Jesus is die weg, die waarheid en die lewe

Ons kan ’n nuwe lewe in verhouding met God leef omdat ons Christus as die weg en die waarheid en die lewe ken. Lees hier meer.

deur Peet van der Westhuizen

In Johannes 14:6 lees ons dat die Here Jesus aan die dissipels sê:

Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Maar om hierdie uitspraak van Jesus te verstaan moet ons ook kyk na wat dit voorafgaan.


Aan die begin van hoofstuk 14 lees ons “Glo in God, glo ook in My”. Jesus beveel die dissipels dat hulle in God moet glo en ook in Hom. Hy gaan na sy Vader se huis om plek voor te berei vir die wat in Hom glo. Hy gaan om plek te berei en as dit klaar gedoen is kom Hy terug om sy dissipels saam met Hom te vat sodat hulle ook daar kan wees waar Hy is.

Dan sê Thomas dat hulle nie weet waarheen Hy gaan nie en dat hulle nie die weg ken nie. Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie. Jesus sê aan Thomas dat Hy die weg is waardeur die gelowiges moet gaan na die huis van sy Vader. Meer as net dit, deur Hom is die enigste manier hoe enigiemand by die Vader kan kom.

Geen sondaar kan op sy eie by die Vader kom nie, maar deur sy gehoorsame lewe en sy kruisdood verdien Jesus om by die Vader te wees. Wanneer ons in Hom glo dan word hierdie verdienste van Hom ook aan ons gegee. Hy is die weg waardeur ons met God versoen word en die ewige lewe saam met God verkry.


Ons lees dit ook in die Ou Testament

In Eksodus 26:33 lees ons: “En jy moet die voorhangsel onder die hakies ophang; en bring die ark van die Getuienis daar, binnekant die voorhangsel. En die voorhangsel moet vir julle ’n skeiding maak tussen die Heilige en die Allerheiligste.” Hier is daar duidelike skeiding tussen God en die mens. Jesus kom om hierdie skeiding weg te neem. Hy is die Weg waardeur ons met God versoen word sodat daar nie meer skeiding tussen God en ons is nie.

Verder lees ons in Levitikus 16 van die groot versoendag wanneer die hoëpriester in die allerheiligste moes ingaan en moes offer vir die sondes van die volk. Jesus offer Homself om ons met God te versoen en is so die weg waardeur ons nou met God versoen is.


Jesus is nie net die weg nie

Maar Jesus is nie net die Weg waardeur ons met God versoen word en waardeur ons saam met God kan leef in die Hemel nie. Hy is ook die waarheid en die lewe. Hy is die waarheid deur Wie ons God leer ken. Jesus openbaar God aan ons, nie net as regverdige regter nie, maar ook as liefdevolle Vader. Hy is ook die lewe. Deur Hom het ons ware lewe waar ons in lewende verhouding met God kan leef, nou reeds in hierdie lewe, terwyl ons die hoop op die ewige lewe saam met God in die Hemel het.


Christus is die weg waardeur ons met God versoen kan word, die waarheid waardeur ons God kan ken en die lewe waardeur ons ook kan lewe. Daar is geen verlossing buite Hom nie. Niemand kan tot die Vader kom behalwe deur Hom nie. Daar is geen verlossing, waarheid en lewe buite Christus nie.

Ons kan daarom ’n nuwe lewe in verhouding met God leef omdat ons Christus ken as die weg en die waarheid en die lewe.


You may also like...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui