Kies Jesus, kies die Lig

Ons lees in Johannes 3:19 dat mense die duisternis liefgehad het bo die lig. Kies jy Jesus bó die duisternis? Laat die Lig van die wêreld jou lewe verlig.

deur ds. Lohan Linde

Jy is verskriklik opgewonde oor ’n eregas wat na jou huis toe kom. Jy maak jou huis skoon, jy ruim alles op wat dalk net kan lyk of dit deurmekaar is, jy maak elke kolletjie op die vloer skoon en stof af waar jy lanklaas afgestof het. Jy beplan vir weke lank oor wat op die spyskaart gaan wees, wat om te eet en te drink, watter peuselhappies uitgesit gaan word. Die groot dag breek aan, en daar is ’n klop aan jou deur. Jou eregas is hier, laat jy hom dan nou inkom?

Johannes 1 vers 11 sê:

Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

Hierdie eregas wat ons ontvang, die familielid wat na ons huis toe kom, is nie maar net nog iemand nie. Hy is iemand spesiaal. Die opgewondenheid om iemand te sien wat jy lanklaas gesien het, die trots wat daar is oor dinge wat jy reg gedoen het. Dit is hoe dit moet wees as jy weet dat dit Jesus is wat jy as ’n eregas in jou huis, in jou lewe ontvang. Tog is daar mense wat nie vir Jesus wil ontvang nie. Wat die eregas, maak nie saak wat hy alles vir jou doen en beteken nie, nie wil ontvang nie.


Het jy die deur vir Jesus oopgemaak?

Dit is die belangrikste vraag wat elke gelowige moet beantwoord: Is Jesus in my lewe?

As jy vir ’n Israeliet gaan vra het of hy uitsien na die koms van die messias, sou jy ’n baie luidrugtige ja gekry het. Dit is in die tyd voor Jesus se geboorte die grootste gebeurtenis waarna elke Israeliet uitgesien het, en wat het toe gebeur? Jesus het na sy eiendom toe gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie, sy eie mense het Hom buite laat staan terwyl Hy klop. Sy eie mense het geweier om Hom in te laat.

Dit is nie dat Jesus gebore is in ’n plek wat Hom nie kon erken en aanvaar nie. Dit is nie dat hulle nie geweet het Wie en Wat Hy is nie. Hy is menslik gebore uit die stam van Dawid, ’n spesiale stamboom, iets waaroor mense nog baie trots gehad het. En tog het die volk nie gesien nie, en wou hulle nie glo nie, hulle het eerder dertig jaar na die lig na die aarde toe gekom het, saam met die duisternis gestaan en skreeu: “Kruisig Hom, Kruisig Hom!”


Kies jy die lig of die duisternis?

Die mense wat Jesus nie aanvaar het nie, was wat ons vandag as kerkmense kan beskou. Hulle het die feeste nagekom, die Sabbat onderhou, maar toe die Lig na die aarde toe gekom het, het hulle nie die Lig herken nie, en eerder die duisternis gevolg. Wat as Jesus sou terugkom, sal jy sy Stem herken, sal jy Hom volg? Weet jy wie die Eregas is wat jy by jou huis innooi?

Kyk wat sê Johannes 1 alles oor ons Eregas:

  • Hy gee lewe.
    Johannes 1:4 “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.”
  • Alles het deur Hom tot stand gekom, en Hy is hier!
    Johannes1:10 “Hy wás in die wêreld—die wêreld het deur Hom tot stand gekom—en tog het die wêreld Hom nie erken nie.”
  • Hy gee die genade, Hy is die genade van God af.
    Johannes 1:16 “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.”

Klink dit soos iemand wat jy ’n enkele minuut langer buite wil laat staan? Of wag jy vir iets? Die regte tyd? Wanneer jou dinge eers agtermekaar is? Wanneer jou huis skoon is? Wanneer jy tyd het? Of sommer net vir eendag? Sien, daar is ons nou al weer by die eendag, sal jy Hom eendag raaksien, sal jy Hom volgende jaar volg? Daar is mos altyd nog tyd oor?


Die Heilige Gees as geskenk van lig

As jy Jesus ontvang het, as jy die Eregas ingenooi het, gee Hy vir jou ’n geskenk. Jy ontvang die Heilige Gees, dit is soos ’n geskenk wat die Eregas vir jou gee, wat in elke vertrek van jou huis staan. Hy gee vir jou ’n lamp wat elke vertrek, elke hoekie en draai, elke deel van jou huis en jou lewe verlig. Hierdie lig is nooit weg nie, selfs in die donkerste van tye skyn hierdie lig deur jou, verlig Hy jou pad vorentoe.

Dié Lig is die Heilige Gees, en wanneer die Heilige Gees in jou lewe, in jou hart intrek, dan is daar nie meer plek vir duisternis nie. Dan beheer Jesus Christus jou lewe. Dit is die wonderlikste gebeurtenis van jou lewe. Want dan is jy nooit meer alleen nie. Dan kom God, die Vader van alle dinge na jou toe en sê vir jou:

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Johannes 1:12

Omdat jy my Seun ingenooi het, aanvaar het, ontvang jy die ewige lewe, ontvang jy die voorreg om deel te wees van My familie, om deel te wees van My huisgesin. Nooit weer is jy alleen nie, want die Lig van die wêreld verlig jou lewe!

Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.

Johannes 1:16

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui