Lewe só volgens Christelike riglyne

Die Bybel gee duidelike riglyne van hoe ons moet lewe. Doen hierdie Bybelstudie oor Efesiërs 4 en leer hoe jy die slegte met die goeie moet vervang.

Soms gee iemand vir jou ’n opdrag, maar hulle verduidelik nie mooi wat hulle daarmee bedoel nie. In die Bybel kry ons gelukkig duidelike riglyne. Efesiërs 4:17 sê vir jou hoe jy nié moet lewe nie: “Moenie langer soos heidene lewe nie”. En dan gee die Here vir jou spesifieke, praktiese riglyne oor hoe jy hierdie opdrag moet nakom in Efesiërs 4:25-5:5. Dié verse leer jou dat jy nie net moet ophou om sekere slegte dinge te doen nie. Jy moet nou in die plek daarvan goeie dinge doen. So, hou op met jou slegte gewoontes deur dit met goeie gewoontes te vervang.


Lees Efesiërs 4:25-5:5

  • Efesiërs 4:25-32
    Vervang slegte gewoontes met goeie gewoontes.
  • Efesiërs 5:1-5
    Lewe in liefde soos Christus.

Antwoord hierdie vrae

1. Gebruik die volgende verse om vir jou ’n tabel op te stel van die slegte gewoontes waarmee ons moet ophou, en die goeie gewoontes wat ons in die plek daarvan moet doen: Efesiërs 4:25, 4:28, 4:29 en 4:31-32.               

2. Watter rede gee vers 25 oor hoekom ons onder mekaar die waarheid moet praat?

3. Hoe sluit Efesiërs 4:1-16 hierby aan?

4.  Is dit ’n sonde om kwaad te word? Lees weer vers 26.


Wat is die probleem met kwaad word?

Daar is spesifieke gevalle waar dit nie sonde is om kwaad te word nie. Om byvoorbeeld kwaad te word as iemand die Here se Naam laster, is nie sonde nie. Die probleem is egter dat jy baie kere kwaad word oor dinge waaroor jy nie moet kwaad word nie, of dat jy sonde doen wanneer jy kwaad word.


5. Hoekom beveel die Here jou om nie ’n dag kwaad af te sluit nie? Lees ook Matteus 5:23-24.

6. Jy moet die verandering wat Christus in jou lewe gebring het, ook aan ander mense wys. Aan wie moet jy dit wys volgens vers 29, en hoe?

7. Wat beteken dit om net te praat wat goed en opbouend is “volgens die eis van omstandighede” (vers 29)?

8. Hoe bedroef ons die Heilige Gees?


Die betekenis van “bedroef die Heilige Gees”

Dit is om die Heilige Gees baie hartseer te maak. Wat ’n gedagte! Ek, klein, sondige mens kan die Heilige Gees hartseer maak. Hoe doen ek dit? Deur aan te hou om sonde te doen.


9. Een van die eienskappe van nuwe mense is dat ons mekaar moet vergewe. Watter motivering word in vers 32 hiervoor gegee?

10. Efesiërs 5:1 sê dat ons God se voorbeeld moet volg. Hoe kan jy dit doen?

11. In vers 2 kry jy weer die opdrag dat jy op ’n spesifieke manier moet lewe. Watter manier is dit, en wat beteken dit?

12. Hoe word dit wat Christus vir ons gedoen het in vers 2 beskryf?

13. Wat pas volgens vers 4 nie by gelowiges nie, en wat pas by ons?

14. Watter sterk waarskuwing kry jy in vers 5?


God straf aanhoudende sonde

Vers 5 sê nie dat iemand wat al enige van die sonde gedoen het wat hier beskryf word, vir ewig verlore sal gaan nie. Dit sê dat iemand wat aanhou sondig, sonder om te probeer ophou, vir ewige verlore sal gaan. So persoon wys nie met sy lewe dat Christus hom gered het nie.


Samevatting

As iemand wat deur Christus gered is, moet jy ophou om sonde te doen. Jy moet hierdie slegte gewoontes met goeie, Christelike gewoontes vervang. Volg Christus se voorbeeld, want Hy het sy lewe as ’n offer vir jou gegee.


Riglyne vir jou gebed

  • Vra dat God vir jou sal wys in watter sonde jy volhard, sodat jy daarmee kan ophou.
  • Vra dat die Heilige Gees jou sal lei om volgens die Christelike riglyne van Efesiërs 4:25-5:5 te leef.

Laai die Bybelstudieboekie oor Efesiërs af

Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui