Sien uit na jou verlossing in Christus

Wat laat jou opstaan as jy voel asof alles rondom jou platval? In 2 Korintiërs kry ons die versekering van ons verlossing wat ons na die ewige lewe laat uitsien. Lees hier.


deur ds. Daniël Myburgh

Wat motiveer jou in hierdie lewe? Wat laat jou moed hou, selfs al gaan dinge rof? Soms sukkel ’n mens dalk op skool, of dinge gaan sleg by die werk. Dalk sukkel jy om vriende te maak, of jou gesin se finansies is . Hoe hou ’n mens moed in hierdie tye? Wat laat jou opstaan as jy voel asof alles rondom jou platval?

Paulus vertel van swaarkry in hierdie lewe

In 2 Korintiërs 4 en 5 verwoord die apostel, Paulus, iets van hierdie gevoel. Hy vertel nie maar net hoe negatief ’n gelowige soms kan voel nie, hy gee ons’n rede waarom ons soms so voel. En dán gee hy vir ons perspektief oor ons toekoms.

As ons hoofstuk vier bestudeer dan sal ons raaksien dat Paulus eerstens ’n rede gee vir die al die swaarkry wat ons soms in hierdie lewe ervaar: Dit is omdat ons die dood van ons Here, Jesus Christus, saam met ons dra dat die lewe soms so onregverdig en selfs ondraaglik vir ons voel:

Die sterwe van Jesus dra ons altyd saam in ons liggaam, sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.

2 Korintiërs 4:10

Deur die genade vorm ons ’n eenheid met Jesus Christus – die Heilige Gees bind ons op só ’n manier aan Christus vas dat ons in alles van Hom deel. Ons deel nie nét in sy oorwinning oor die sonde en die dood nie, maar óók in sy lyding en sterfte. En daarom ervaar ons, as gelowiges, soms moeilike dae. Ja, tydens hierdie lewe sal ons gedurig ongerief en uitdagende tye beleef, maar tydens die ewige lewe ervaar ons die teenoorgestelde.


Paulus vertel ook van die ewige heerlikheid wat kom

Daar kom ’n tyd wat ons mede-oorwinnaars saam met Christus sal wees (Romeine 8:37). Ons sal ook, soos Christus, uit die dood opstaan en ewig leef. En daarom kan Paulus in 2 Korintiërs 4:17 sê dat ons swaarkry in hierdie lewe maar gering is en dat dit sál verby gaan. Hierdie swaarkry skakel oor in ’n ewige heerlikheid, wat selfs die béste ding wat ons ooit op aarde mag beleef, verreweg sal oortref:

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.

2 Korintiërs 4:17

Ons swaarkry op aarde is tydelik

Deur die werking van die Heilige Gees troos Paulus ons verder deur gelowiges te verseker van die tydelikheid van hierdie lewe. Ons is maar net tydelik hier op aarde – ons ware burgerskap is in die hemel (Filippense 3:20 en 21).

Wanneer ons die genade ontvang om dít te besef, dan sal ons kan moed hou – selfs in die mees ondraaglike omstandighede. Dan sal ons nie nét die hartseer en die gebrokenheid en die seer raaksien nie, maar juis óók die vreugde en die herstel en die verlossing wat Christus bring. Alles wat ons nóú rondom ons sien en beleef, is tydelik, maar dit wat ons in die hemel gaan sien en beleef, is ewig!

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.

2 Korintiërs 5:1

Paulus vergelyk ons aardse lewe met ’n tent

Daarom vergelyk Paulus ons aardse lewe met ’n tent teenoor ons hemelse lewe wat hy met ’n vaste gebou vergelyk. Dié van julle wat van kamp hou, sal weet dat ’n mens ’n tent net tydelik opslaan. ’n Tent is gemaak om net ’n paar dae lank vir ’n mens verblyf te verskaf, waar ’n vaste gebou – soos ’n huis – vir baie jare veiligheid en sekuriteit aan ’n mens bied. Die kans dat ’n baksteenhuis inmekaar val, is baie skraal, maar met ’n tent is mens nie altyd so seker nie. ’n Mensgemaakte huis is duursaam en het die potensiaal om baie lank te hou. Hoeveel te meer ons hemelse huis?


Jesus het onder ons kom woon

In hierdie Kerstyd bring ’n gedeelte soos Johannes 1:14 aan ons groot vreugde. Dáár lees ons dat Jesus Mens geword het en onder ons kom woon het. Dit beteken eintlik dat Hy vir ’n kort rukkie onder ons kom “tent opslaan” het. Hy was net ’n ruk op aarde. Hy het net tydelik hier kom woon.

Jesus moes sy Vader se ewige, hemelse huis prysgee sodat Hy op aarde aan mense gelyk kon word (Filippense 2:1-10). Hy moes tydelik vernéder word sodat ons permanent in God se ewige huis mag woon. Al verdien ons dit nie, maak God dit steeds vir ons moontlik. Die Heilige Gees bind gelowiges op só ’n manier aan Christus vas, dat ons in álles met Hom deel het.


Jesus het gegaan om vir ons plek te maak vir die ewigheid

Kort voor Jesus Christus aan die kruis gesterf het, sê Hy dat Hy na sy Vader se huis toe gaan om dáár vir ons plek voor te berei (Johannes 14:2). Hierdie belofte gee aan ons die grootste rede om vandag vol moed te wees (2 Korintiërs 4:16; 5:6, 8). Selfs al sukkel ons soms op skool of by die werk, al voel ons ongewild tussen ons vriende, al sukkel ons finansieel, kan ons op die Here blý hoop. Ja, gelowiges raak nie in hierdie lewe moedeloos nie en ons wil nie moed opgee nie want ons word gerééld deur die Here getroos.

Ons hou moed, want ons wéét dat daar ’n dag kom waarop Christus ons ten vólle van hierdie gebroke wêreld gaan kom verlos.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui