Wat is die doel van jou geloof?
Uit die gelykenis van die arm man en die ryk man word ons met ’n belangrike vraag gekonfronteer: Hoekom glo jy?
Deur ds. Piet Venter
Lees in Lukas 16:19-31 die verhaal van Lasarus en die ryk man. Dink jouself nou in hul lewens in. Vir die eerste deel van die verhaal wil ons sekerlik almal eerder die ryk man wees, maar vir die tweede deel, veel eerder Lasarus. Niemand van ons wil tog in hierdie lewe so swaar kry soos Lasarus nie, maar aan die ander kant wil niemand van ons soos die ryk man hel toe gaan nie!
Wat ons eintlik moet vra is nie wié ons wil wees nie, maar hóé ons wil lewe. Hierdie verhaal gaan oor hoe ons met God en sy Woord omgaan, oor die rede waarom ons in God glo. Glo jy net en lees Bybel sodat jy daaruit voordeel kan trek?
Die gelykenis is ’n waarskuwing
Jesus vertel die verhaal vir die Fariseërs. Ons lees in Lukas 16:14 dat hulle baie lief vir geld was. Hulle het geld en voorspoed gesien as seën van God en wou dit najaag, sonder om ook te leef soos God van hulle verwag. Met hierdie gelykenis rig Jesus ’n baie ernstige waarskuwing: Julle kan God nie dien net om die voordeel daarvan te geniet nie.
Wat is die doel van jou geloof?
Is die doel van my en jou geloof en waarom ons God dien en na sy Woord luister net sodat ons die seën van God kan ontvang? Luister ons dan net sodat ons dit wat tot ons voordeel kan strek hoor en ons hoop daarop stel?
Jesus leer ons dat ons moet luister om die koninkryk van God te hoor en daarin te glo. Jesus is Koning is en jy kan alleen gered word wanneer jy in Hom glo. Jy moet só luister dat jy Christus as Koning raaksien en voor Hom buig, dat jy sy stem kan hoor en jou lewe aan Hom oorgee.
Wie in Jesus glo, lewe onder sy heerskappy en volgens die beginsels van die koninkryk. In Matteus 6:33 leer Jesus ons: “… beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God” en dan sal God vir ons sorg.
Doen jy wat die Here beveel?
Albei die manne in Jesus se verhaal het na God se Woord geluister, maar net een het waarlik gedoen wat God hom beveel. Die ryk man het baie seëninge van God ontvang, maar hy het teen die beginsels van die Koninkryk daarmee omgegaan. Hy het sy seëninge net vir homself gebruik om sy eie begeertes te bevredig en ’n luukse lewe te lei.
Die ryk man se ondergang was nie sy geld nie, maar dat hy sy geld verkeerd gebruik het. Hy het gekies om Lasarus mis te kyk en hom nie in sy ellende te help nie, alhoewel die Here Jesus ons leer dat ons na die armes en siekes moet omsien.
Daarteenoor vertrou Lasarus in sy ellende alleen op die Here. Dit leer die Here ons deur die naam wat hy aan die arm man gee: Lasarus – dit beteken “God help”. Daarmee wou Jesus die geloof van die arm man aanwys. Die ryk man wou nie help nie, maar God help sy kind – ook in sy diepste ellende, sorge en armoede.
Die gevaar lê nie in rykdom of armoede nie, maar in hoe ek en jy, wat God se Woord hoor, doen wat God van ons vra. Hierdie verhaal beklemtoon dat hulle wat doen wat God se Woord sê die heerlike beloftes daarvan ontvang – nou en in die lewe hierna.
Ons moenie net reg na God se Woord luister nie, ons moet ook doen wat Hy vra.
Daar is nie tweede kanse nie
Aan die einde van
die gelykenis sien ons hoe die rolle van Lasarus en die ryk man omgeruil word. Op
aarde was die ryk man binne en Lasarus buite. In die hemel is Lasarus binne en
die ryk man buite! Op aarde het die ryk man in weelde geleef, in die hemel
ervaar Lasarus die heerlike, weelderige seëninge van die ewige lewe by God.
Hiermee wil die Here ons waarsku dat daar nie tweede kanse is nie. Ons het net
hierdie lewe om te doen wat ons Koning ons beveel – om te lewe volgens die
beginsels van die Koninkryk. Christus moet eerste kom, en dan my lewe op aarde.
As ons dit andersom wil doen – sal Christus die rolle omruil.
Ons het net die Woord nodig
Nou is die tyd dat ons luister na die Woord van die Here en waarlik daarvolgens lewe. Ons het nie nodig dat een of ander wonderwerk moet gebeur van iemand wat uit die dood moet opstaan om ons te laat luister nie. Ons moenie wag vir een of ander groot ingryping voor ons tot bekering kom en doen wat God beveel nie.
Daar is so baie mense wat vandag hul hoop vestig op wonderwerke wat moet gebeur. Dit is waarvoor die ryk man smeek. Dat die Here ’n wonderwerk na sy familie sal stuur dat hulle gered kan word. Jesus sê egter twee keer: Al wat ons nodig het is die Woord van God. Die Bybel is die swaard van die Gees wat ons vertel van ’n wonderwerk wat reeds plaasgevind het. Jesus Christus is hierdie wonderwerk van God – glo in Hom en leef vir sy koninkryk.
Die Heilige Gees werk geloof deur die Woord. Luister na sy stem en doen wat Hy jou vra – al is dit dan dat jy soos Lasarus lewe! Wie luister na die Woord en daarvolgens lewe, ontvang die heerlike beloftes daarvan. Wie dit nie doen nie, word ontnugter.