Die Lig bring ons tot bekering


Net soos wat God eens in Genesis beveel het: “laat daar lig wees!” (Genesis 1:3), net so beveel Hy dat ons donker harte ineens verlig moet word. Lees hier met wat en hoe ons verlig word.


deur ds. Marnix Boersema

God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.

2 Korintiërs 4:6

Net soos wat God eens in Genesis beveel het: “laat daar lig wees!” (Genesis 1:3), net so beveel Hy dat ons donker harte ineens verlig moet word. Dit bring dadelik dié vrae by ons op: Verlig word met wat, en hoe?

Johannes vertel vir ons dat Jesus Christus die Lig is wat na die wêreld gekom het: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Johannes 1:4-5). Díé Lig was natuurlik ook teenwoordig in Genesis toe die Vader alle lig te voorskyn gebring het. Die Christus-Lig was van ewigheid af daar – “God uit God, lig uit lig, gebore en nie gemaak nie” (Geloofsbelydenis van Nicea).

As die Here sy lig in ons harte skyn, soos Paulus sê in 2 Korintiërs 4:6, dan beteken dit dat God ons harte vul deur die Heilige Gees met die ewige Christus-Lig in wie daar ware lewe is! Wanneer ons harte so verlig word, lééf ons werklik. Lééf ons geregverdig deur die geloof in Christus.

Die Here se Gees verlig ons met niks anders nie, as die volle Waarheid. Nou vra jy dalk, net soos Pilatus van ouds: “wat is waarheid?” (Johannes 18:38).

Christus skyn vir ons die lig op die onderwerp as Hy sê: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe” (Johannes 14:6). Die Waarheid is nie maar ’n filosofiese konsep of ’n abstrakte string feite nie – die Waarheid is ’n Persoon, dié Persoon. Christus is die Waarheid en juis vir die rede is daar geen duisternis, geen onwaarheid in Hom nie — Hy is ewige, heilige Lig.

Dieselfde God wat in Genesis die lig gemaak het, verlig ons harte met die Waarheid en so maak Hy ons totaal nuwe skepsels! Hy maak die oë van ons harte oop, sodat ons die Lig sal sien en so deur die Heilige Gees weergebore word. Die Heilige Gees getuig nou in ons harte van die Waarheid (Johannes 15:26) en ons word ook deur die Here beveel om “in liefde vas te hou aan die waarheid” (Efesiërs 4:15) wat ons vry maak (Johannes 8:32).


As mense met verligte harte vol van die Waarheid word ons nou geroep om die Lig van Christus in hierdie donker wêreld te weerkaats:

Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Matteus 5:16

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui