Só bring selfbeheersing jou nader aan God
Dr Hendrik Booysen vertel hoe selfbeheersing ons nader aan die Vader bring, want ons identiteit word deur Jesus gevorm. Lees hier.
Maar die vrug van die Gees is die liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie.
Galasiërs 5:22-23
Daar is etlike Bybelverse wat handel oor selfbeheersing. My gunsteling natuurlik is Galasiërs 5:22-23 wat handel oor die vrug van die gees. Ons gaan nou gesels daaroor. In die begin het God die hemel en die aarde geskep en die aarde was woes en leeg. Ons almal ken die eerste deel van God se Woord baie goed. Deur middel van die eerste ses dae van God se skeppingstydperk het God orde geskep, en ook die mens om God te verteenwoordig met die beheer van die skepping.
Jare terug het ’n pastoor ’n preek oor die vrug van die gees gedoen, weet nie of ek sy naam mag noem nie, maar glo hy sal weet van wie ek praat. Op daardie stadium het dit geen betekenis gehad vir my nie, ook nie van toepassing gewees nie, want ek was in volle beheer van my lewe gewees. Jare later besef ek, ek was die dwaas wat gedink het ek het beheer. Selfbeheersing is die skild wat alles beskerm, in my en jou geloof wat ons karakter en menswees bepaal.
Ons is geskep volgens die beeld van die Drie-enige God:
God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep.
Genesis 1:27 (1983 Vertaling)
God het ons volgens sy beeld geskep om Hom te verteenwoordig. Hoe verteenwoordig ons die Vader? Ons gedrag tans as mans en vrouens op die aarde is geen goeie voorbeeld nie. Dit is waar my besef gekom het dat ek en my idee van beheer net ’n “scam” van die satan is.
Ons moet selfbeheersing toepas elke sekonde van die dag en nag, om God se ambassadeur te kan wees. Jesus het gesê in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” Jesus sê ook in vers 12: “Dit verseker ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan.” Om ’n dissipel te wees moet ons, ons ou lewe aflê, ons kruis opneem en Jesus volg. Ons moet soos Jesus leef, soos Hy optree en soos Hy die werke van God op aarde doen. Alleenlik dan is ons verteenwoordiger, ambassadeurs van God.
En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die Godsvrug, en by die Godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naaste liefde.
2 Petrus 1:5-7
Net soos ek kan jy al die geleerdheid hê in teologie, maar dit maak jou nie ’n ambassadeur nie. Geleerdheid gee jou net ’n sekere persentasie kennis, maar ons het God se kennis, wysheid en insig nodig om ten volle selfbeheersing toe te pas. Ek kan reguit vandag sê, as jy dink dit is maklik maak jy ’n fout. Onthou ons moet ook gelukkig wees, vreugde geniet en leef terwyl ons God se hande en voete op aarde is. Dit is ’n groot verantwoordelikheid.
Ons kan nie opregte liefde toon teenoor ons medemens as ons sonder Goddelike beheer lewe nie. Verstaan my nie verkeerd nie, ek sê nie jy mag nie pret hê nie. Nee genade, God wil hê ons moet onsself geniet. Hy wil sien dat ons lag en stout wees. God wil ons sien dans en opgewek wees. Maar alles onder beheer, alles in die wil van die Vader. Kan dit gedoen word? Natuurlik kan dit gedoen word, God het pret vir ons geskape.
Selfbeheersing bring ons nader aan die Vader, want ons identiteit word deur Jesus gevorm. Ons beskerm die liefde en God is liefde.