Wat is die boodskap van die evangelie?
deur ds. Dirk Meijer
Wat is die evangelie? Op ’n manier klink dit na die eenvoudigste vraag wat daar bestaan. Tog vind ons onsself baie vinnig dat ons vir iemand van die evangelie wil vertel, maar wat moet ons dan vir hulle sê? Wat is die evangelie? Wat is dit wat ek glo?
Inderdaad is dit ’n baie eenvoudige vraag, en op die vraag is daar ’n eenvoudige antwoord. Nie ’n oppervlakkige antwoord nie, maar wel eenvoudig – verstaanbaar, en tog so ondeurgrondelik diep. As jy ’n gelowige is, beteken dit jy ken die evangelie, want jy kan die evangelie nie glo as jy dit nie ken nie!
Die boodskap van verlossing
Die woord “evangelie” beteken baie letterlik “blye boodskap” of die “goeie nuus”. Dit is die heel beste boodskap wat daar is! Die rede hoekom dit so ’n goeie boodskap is, is omdat dit die heel diepste probleem waarin ons as mens onsself bevind, aanspreek. Dit is ’n boodskap van verlossing!
Hoekom het ek verlossing nodig?
Voordat jy oor die goeie nuus kan dink, is dit nodig dat jy moet besef wat jou probleem is. Voordat jy kan praat oor verlossing, moet jy dit vra: waarvan moet ek verlos word? Dit help tog nie om iemand te oortuig van verlossing as hy nie besef hy is letterlik in lewensgevaarlike nood nie.
Ons probleem is dat ons as mens van nature sondaars is en daarom sonde doen. Paulus sê dit só in Romeine 3:10-11: “Daar is niemand wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie …”
Dit is egter nog net een kant van die probleem. Die ander kant is: God haat sonde. Dit is ons as mens se grootste probleem: God is heilig en regverdig, en ons is nie! Want as God heilig en regverdig is, beteken dit ons verdien om deur Hom gestraf te word. Voor ons kan kom by verlossing, moet ons besef dít is waarvan ons verlos moet word: God se straf oor ons sonde.
Dit sou heeltemal reg wees as ons in hierdie probleem op ons eie gelaat is. Dit sou bloot regverdig gewees het om te kry wat ons verdien, om vir ewig dood te wees en God se straf te dra. En tog is daar goeie nuus, daar is ’n evangelie! Want God is nie net heilig en regverdig nie, Hy is ook genadig en barmhartig.
Hoekom kan ek verlossing kry?
In plaas daarvan dat die Here ons laat met wat ons verdien, kom Hy uit sy genade na ons toe en Hy verlos die wat Hy wil. Hierdie verlossing het gebeur deurdat Hy vir ons ’n Verlosser gegee het: Jesus Christus. Om hierdie rede word daar in die Bybel na die evangelie baie dikwels verwys as “die evangelie van Jesus Christus”. Dit is die “goeie nuus van Jesus Christus”, want dit is nét deur Hom wat ons uit ons probleem van sonde bevry kan word.
Dít is die goeie nuus!
Die goeie nuus van Jesus Christus is dat Hy self God is, en vir ons mens geword het. As mens het Hy volkome gehoorsaam aan God gelewe. Hy het aan die kruis my sondes op Hom geneem en die straf daarvoor in my plek gedra. Hy het vir my sy goeie werke gegee, en God kyk na my asof ek, soos Christus, heeltemal aan Hom gehoorsaam was. Na drie dae het Hy uit die graf opgestaan, en daarmee vir my die lewe verdien. Hy het opgevaar na die hemel, en op hierdie einste oomblik tree Hy vir my as Middelaar voor God in. Hy is vir my ‘n waarborg dat ekself ook tot in ewigheid by Hom gaan wees. Wat is beter nuus as dit?
Wat die goeie nuus so goed maak, is omdat dit beteken dat God verheerlik word, en dat ons verlos word om Hom te verheerlik. God straf die sonde, Hy beskerm sy eie eer, en tog straf Hy die sonde nie aan my nie, maar aan Christus wat Homself in my plek oorgegee het.
Elkeen wat deel het aan Christus, gaan nooit ken wat dit is om deur God gestraf te word nie. Nee, wie deel het aan Christus, gaan voor God staan en homself hierop beroem: ek is uit my eie ’n sondaar, maar Christus het vir my betaal. Ek het niks gegee om voor God te mag lewe nie, maar ek gló die evangelie. Ek dra niks vir my verlossing by nie, maar ek ken en vertrou vir Christus.
Dít is my enigste troos in lewe en in sterwe, dat ek nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser en Saligmaker, Jesus Christus, behoort. Dat God deur Hom my Vader is, en dat Hy my nou deur sy Gees lei om tot sy lof en heerlikheid te lewe.
Dít is die evangelie, en dit is ’n evangelie wat werd is om verkondig te word. Daar is geen ander nie!