Waarom doop ons met water?
Wanneer jy gedoop word, word jy geestelik skoongemaak. Lees hier hoe water simboliseer dat die ou mens afgewas word.
Een van die mees algemene elemente wat die Bybel van voor tot agter simbolies gebruik, is water. Water word op verskillende maniere gesimboliseer, soos bv. met oordeel en vernietiging (Genesis 6:17; Eksodus 14:1–15:21) sowel ook met verlossing en geestelike reiniging. As dit kom by geestelike reiniging, wat simboliseer water by die Christelike doop? Of ons kan só vra: Waarom doop ons met water?
Die simboliek van water by die doop
Seremoniële reiniging was ’n algemene ritueel in Israel en onder die heidense volke. In die heidense godsdienste was daar ’n diep oortuiging dat water die krag het om ’n mens heeltemal te reinig.
Vandag nog is daar sommige godsdienstige mense wat glo dat die water wat by die doop bedien word, een of ander goddelike krag het. So word daar soms gestry, of ’n ophef gemaak, oor die hoeveelheid en watter soort water (bv. Jordaanrivier) gebruik moet word.
By die doop gaan dit immers nie oor die water nie, maar oor wat die water simboliseer. Die water simboliseer Jesus Christus se bloed wat ons vir eens en vir altyd van ons sondes reinig. Dit simboliseer die afwassing of aflê van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (vergelyk Esegiël 36:25; Hebreërs 1:3; 10:22).
Dit maak egter nie saak hoeveel of watter soort water gebruik word nie (vergelyk Handelinge 8:35-36). Dit is nie die water wat reinig nie, maar alleen Christus se bloed en die Heilige Gees wat ons reinig.
Hoe moet die doop bedien word?
Vanuit die Bybel is daar twee metodes, naamlik besprinkeling en onderdompeling. Deur die eeue was hierdie ’n groot geloofsvraag – watter metode is eintlik korrek? Vandag is daar sommige mense wat steeds ’n onnodige kwessie hiervan maak. Weereens, dit gaan nie oor die hoeveelheid water nie, maar wat die water simboliseer. Kerke kan dus self besluit watter metode die simboliek van die water die duidelikste vir hulle na vore bring, maar hulle moet ook gretig sorg dat dit reg en ordelik bedien word.
Ons sal ons knee moet buig om verlossing te kry