Wie kry toegang tot jou hart?

Die stemme waarna jy vandag luister, bepaal dikwels wie jy môre word. Wie vorm jou hart? Lees hier hoekom jy jou nie met die semels moet meng nie.
deur ds Werner Brotherton
“Meng jou met die semels, dan vreet die varke jou op.”
Ons ken dié ou Afrikaanse spreekwoord goed. Dit waarsku ons om versigtig te wees met wie ons meng, want die mense om ons beïnvloed ons, of ons dit besef of nie.
Maar vandag is daar iets wat die spreekwoord nog meer relevant maak. Ons “meng” nie meer net met mense nie. Elke dag laat ons honderde ander stemme in ons lewens toe. Ons blaai deur sosiale media, kyk video’s, luister na podcasts, lees nuus, volg influencers en kyk na reekse. Elkeen van hierdie dinge laat iets in ons harte agter.
Die vraag is nie meer net wie is jou vriende nie. Die vraag is: Wie kry toegang tot jou hart?
Jou hart word elke dag gevorm
Psalm 1 begin met ’n pragtige beskrywing van die mens wat werklik gelukkig is. Hy laat hom nie lei deur goddelose raad of ’n lewe wat van God af wegbeweeg nie. Sy vreugde lê in die Here se Woord, en hy leef daaruit.
So iemand, sê die psalm, is soos ’n boom wat by waterstrome geplant is. Sy wortels kry voortdurend voeding. Daarom dra hy vrug wanneer die tyd daarvoor aanbreek, en selfs wanneer die lewe moeilik raak, bly hy staande.
Ons lewens word gevorm deur dit waarmee ons ons gedagtes en harte vul.
Wie kry jou ore?
Paulus skryf in 1 Korintiërs 15:33:
Moenie dwaal nie: Slegte geselskap bederf goeie sedes.
Ons dink maklik net aan ons vriendekring wanneer ons dié vers lees. Maar vandag is “geselskap” baie meer as die mense saam met wie ons koffie drink. Dit sluit ook die stemme in waarna ons elke dag luister en die boodskappe wat ons gedagtes vul.
As jy dag ná dag negatiewe, selfsugtige of goddelose invloede toelaat, sal dit mettertyd jou manier van dink en leef beïnvloed.
Dieselfde beginsel werk egter ook positief.
Wanneer jy tyd saam met gelowiges deurbring, wanneer jy God se Woord lees, wanneer jy luister na Skrifgetroue prediking en jou gedagtes vul met wat goed en waar is, begin dit jou verander. Nie oornag nie, maar stadig en seker.
Jesus wys vir ons die pad
Jesus het nie van die wêreld weggevlug nie. Hy het saam met tollenaars en sondaars geëet en hulle liefgehad. Maar Hy het nooit toegelaat dat die wêreld Hom vorm nie. Sy Vader se wil was die stem waarna Hy eerste geluister het.
Ons hoef dus nie bang te wees vir die wêreld nie. Ons moet net wys wees oor watter stemme ons die grootste invloed in ons lewe gee.
Kies die stemme wat jou nader aan God trek
Vra jouself vandag eerlik af:
- Wie kry die meeste van my aandag?
- Watter stemme vorm my denke?
- Watter inhoud vul my hart?
- Trek dit my nader aan Christus of verder van Hom af?
Die Here nooi ons om doelbewus te kies waarna ons luister en wie ons toelaat om ons te beïnvloed.
Want die stemme waaraan ons vandag aandag gee, help bepaal wie ons môre sal wees.
Moenie met die semels meng dat die varke jou opeet nie.
Kies eerder om jou hart oop te maak vir God se Woord en vir mense wat jou nader aan Jesus lei. Dan sal jy, soos Psalm 1 beloof, wees soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, stewig gewortel en vol vrug.
