Die wyse man bou sy huis op die rots

In die gelykenis van die twee fondamente sien ons hoe belangrik dit is om die fondament van ons lewe op die regte manier te bou. Maak Jesus Christus jou fondament.

deur Dr MJ du Plessis

Matteus 7:24-27

Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots. En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.


In dié gelykenis wat ons in Matteus 7:24-27 lees word die lewe van twee mense uitgebeeld. Die Here noem die eerste een verstandig, want hy bou volgens ’n bouplan wat God goedkeur. Hy het sy huis op uitermate sterk fondamente gebou. Die Here vertel dat hierdie huis so sterk was dat die storms hoegenaamd geen skade aan hierdie huis kon aanrig nie.
Die tweede bouer het sy huis bo-op die sand gaan bou. Hierdie bouer het gebou sonder enige fondamente. Dié huis het met ’n groot gedruis inmekaargetuimel toe die storm kom en is verwoes.
Die Here vertel nie in sy gelykenis dat die bouers verskillende tipes materiaal sou gebruik het nie. Beide het dus gelyke kontak gehad met alles wat God hulle bied. Die verskil wat na vore kom, is dat sommige mense verstandig lewe, en ander onverskillig.


Uit die gelykenis is daar sekere dinge baie duidelik:

  1. Die Here praat nie hier van huise nie, maar van mense en die wyse waarop hulle die konstruksies van hulle lewe oprig.
  2. Jou lewe is ’n verhouding met God. Dis ’n verhouding wat aan die eise van God se Woord onderwerp gaan word, en wat ’n bepaalde toets sal moet deurstaan.
  3. Die versoeking sal altyd daar wees om die weg van die minste weerstand te volg. Die gevolg is dat ons nie dinge tot in hulle diepte sal deurworstel nie, en slegs aandag gee aan die uiterlike. Met ander woorde ons sal ’n vertoon van ’n goeie geloof vir ander mense voorhou, maar God wat dieper kan toets, sal weet dat die ondergrond ontbreek.
  4. Die storms waarvan die Here praat is versoekings – in watter vorm ook al. Uiteindelik word almal aan die toets van die eindoordeel onderwerp.

’n Lewe op vaste fondament

Die Here Jesus Christus het ons geleer dat ’n sterk en diep lewe een is van gemeenskap met God. Dit is ’n lewe van gebed. Prakties gestel kan ons sê dat ons die volgende moet doen: Ons moet gereeld bid, en ons moet voortdurend God se Woord ondersoek. Ons moet baie dink oor alles wat vir God vreugde verskaf, en besef hoe oneindig sy genade en sy krag oor ons is.
Paulus praat ook van hierdie dinge. Hy skryf dat die egte Godsvrug van die valse uitgeken kan word wanneer daar ’n ernstige toets aangelê word. Ons moet dus nie verkrummel wanneer ons blootgestel word nie. Dan bewys ons onsself as leeg en sonder inhoud. Fondamentloos, soos die huis op die sand.

Jesus Christus is die vaste fondament

Jesus Christus is soos ons aan allerhande ellendes blootgestel. Hy is deur die duiwel versoek en geteister. Maar sy verhouding met God was sodanig dat daar geen kraak ooit in sy lewe te voorskyn gekom het nie. Dit was juis Jesus Christus se onderworpenheid aan elke eis van God die Vader wat gemaak het dat Hy aan die kruis beland het. Hierdeur het Hy die fondamente van ons ewige lewe gelê. Die Here Jesus Christus het klaar vir ons ’n fondament van saligheid gelê. Dis waarom Hy by ons op die aarde was.
Jesus Christus moet die fondament van ons lewens wees. As ons lewens nie daadwerklik op Hom gebou is nie, is daar geen vooruitsig dat ons ooit hierdie tyd met God se koninkryk gaan verruil nie.

Maak Jesus Christus jou fondament

Jy kan net die Here Jesus Christus die fondament van jou huis maak as jy waarlik glo. Daarvoor het jy ware kennis nodig; soveel kennis van die Bybel as wat jou verstand kan bevat. Bybelkennis veronderstel kennis van jou verlossing en van die saligheid wat God aan jou laat toekom deur Jesus Christus. Daarmee saam moet ons die vaste vertroue hê dat God werklik die Saligmaker vir ons laat sterwe het. Jy moet die vertroue hê dat jy deel uitmaak van die hele verlossingsopset. As jy dan die geloof en vertroue het, moet jy dit met ’n lewe vol goeie werke afrond. Elke ding wat jy aanpak, moet jy tot God se eer uitvoer. Dan is jy een van die verstandiges wie se huis nie deur die storms weggespoel gaan word nie.

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui