Die varkhok was nie die einde nie
Het jy al gevoel jy het te ver van God af weggedwaal? Lees hier hoe die varkhok nie die einde van die verhaal vir die verlore seun – of vir jou – is nie.

deur ds Daniël Myburgh
Het dit al met jou gebeur dat jy eers moes onder kom voordat jy weer kon opkyk? Soms is dit eers wanneer alles uitmekaar val dat ons weer helder begin sien. Vir die verlore seun het daardie oomblik nie in sy pa se huis gekom nie. Dit het tussen die varke gekom.
In Lukas 15:11-24 lees ons die welbekende verhaal van die “verlore seun”. Hy word “verlore” genoem omdat hy besluit het om alles wat hy sou erf, reeds te neem terwyl sy pa nog leef. Nadat hy sy erfporsie verkoop het, vertrek hy en verkwis alles totdat daar niks oorbly nie.
Hy verloor egter veel meer as net sy geld en besittings. Hy verloor ook die veilige verhouding met sy pa. Hy begin wonder: Wat sal my pa van my dink? Sal hy my ooit kan vergewe? Sal hy my ooit weer aanvaar?
Die varkhok word ’n keerpunt
Uiteindelik sit die jongman tussen die varke. Hy is honger, verneder en alleen. Die lewe wat so belowend begin het, het hom by ’n plek gebring waar hy selfs die kos van die varke begeer.
Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.
Lukas 15:16
Dit is juis daar, in die varkhok, waar iets verander. Hy dink terug aan sy vader se huis. Hy onthou hoe goed dit daar was. Hy besef hoe ver hy weggedwaal het. Die varkhok word nie die einde van sy verhaal nie. Dit word die plek waar hy tot inkeer kom.
Hoe dikwels gebeur dit nie ook met ons nie? Juis wanneer alles uitmekaar val, wanneer ons eie planne misluk en ons besef hoe leeg ons sonder God is, begin ons weer na Hom verlang.
Die Vader wag steeds
Die verlore seun besluit om terug te gaan huis toe. Hy verwag nie ’n warm ontvangs nie. Hy dink sy pa sal hom wegjaag of hom dalk net as ’n dienskneg aanvaar.
Maar dan gebeur die onwaarskynlike. Terwyl hy nog van ver af aankom, hardloop sy pa hom tegemoet. Hy verwelkom hom terug met oop arms.
Dit is alleen moontlik oor beide die pa én die seun se gesindhede: Die verlore seun erken en bely dat hy teenoor sy pa én die Here gesondig het. En die pa kry sy seun innig jammer en betoon sy onvoorwaardelike liefde aan hom.
God weet reeds
Wanneer ons aan ons eie lewe dink, wonder ons ook soms: “Hoe sal God my ooit kan vergewe? Wat sal Hy van my dink as Hy alles van my weet?”
Maar God hoef niks uit te vind nie. Hy is reeds bewus van alles wat ons gedoen het, alles wat ons gesê het en selfs alles wat in ons harte leef.
En tog het Hy sy Seun na hierdie wêreld gestuur om vir ons sondes te betaal.
God bly regverdig. Sonde kan nie eenvoudig geïgnoreer word nie. Daarom het Christus die straf gedra wat ons verdien het. Deur sy kruisdood en opstanding verklaar God dat Hy ons sondes nie meer teen ons hou nie.
Soos Hebreërs 10:17 sê:
Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie.
Jy is nie jou verlede nie
Die verlore seun was oortuig dat hy sy kanse verspeel het. Sy pa het anders gedink. Hoeveel te meer sal ons hemelse Vader ons nie met liefde ontvang wanneer ons na Hom terugkeer nie?
Te danke aan Christus is dit nooit te laat om terug te draai nie. God definieer jou nie deur jou grootste fout of jou sondige verlede nie. Hy sien jou raak as iemand wat deur Christus vergewe en nuut gemaak is.
Die varkhok was nie die einde van die verlore seun se verhaal nie. En jou laagste punt hoef ook nie die einde van jou lewe te wees nie.
Kom terug na die Vader
Deur Christus se kruisdood en opstanding word elkeen wat in Hom glo, volkome vergewe. God reken jou sonde nie meer teen jou nie, omdat Christus daarvoor betaal het.
As jy vandag voel jy sit in jou eie “varkhok”, onthou dan: dit hoef nie die plek te wees waar jou verhaal eindig nie. Dit kan juis die plek wees waar jy opstaan, omdraai en terugkeer na jou Vader.
Want deur Jesus Christus is jy nie meer verlore nie. Jy is gevind.
Lees meer oor die verlore seun:
