Wys liefde vir álle mense

Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in Lukas 10:25-37 leer ons opnuut om liefde aan ander te bewys soos ons in die Bybel beveel word.

Deur ds. Johan Nel

Liefde is die grootste gebod. God maak dit reeds in die Ou Testament bekend en Jesus leer ons daarvan in die Nuwe Testament.
Geen mens kan sonder liefde leef nie. Jy het God se liefde nodig. Daarsonder het jy nie die ewige lewe nie en bly jy onder sy oordeel. God het uit liefde sy Seun vir jou gestuur. Jesus het uit liefde vir jou aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan. Deur sy kruisiging en opstanding het Hy jou van die ellende van sonde verlos en aan jou die ewige lewe gegee. Omdat Christus jou liefgehad het, het Hy jou nuut gemaak. As nuwe mens kan jy nou liefhê, soos God wil. Hy het jou uit liefde ook deel van die kerk van sy Seun gemaak, sodat jy die liefde van medelidmate in jou lewe het.
Jou naaste het liefde nodig, omdat jou naaste saam met jou in ’n stukkende wêreld leef. Om ons van liefde vir ons naaste te leer, het Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel.


In dié gelykenis leer Jesus ons dat daar mense is wat die groot gebod nie gehoorsaam nie en weier om liefde te bewys. Daar is ook mense wat wel die groot gebod gehoorsaam en liefde aan ander bewys.


Liefde wat geweier is

’n Man uit Israel was op ’n dag oppad van Jerusalem na Jerigo, ’n reis van om en by ses uur. Hy is deur rowers aangerand en nakend en halfdood agtergelaat. Terwyl die man daar langs die pad gelê het, het ’n priester verby gekom. Die priester was waarskynlik klaar met sy tempeldiens en die offers wat hy moes bring en op pad huis toe. Die priester het die man gesien lê, maar hom nie gehelp nie, ’n ver draai om die man geloop en verder gegaan. Later het ’n Leviet verbygekom, ook seker klaar met die tempeldiens en op pad huis toe. Die Leviet het die man ook gesien lê en soos die priester ’n wye draai om hom geloop en verder gegaan sonder om hom te help.

Wat leer die priester en die Leviet ons?

Die priester en die Leviet was mense wat daagliks in die tempel diens gedoen het. Hulle het die Here se liefdesgebod goed geken, maar nie by die man in nood gestop en gehelp nie. Waarom nie? Hulle het self besluit hoe en wanneer en aan wie hulle liefde wil bewys. Hulle het self gekies wie hulle naaste is en wie nie!


Dink aan jou eie lewe
Dink jy soos die priester en die Leviet? Besluit jy ook wie jou naaste is en wanneer en hoe jy liefde wil bewys? Dink jy ook dit is goed genoeg om oor liefde te praat sonder om dit uit te leef? Loop jy ook ’n wye draai om mense in nood?


Liefde wat gegee word

Daar was ook ’n Samaritaan op reis. Die Samaritane was mense met wie Israel hulle nie opgehou het nie. Israel het gedink die Samaritane is minderwaardig. Jy praat nie met ’n Samaritaan nie. Jy laat ’n Samaritaan nie naby jou toe nie en loop wye draaie om hulle. Hierdie man uit Samaria het ook die man gesien lê wat aangeval en beroof is. Maar, hý het na hom toe gegaan en daar in sy nood gehelp soveel hy kon. Daarna het hy die man na ’n herberg geneem en hom daar verder versorg. Die Samaritaan het toegesien dat die man in nood verder versorg sou wees, en toe eers sy reis voortgesit.

Wat leer die Samaritaan ons?

Met dié gelykenis leer Jesus ons dat ons nie soos die wetgeleerdes van daardie tyd moet stry oor wie ons naaste is en wie nie. Die vraag in die koninkryk van die hemel is: Vir wie kan ek ’n naaste wees? Die vraag in jou gemoed moet wees: Hoe kan ek die mens in nood, wat die Here op my pad gebring het, liefhê?


Die grootste honger en dors

Daar is baie voorbeelde van nood in die wêreld, maar jy kan niks besit nie en skatryk wees aan al die hemelse skatte en gawes. Jy kan sterwend aan wees en die lewe hê. Die grootste nood in die wêreld sal altyd wees om die evangelie aan alle mense te verkondig. Om liefde aan jou naaste te betoon beteken dan ook dat jy die evangelie moet verkondig – aan álmal!


Is jy bereid om ’n naaste te wees?
Ondersoek vandag jou lewe. Is jy besig om soos die priester en die Leviet, kerkmense, ’n wye draai om die nood van mense te loop? Of is jy soos die barmhartige Samaritaan wat liefde aan jou naaste bewys?

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui