua 1 praat, en nie ’n méns nie! Josua word nie deur sy medemens genader nie. Dit is nie een van sy volksgenote of ’n koning of ’n leier van ’n ander volk wie aan hom hierdie opdrag gee nie, maar die Hére. Dit is die Almagtige Gód wat aan hom hierdie opdrag gee.

Tog – ten spyte val al hierdie angs en onsekerheid – het die Here sy nabyheid aan Josua beloof. Die Almagtige Verbondsgod het lánkal rééds met ’n eed beloof dat sy kinders die Beloofde Land sal binnegaan.

En nou word hierdie belofte wéér opnuut aan Josua bevestig. Soos wat die Here in Deuteronomium 11 aan Moses beloof het, bevéstig die Here nou aan Josua: Oral waar Josua en die volk trap, sal hulle eiendom word. God beloof dus sy getrouheid, maar óók sy konstante nabyheid én sy heilige teenwoordigheid aan Josua.

Hierdie troosvolle belofte van God herinner ons aan God se woorde aan die profeet, Jesaja in Jesaja 43 as Hy sê:

Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

God belowe sy getrouheid aan elke gelowige

Soos ons weet is dit egter nie net híér waar die Here sy getrouheid aan ons bekendmaak nie. Die hele Bybel is vol van God se wonderlike beloftes wat nie nét vir daardie persoon bedoel is nie, maar vir élke gelowige wat dit lees.

God se beloftes gee vir Josua waagmoed

Juis dít – God se beloftes; God se getrouheid, het aan Josua die waagmoed gegee om hierdie geweldige verantwoordelikheid na te kom. Omdat Josua oortuig was van God se konstánte nabyheid sien hy kans om die volk, Israel, deur die Jordaan-rivier te lei tot in die Beloofde Land in. Selfs al lyk dit onmoontlik en selfs al is dit ’n moeilike taak, doen Josua dít waarvoor selfs van die braafste mense nie kans sou sien nie. Te danke aan die Heilige Gees, Wie kragtig in Josua werk, twyfel Josua nie vir één oomblik in God se betroubare Woord nie.

Laat God se beloftes ook aan jou waagmoed gee

En dit is presies wat die Here ook van jou en van my in 2024 verwag. God sal nie een van ons óóit in die steek laat óf verlaat nie. Ons het eintlik nóg meer rede as Josua om dit te glo, want die Ware Verlosser het rééds aan ons verlossing gebring. Met sy kruisdood is Jesus Christus deur God, die Vader, verlaat sodat ons nooit weer verlaat sal word nie. Met sy opstanding uit die dood bewerk Hy vir ons permanente burgerskap in die Ewige Kanaän. Al wat die Here van ons, as sy kinders vra, is om getrou te wees soos wat Hy getrou is.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui