Leef as tempel van die Heilige Gees

In 1 Korintiërs leer ons van die liggaam as die tempel van God. Lees hier hoe ons anders as die wêreld moet lyk.


deur ds. Werner Brotherton

Het jy al gewonder wat die Bybel bedoel wanneer daar staan dat ons liggame ’n tempel van die Heilige Gees is? Is dit iets waaraan jy elke dag as ’n gelowige dink? Ons behoort elke dag daaraan te dink. Met alles wat ek doen behoort ek myself te vra: is dit tot eer of oneer aan my liggaam as tempel van die Heilige Gees?

Die tempel van die Ou tot Nuwe Testament

In die Ou Testament het God onder sy volk gewoon in die tempel of die tabernakel. Daar was ’n gedeelte in die tempel/tabernakel bekend as die allerheiligste. Daar mag nie enigiemand in die allerheiligste ingegaan het nie. Die hoëpriester kon net een keer per jaar daar ingaan, en dan moes hy homself volkome reinig voor die tyd.

In die Nuwe Testament het dit egter verander. Die Heilige Gees is uitgestort en so woon God nou ín ons. Paulus vra aan die gemeente van Korinte in 1 Korintiërs 3:16 of hulle nie weet dat hulle ’n tempel van God is en die Gees van God in hulle woon nie.

Paulus skryf oor die liggaam as tempel

Nou moet ons eerstens besef dat Paulus hier aan ’n gemeente geskryf het. Ons leer dus dat die gemeente die tempel van die Heilige Gees is. In 1 Korintiërs 6 bring Paulus dit vir ons nog nader. Eers praat hy van die gemeente as die liggaam van Christus en in vers 19 vra hy of die gemeente nie weet dat hulle liggaam ’n tempel van die Heilige Gees is nie.

Dit word dus baie persoonlik. Dit gaan nie meer net oor die gemeente wat rein moet leef as tempel van die Heilige Gees nie, maar ook ek as lid van die gemeente. Maar waarom het Paulus dit vir hierdie gemeente gesê? Wat het aanleiding gegee dat hy dit vir hulle moet sê?

Die sonde dat die liggaam onbelangrik is

Daar was een spesifieke sonde wat hierdie gemeente gedoen het wat Paulus hier aanspreek. En dit is om deel te neem aan prostitusie. Destyds was dit nie ongewoon as ’n man na werk eers na ’n prostituut toe gaan nie, om “ontslae te raak van die dag se stres”. By die tempels was daar prostitute. By partytjies. Dit was nie vreemd nie.

Vandag is dit wel vreemd, dit is gesien as ’n skande, en baie keer dink ons ook sleg van so ’n vrou. Die gemeente het ’n leuse gehad wat in vers 13 saamgevat is. Die voedsel is vir die maag, en die maag is vir die voedsel. Maar sê Paulus, albei sal eendag tot niet gemaak word.

Hulle het die leuse ook verder gevat. Seksuele omgang is gemaak vir die liggaam, en die liggaam gemaak vir seksuele omgang. Hulle het hiermee gesê dat dit goed is om van jou drange ontslae te raak, want dit maak nie saak nie.

Dit is ’n gedagte wat Plato na vore gebring het. Die liggaam is onbelangrik. Die liggaam is maar net ’n tronk vir die siel. Daarom kan ons doen met ons liggame wat ons wil. Selfs met die heidense gebruik om jou liggaam te verbrand wanneer jy tot sterwe kom.

Paulus bevestig dat die liggaam belangrik is

Nee, Paulus bring ons hier om te besef dat ons liggame baie belangrik is! Hy bewys dit in vers 14. God het Christus opgewek, en so sal ons ook opgewek word. Nie enige ander liggaam nie, hierdie liggaam sal gevat, opgewek en verheerlik word. Paulus beskryf dit baie mooi in 1 Korintiërs 15.

So belangrik is ons liggame vir die Here dat Hy dit sy tuiste maak. Hier bring Paulus dit bietjie nader. Dit is die gemeente, maar in elke lid van die gemeente bly die Heilige Gees. Daarom vra Paulus in 1 Korintiërs 6:15:

Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie.

Elke gelowige is ’n lid van Christus se liggaam. Dit beteken dat ek nie kan doen net wat ek wil nie, want my liggaam behoort nie aan my nie (1 Korintiërs 6:19). My liggaam is ’n tempel van die Heilige Gees. Dáárom moet ek heilig leef. Die woord heilig beteken om afgesonder, of anders as die wêreld te leef.

As tempel van die Heilige Gees lyk ek anders as die wêreld. Ek moet in alles soek om God te eer en te verheerlik.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui