“Ek is”-uitsprake in Johannes

Die sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes gee vir ons ’n prentjie van wie Jesus is. Die ware implikasies en impak van Christus se openbaring van wie Hy is in Johannes reik ver. Dit het ’n impak op ons daaglikse lewe. Indien jy besef wat hierdie beteken wag daar ’n lewensveranderende transformasie met ewige gevolge op jou.
Lees die sewe uitsprake hier:
Die brood van die lewe Johannes 6:22-59
Die lig van die wêreld Johannes 8:12-43
Die deur en die goeie herder Johannes 10:1-21
Die opstanding en die lewe Johannes 11:1-44
Die weg, die waarheid en die lewe Johannes 14:1-31
Die ware wynstok Johannes 15:1-27
Lees by elke uitspraak die hele gedeelte om die konteks en die belang van elk beter te verstaan. Gebruik dan drie vrae by elke uitspraak. Jy kan selfs nota’s maak sodat jy die verskillende gedeeltes met mekaar kan vergelyk. Aangesien die Skrifgedeeltes lank is, kan jy vir ’n week hieroor Bybelstudie doen. Dit sal help dat jy genoeg tyd kan spandeer aan elke gedeelte om seker te maak jy verstaan wat daar geskryf is.
- Wat staan hier?
Dink na oor elkeen van die beelde wat Christus gebruik. Wat is die verband van elke beeld en sy toepassing? Só kan jy nadink oor wat ’n wynstok en lote met mekaar te doen het of brood en lewe, ensovoorts. Om regtig te lees wat hier staan kan jy die verse parafraseer – skryf oor in jou eie woorde – sonder om te dink oor die betekenis. - Wat beteken dit?
Bestudeer die konteks van elke gesprek en beskryf die primêre gehoor. Hoekom maak Jesus hierdie spesifieke kommentaar in hierdie verband aan daardie luisteraars? Elkeen van hierdie stellings klink eienaardig, maar hoe is dit waar? - Wat beteken elkeen vir my?
Verpersoonlik die implikasies van elke verklaring deur die inbring van jou naam in die plek van “die” in elke uitspraak. Byvoorbeeld, “Ek is Karin se brood van die lewe”, “Ek is Karin se deur”. Beskryf elkeen van Christus se uitsprake se invloed op jou a) opvattings, b) gedrag.
Watter verskil sou elkeen van hierdie stellings in jou persoonlike of innerlike lewe kan maak? In jou werklewe? In jou gesinslewe? In jou sosiale lewe?