Jesus is die ware Lig – volg Hom!

Jesus is die Lig wat aarde toe gekom het. Lees hier wat dit beteken om dié Lig te volg en hoe ons dit moet doen.
deur ds. Hardus Lee
Ons ken die verhaal so goed. Ons lees daarvan in Matteus 2:1-12. Die manne uit die ooste wat die ster sien, en die Koning van die Jode gaan soek. Ons sien die romantiese beeld van die manne en hul kamele wat die geskenke aan die babatjie in die krip bring. Hierdie manne wat as “wys” beskryf word. Maar waarom is hulle wys? Wat maak hierdie manne spesifiek “wyse” manne?
Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons mooi kyk wat presies hier gebeur het. Die manne, wat die sterre bestudeer het, het ’n ander ster gesien. ’n Ander lig het opgegaan, en hulle het hierdie lig gevolg.
In Johannes 1:4-5 lees ons ’n beskrywing van hierdie lig: “In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.”
Dit is duidelik: die wyse manne volg die lig, hulle vind vir Christus, en Hy is die lig vir die mense.
Hoekom moet daar ’n lig vir die mense wees?
Mense het ’n lig nodig, want die mens leef in die duisternis. Deur ons sondes en ons oortredings teen God, leef ons in die duisternis voort. Dit was nodig dat daar vir ons lig moes kom.
Die Lig het onder ons kom woon
Hier is wel ’n interessante stelling wat in Johannes 1 gemaak word. Ons lees dat Christus, die Lig, die Woord onder ons kom woon het. Die woord wat hier gebruik word beteken letterlik “Hy het kom tabernakel.” Hy het sy tabernakel onder die volk kom opslaan.
Die verwysing na die tabernakel moet ons aandag dadelik op die Ou Testament vestig. Die Here was regdeur die bestaan van die volk sigbaar teenwoordig deur die tabernakel. Vir ons het daar nou ’n lig opgegaan, Jesus Christus het na die aarde gekom sodat ons nie langer in die duisternis hoef te leef nie.
Lig is Lewe – en daarom is die ewige Lewe slegs deur Hom te verkry. Hy het na die wêreld gekom om die hoop en lig van die ewige lewe aan die mensdom te gee. Ja, wie kan tog hierdie versoening gebring het, anders as die Seun van die lewende God self? God self kom na ons toe. Hy kom tabernakel onder ons, sodat ons nooit deur Hom verlaat hoef te word nie.
Hoe ontvang ons die Lig?
Dit kan nie gekoop word nie, maar kan slegs as ’n geskenk gratis ontvang word. Jesus gee dit slegs aan diegene wat Hom aanvaar; diegene wat besluit het om te leef soos mense van die lig.
Die lig gaan nie vir almal op nie
Hoe jammer dat sy eie volk – die volk wat met die tabernakel en die tempel groot geword het – nooit die Messias raak gesien het nie. Die lig het nooit vir hulle opgegaan nie. Die altaar in die tabernakel was vir die volk Israel ’n gedurige herinnering dat hulle die uitverkore volk van die Lewende God is. Uitverkies om heilig te lewe. Heilig volgens die wet van God. Maar dit was ook ’n gedurige herinnering aan hulle onvermoë om aan hierdie eis te voldoen.
Die ware Lig het aarde toe gekom
Wanneer Jesus onder ons kom tabernakel kom herinner Hy ons nie net aan die lewe wat Hy graag wil hê ons moet lei nie – Hy kom wees die volmaakte voorbeeld daarvan. Hy is as mens onder die wet gebore, het dit volmaak uitgeleef en daaronder gesterwe – sodat ons vry kan wees van die wet.
Daarom lees ons dat Hy genade en waarheid aan ons bring: In die tabernakel het Moses die waarheid, die geregtigheid en die wet van God beklemtoon, terwyl Jesus weer gekom het om veral sy genade, liefde en vergifnis aan ons te toon. Die wet kan niemand red nie.
Redding is ’n daad van God se genade
Moses was die instrument waardeur die wet gegee is, maar Christus het gekom om die wet te vervul, dit wil sê tot sy volle betekenis deur te voer. God se wil en karakter word aan die mens deur die wet bekend, en word duidelik in Jesus Christus geopenbaar. God se openbaring kom nie meer van koue klipplate nie, maar uit die lewe van ’n mens. Jesus bring die waarheid, dit is wat vasstaan volgens God se wil. Sy heerlikheid is sigbaar in sy goedheid en genade.
Jesus Christus ís die ware Lig
Jesus, die ware Lig, help ons om die pad na lewe in God raak te sien en wys vir ons hoe om op dié pad te loop. Christus wil egter hê dat sy volgelinge die afskynsel van sy lig in hierdie ongelowige wêreld moet laat skyn. Dit is onder andere só omdat ’n ongelowige nie die helderheid van sy lig sal kan verduur nie. Ons rol as weerkaatsers van Christus se lig lê daarin dat ons vir Hom moet getuig. Die vraag wat ons vandag moet beantwoord is: Is ons wys? Volg ons die Lig?