Die Fariseër en die Tollenaar
Deur ds. Werner Viljoen
Die boodskap wat ons uit die gelykenis van die Fariseër en die Tollenaar kry, is eintlik ’n vraag: Is jou saak met die Here reg?
Jesus het geweet daar is baie mense wat rondloop met ’n groot probleem. Die probleem was dat hulle gedink het hulle saak met die Here was reg, en dit het hulle grootkop laat kry en op ander mense laat neersien.
Is jou saak met God reg?
Om hierdie gelykenis te verstaan moet ons eers verstaan wat Jesus hier bedoel met “iemand wie se saak met God reg was” (Lukas 18:14). Die letterlike vertaling praat van “mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid”. Maar wat beteken dit? As iemand nou vir jou vra of jou saak met die Here reg is, wat sou jy antwoord? Dink só daaraan: As jy nou skielik sterwe, dink jy jy sal hemel toe gaan? En as jy by die poorte van die hemel kom en Jesus vra jou: Waarom moet ek jou hier inlaat? Wat sal jy Hom antwoord?
Die Fariseër se antwoord
“Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ‘n tiende van my hele inkomste’” (Lukas 18:11-12).
Dié Fariseër praat net van ek, ek en nogmaals ek. Hy het nie soseer tot
God gebid nie, as oor homself. Een kommentaarskrywer sê dis amper asof hierdie
ou die Here wil gelukwens met hierdie uitnemende en voortreflike kind van Hom!
Dink jy soos die Fariseër oor jouself? Het jy dalk gedink of gesê: dankie tog
dat ek nie soos hiérdie of dáárdie sondige persoon is nie! Húlle moet tog U
Gees baie meer bedroef as wat ek doen!
Ek, ek, en nogmaals ek … net soos die Fariseër. Eintlik is dit maar net ’n
verskuilde manier om op onsself te roem, om onsself te laat beter voel, om met
ons menslike logika vir die Here te probeer sê: ek stem nie saam daarmee dat ek
niks kan verdien nie.
Die tollenaar se antwoord
“Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig’” (Lukas 18:13).
Jesus vertel die gelykenis en kies die karakters noukeurig want Hy wil
iets baie belangrik by ons tuisbring: Daar is net een manier om die rustigheid
en vrede, wat ons elkeen behoort te soek en na te smag, te verkry, en dit is
deur die gesindheid van die tollenaar te kweek.
Hierdie tollenaar ken sy eie sondeskuld. Hy sien die waarheid raak. Hy weet dat
hy sonder die Here se vergifnis nie van sy sonde skoongewas kan word nie. Sonder
die Here se genade, is daar vir hom geen hoop, vrede of vreugde nie. Jesus
Christus het alles gedoen wat nodig is vir elkeen van ons om nie meer die ewige
en dodelike gevolge van ons sondeskuld voor God hoef te betaal nie.
Bid dat jou saak reg sal wees
“Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is” (Lukas 18:14).
Ons moet met groot ontsag na ons heilige God gaan, met ’n diep besef van ons sonde en ons totale afhanklikheid van God se genade. Vra die Here om jou hoogmoed of grootheidswaan weg te neem. Eers dan kan jy opreg, soos die tollenaar, bid: “O God, wees my, die sondaar genadig.”