Jesus is die opstanding en die lewe
deur ds. Janré van Jaarsveld
Een van die beste maniere om te leer is om vrae te vra. Ek onthou toe ek ’n kind was, het ek my ouers met vrae gepeper. Vrae soos: Hoekom is daar so baie tale in die wêreld? Hoekom word mense siek? Hoekom huil mens? Waar kom babas vandaan? Vrae help ons om te verstaan en om te leer.
Baie van ons vrae het moeilike antwoorde of is ook soms onmoontlik om te beantwoord. Vrae soos: Hoekom het my Ouma kanker gekry? Gee die Here om oor my pyn en my siekte? Hoekom het die Here nie my ouma genees toe so baie mense vir haar gebid het nie? Dit is baie moeilike vrae.
Dit is tog vir ons ’n groot troos as ons in die Bybel van mense lees wat moontlik dieselfde vrae gevra het en dikwels dieselfde emosies en omstandighede as ons beleef het. Die agtergrond van Johannes 11 en die omstandighede rondom Lasarus se dood is vol van mense wat moontlik moeilike vrae vra.
Kon hy wat die oë van die blinde man genees het, nie ook gemaak het dat hierdie man nie sterwe nie?
Johannes 11:37
Mens wonder dan hoekom die Here nie Lasarus genees het nie en hierdie vraag word geïmpliseer in Johannes 11:21, 32 en 37. Die mense waarvan ons hier lees, veral Martha, het net soos ons absoluut geglo dat Jesus die mag het om te genees.
Hoekom het Jesus nie vir Lasarus genees nie?
Ons wat ons Bybel goed ken weet egter hoekom Jesus nie vir Lasarus genees het nie. In Johannes 11:4 lees ons: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.” Ons lees ook in vers 15 “… en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”
Ons sien duidelik dat Jesus nie vir Lasarus genees het nie, want deur hom nie te genees nie strek tot eer van die Here om juis te wys hoe groot God is. So ons word getroos deur herinner te word dat God in beheer is en dat alles tot sy eer strek en dat Hy getrou is.
Gee Jesus om oor ons hartseer en ons lyding?
Vanuit Johannes kan ons duidelik sien en antwoord: Ja! Jesus gee juis om oor ons hartseer en ons lyding. Ons lees dat Jesus baie hartseer was toe Lasarus gesterf het en dat Hy self gehuil het (vers 35). Hy het gehuil saam met die wat gehuil het. Hy gee regtig om oor die hartseer en smart wat ons ervaar.
Ons loof die Here dat sy omgee nie net met trane en hartseer eindig nie. Kan Jesus regtig iets oor die dood en doodgaan doen? Ja, Hy kan!
Jesus noem Homself die opstanding
Martha glo in die Here en sy vertrou, maar Jesus sê vir haar in haar hartseer en stukkend wees dat Hy die opstanding en die lewe is. Dan verklaar Jesus ook self wat dit beteken. Martha glo dat daar in die toekoms ’n opstanding van die dooies gaan wees soos die Here in die Ou Testament al belowe (Genesis 1-3, Jesaja 53 en veral Job 19:25-27) .
Martha weet dit is iets wat moet gebeur en dat dit nog vêr in die toekoms is. Die Here leer hier iets kosbaars vir Martha en ook vir ons. Jesus sê: “Ek is die opstanding …” Dit beteken wie in Jesus glo sal lewe ook al het hy gesterf.
Hierdie woorde het op Lasarus in die graf betrekking. Lasarus het in Christus geglo en Lasarus het doodgegaan, maar hy sal leef! Hy sal opstaan uit die dood, maar om te verduidelik dat die opstanding uit die dood nie net iets van die laaste dag is nie, wek Christus vir Lasarus daardie selfde dag nog uit die dood uit op. Hy is almagtig en deur dit te doen wys Jesus dat die opstanding uit die dood reeds nou ’n werklikheid is.
Die dood is nie die einde nie
Vir ’n gelowige kind van die Here is die dood nie die einde nie. Die oomblik wanneer mens, mens se laaste asem uitblaas is mens dadelik by die Here. Ons weet dit en glo dit. Wie vandag in Christus leef en vandag in Christus sterf sal vandag in Christus verder leef, al het hy gesterf.
Jesus verkondig die evangelie aan Martha
Dit is belangrik om te onthou dat Jesus nie net mooi woorde met Martha praat nie. Hy verkondig die evangelie. Hy wys Martha op die wye omvang van lewe, en waar die dood inpas. Jesus sê en wys vir Martha dat hy die opstanding en die lewe is. Jesus self moet binnekort sterf om aan God se eis te voldoen. Hy Self gaan opstaan uit die dood om die lewe te gee aan almal wat in Hom glo. Jesus is die Een wat lewe gee, selfs in die graf.
As jy glo sal jy nie tot in ewigheid sterf nie
Jesus leer ons ook dat elkeen wat lewe en in Hom glo, nooit sal sterwe tot in ewigheid nie. Dit is ’n kosbare belofte en troos wat Jesus met hierdie uitspraak maak. Hy is die lewe vir almal wat nou in Hom glo. Hy beheer die gelowige se lewe en denke deur sy Woord en Gees. Hy gee vir my en vir jou perspektief en uitkoms in tye van nood. Hy troos in tye van hartseer, pyn en smart, Hy bemoedig ons as ons platgeslaan en moedeloos is. Hy lei ons elke dag in die Waarheid van sy Woord.
Jesus noem Homself die lewe
“Ek is die lewe,” sê Christus. Ek is die lewe vir Martha en Maria, vir Lasarus en vir die seun van die weduwee van Naïn en vir die dogtertjie van Jaïrus. Ek is die lewe vir my dissipels wat My liefhet, vir almal wat God in ewigheid vir Hom uitverkies het en Ek belowe dat almal vir wie Ek die lewe is, nooit sal sterwe nie.
Ja, ons liggame moet wel doodgaan en moet nuut opgewek word, maar wat ons gees en siel betref, hulle sal leef – saam met Christus, by die Vader, in die hemel. Jesus wys dus dat Hy die opstanding en die lewe is.
Ons kan met al ons vrae na die Here toe gaan en weet in Jesus gee God vir ons definitiewe antwoorde. Al het ons partykeer baie seer en baie vrae, loof en prys ons die Here. Ons sien uit na die dag van die wederkoms, waar ons liggaam en siel nuut en heel gemaak gaan word en waar ons nie meer trane en vrae sal hê nie. Staan op en leef hier en nou – met die oog op die ewige opstanding en die ewige lewe.