Jesus was waarlik God én mens

Jesus het aarde toe gekom en vir ons onder die gewig van die kruis geswig. En, terwyl Hy hier was, was Hy volkome mens. Lees hier wat dit vir ons beteken.



deur ds. Piet Venter

In die gedeelte Markus 15:16-22 lees ons hoe Simon van Sirene Jesus moes help om sy kruis te dra. Ongeag van hoeveel kere mens al die kruisgebeure gehoor het, ontstel dié verse in Markus 15 mens steeds. Jesus wat nie sy kruis verder kan dra nie en dan gehelp moet word, pas eenvoudig nie in die prentjie wat baie mense van Jesus het nie. Baie mense sien Jesus as die Superheld wat alles kon doen! Hy kon dan net ’n woord sê en ’n storm raak stil. Of Hy het net ’n handgebaar gedoen en iemand word genees van ’n bose gees of ’n ongeneeslike siekte!

Dis hoe mense Jesus graag wil sien en ken, maar hier sien ons dat Jesus waarlik mens was. Hy beleef ook die swakheid van die menslike lewe. Jesus, ons Verlosser en Middelaar, is volkome God maar terselfdertyd ook volkome en ware mens. Dít is vir ons die onbegryplike misterie van Jesus. En dit kan vir ons geweldige troos beteken en tot ons redding dien.

Die betekenis van hierdie misterie in ons teks is dié boodskap: Christus val onder die gewig van die kruis sodat ek en jy ons kruis kan dra!


Jesus was ware en volkome mens

Die Skrif leer ons dat God in Jesus ware mens geword het. Dit was immers mense wat gesondig het, en mense wat gestraf moes word vir hulle sonde. Jesus het ware mens geword om so ons as mense se sonde te dra. Hy het die straf wat God vir ons moes uitdeel in ons plek verduur sodat ons van ons sonde verlos kan word en ons gered kan word.

Van Sy geboorte af tot met sy sterwe aan die kruis het Jesus alles beleef wat ons as mense beleef – behalwe dat Hy in alles nooit gesondig het nie! Hy het liggaamlik pyn en lyding geken. Hy het soos ons gebloei toe hulle Hom gemartel en geslaan het. Sy liggaam kon naderhand nie meer die pyn en lyding verduur nie en daarom lê Hy in die pad. Hy was te moeg en gedaan om die kruis verder te dra.

So erg was sy lyding dat Hy selfs toe Hy op die Sondag opstaan uit die dood met ’n verheerlikte liggaam die tekens van sy lyding aan daardie verheerlikte liggaam gedra het.

Wat beteken dit vir ons?

Die Skrif maak die betekenis van Jesus se ware menswees in Hebreërs vir ons duidelik. Jesus moes ware mens word, en Hy moes die lydingspad van God as mens stap sodat Hy volkome medelye met ons in ons menslike swakheid kan hê. Hy loop die pad van menslike lyding en dra die straf van God aan sy menslike liggaam sodat Hy vir ons genade na liggaam en gees kan gee om vandag ons kruis te kan dra.

Dit is ook waarom Hy gesê het dat Hy ons nie alleen sal laat wanneer Hy terugkeer na die Vader om weer die volheid van sy Goddelike wese aan te neem nie. Hy het geweet dat ons in ons mensheid nie alleen die pad sal kan loop nie. Daarom gee Hy ons die Heilige Gees wat by ons en in ons kom woon het. Die Heilige Gees kom woon in swak menslike liggame om juis die krag van God in ons te ontsluit en ons in staat te stel om ons kruis te dra.


Jesus weet waardeur jy gaan

Terwyl ons dan nou ’n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

Hebreërs 4:14-16

Neem die uitnodiging van Hebreërs 4:14-16 aan. Wanneer dit vir jou voel of jy nie meer jou laste kan dra nie, kom na Jesus toe en vind in Hom krag en genade. Die liefdevolle Vader het sy eie Seun gestraf dat ons vandag genade, hoop en krag kan hê.

Weet dat Jesus verstaan presies wat jy beleef. Of jy moeg is in jou geestelike lewe, deur ’n geweldige beproewing of siektetoestand gaan, onder die druk van prestasie leef, of die lewe se uitdagings vir jou te veel word, Hy verstaan. Hy was hier en Hy weet hoe dit voel om nie meer verder te kan gaan nie. Hy het onder die druk van sy kruis geswig en bly lê.

Dit alles het Hy gedoen sodat Hy jou vandag die krag kan gee om jou kruis verder te kan dra.


Jy sal ook hou van ...

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui