Die Bybel oor inkomste-ongelykheid

Volgens die Wêreldbank het Suid-Afrika die hoogste ongelykheid tussen die inkomste van ryk en arm mense in die wêreld. Lees hier wat die Bybel oor inkomste-verskille sê.

deur Piet en Wilna Myburgh


Wanneer mens oor ongelykheid in inkomste praat sou mens graag wou dat almal gelyk moet wees. Tog lees ons op verskeie plekke in die Bybel van ryk mense én van arm mense. Ook bedelaars was ’n algemene verskynsel in die Bybel.

Ons lees van die ryk jong man in Lukas 18:18-30, ryk grondeienaars en die ryk man in Lukas 12:18 wat so ’n groot oes gehad het dat hy sy skure groter wou bou. Nêrens in die Bybel staan dit dat ’n mens nie ryk mag wees nie. Talle baie besondere gelowiges was ook baie ryk, soos Abraham, of Job, of Salomo. Kyk na die strak kontras tussen die ryk man en Lasarus; Lukas 16:19-31.

Die tien gebooie is ’n goeie aanduiding dat God nie beplan het dat almal gelyke inkomste sal hê nie – in die 10de gebod word ons gewaarsku om nie te begeer wat ander het nie. Ons word verder beveel om nie te begeer nie, om nie gierig te wees nie, en om te waak teen jaloesie.


Wat word bedoel met inkomste-ongelykheid?

Ons het vandag die nodige statistiek om die ware omvang van die verskil tussen ryk en arm te bepaal. Volgens die Wêreldbank het Suid-Afrika die hoogste inkomste-ongelykheid in die wêreld. Hierdie ongelykheid word weergegee in die Gini-koëffisiënt.

Wat beteken dit in die werklikheid? Die top 20% van die bevolking in meeste lande hou ’n mediaan van 47% van die inkomste. In Suid Afrika verdien die top 20% van die bevolking egter bykans 70% van die inkomste. Die res word verdeel tussen die sogenaamde middelklas en die res van die bevolking wat beteken dat die laagste 20% van die bevolking slegs 5% van die inkomste verdien.

Dis net ’n paar voorbeelde. Lees meer hier, en hier oor Suid-Afrika en die res van die wêreld se Gini-koëffisiënt. 


Inkomste-ongelykheid in Suid-Afrika

Suid Afrika het ’n verdere vorm van ongelyke inkomsteverdeling wat op geslag en ras baseer is. Dié onderskeid wys ook waar werkloosheid die hoogste is. Dit het aanleiding gegee tot wetgewing wat nou bepaal dat mense wat soortgelyke werk of werk van soortgelyke waarde verrig dieselfde besoldiging moet ontvang.

Die Wet op Gelyke Indiensneming beskryf sulke ongelyke salarisse as onbillike diskriminasie. Die wetgewing laat egter werkgewers toe om om op objektiewe en rasionele gronde ’n onderskeid te maak in die salarisse wat betaal word soos verskillende kwalifikasies, vaardighede, produktiwiteit en lang diensjare.

Om die werkgewer hierin by te staan word riglyne in die Kode vir Goeie Praktyk: Gelyke Besoldiging vir Werk van Gelyke Waarde verskaf. Werkgewers doen ook jaarliks verslag oor die vordering op die pad van gelykheid.


Is inkomste-ongelykheid reg?

Ons het nou ’n goeie agtergrond van inkomste-ongelykheid. En dit blyk sterk dat dit in Suid-Afrika ’n werklike probleem is. Ons moet egter ook weet of dit geregverdig is volgens die Bybel. Daarom kyk ons na wat die Bybel oor inkomste en gelykheid sê.

1. Almal is gelyk voor God, maar nie in inkomste nie

Ons weet dus dat ryk en arm nog altyd bestaan, maar waarop die Bybel net so groot klem lê is wat Spreuke 22:2 vir ons opsom:

Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak.

God het alle mense gelyk gemaak, maar daar is ’n onderskeidenheid tussen ons. In Eksodus 4:11 maak God dit duidelik dat Hy mense verskillend gemaak het:

Wie het aan die mens ’n mond gegee? Wie maak stom of doof of siende of blind? Is dit nie Ek, die Here, nie?

2. Gelyk voor God, maar nie dieselfde nie

Ons het elkeen verskillende talente ontvang. Die gelykenis van die muntstukke (Lukas 19:11-27) is ’n goeie voorbeeld van hoe ons hierdie talente moet gebruik.

Ons lees van ’n man wat op reis gegaan het en sy besittings aan sy slawe toevertrou het. Hy het aan elkeen “volgens sy bekwaamheid” gegee. Twee van dié slawe het ’n 100% wins gemaak op wat hulle ontvang het, maar die derde een het sy een muntstuk versteek en net so teruggegee.

Hieruit sien ons dat ons die talente en gawes wat God aan ons gegee het moet gebruik. Ons sien ook dat ons nie almal dieselfde bekwaamheid, oftewel talente het nie.

3. ’n Gelyke kans vir elkeen

Ons het elkeen verskillende talente ontvang, en God gee ons die opdrag om hierdie talente te gebruik (Romeine 12:6-9). Ons kry telkens in die Bybel die opdrag om te werk. 2 Tessalonisense 3:10 stel dit só:

As iemand nie wil werk nie, moet hy ook nie eet nie.

Maar kan ons almal dieselfde werk doen? Die antwoord is nee. Wat egter gelyk moet wees is ons geleentheid om ons talente te kan gebruik. Dus vermy ons ’n stelsel wat mense beperk en die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika maak dit vir elkeen moontlik om vrylik aan die handel en regsverkeer deel te neem en gee elkeen, selfs die met gebreke, toegang tot die arbeidsmark.


Riglyne vir dié mense met ’n groter inkomste

Dis duidelik dat almal nie dieselfde inkomste sal hê nie. Daar sal altyd arm mense wees, én ryk mense. Ons kry egter ook in die Bybel die voorskrifte van hoe alle mense hulself moet handhaaf. God bepaal dat dié met beter omstandighede moet deel in die las om die wat minder goed af is, te versorg.

Een van die eerste take van die eerste gemeente was om die weduwees te versorg (Handelinge 6:1 en 1 Timoteus 5:3). Behalwe die versorging van die wat slegter af is, moet ons ook onthou dat God ons teen hebsug waarsku (Lukas 13:15). Hy waarsku dat ons nie moet begeer nie, maar dat ons moet tevrede wees met wat ons het.

Hier is net ’n paar verse wat God se riglyne teenoor armes weergee:

1 Johannes 3:17

Maar wie wat die goeie van hierdie wêreld het en sien dat sy broer gebrek het en sy innerlike medelye vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?

Levitikus 19:9-10

En as julle die oes van julle land insamel, moet jy nie die hoeke van jou land heeltemal afoes nie … jy moet dit vir die arme en vreemdeling laat oorbly.

Deuteronomium 15:11

Want die armes sal in die land nooit ophou nie; daarom beveel ek jou en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir jou arme en jou behoeftige in jou land.

Spreuke 21:13

Wie sy ore toestop vir die geroep van die armes, hy sal self ook huil, maar nie gehoor word nie.

Deuteronomium 24:14-15a

Jy mag nie ’n huurling wat arm en behoeftig is, laat swaarkry nie, of hy nou al ’n volksgenoot is of ’n vreemdeling … Jy moet hom sy loon nog dieselfde dag gee, voor die son ondergaan, want hy is arm en reken op sy loon.


Hoe kan ons weet of die inkomste-ongelykheid geregverdig is?

As Christene volg ons wat die Bybel sê. Jy kan dus weet dat as jy die Bybelse riglyne volg, jy op die regte pad is. En as elkeen van ons hierdie riglyne volg, sal daar steeds ryk en arm wees, maar die een wat meer het, sal die een wat minder het help versorg. En meer nog, elkeen sal .n gelyke kans hê om sy/haar talente te gebruik om ’n inkomste te verdien. Dus kan die inkomste-ongelykheid net geregverdig wees as ons almal al hierdie riglyne navolg.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui