Trek God se volle wapenrusting aan
Die laaste woorde van Efesiërs vertel dat ons op hierdie einste oomblik met ’n oorlog besig is. Nie ’n fisiese oorlog nie. Nee, baie erger: ons is in ’n geestelike oorlog. Efesiërs 6:12 sê:
Ons stryd (oorlog) is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.
Eintlik moet dit jou glad nie verbaas nie. Op verskeie plekke in die Bybel lees jy van die stryd tussen God en die bose magte. Vroeër in Efesiërs staan daar dat ons, voor ons tot geloof gekom het, ons deur die Satan laat lei het (Efesiërs 2:2).
Maar ons dank God dat dit nie al is wat ons in Efesiërs hoor nie! Paulus skryf dat Christus juis gekom het om sondaars soos ons vry te maak. Hy het ons kom bevry van die slawerny aan die sonde en die Satan.
Woordbetekenis: Vryspraak
Vryspraak is die genadige optrede van God waardeur Hy verklaar dat al ons sonde vergewe is en ons glad nie meer skuldig is nie. God doen dit deur Christus wat vir al ons sondes betaal het. Om deur God vrygespreek te word is ’n eenmalige optrede van God, en nie ’n proses nie. Ons is nie môre meer vrygespreek as vandag nie! As God sê vrygespreek, is ons vrygespreek vir altyd.
Die troos in ons oorlog teen die bose
Ons het die troos dat Christus reeds die oorwinning behaal het. Deur sy kruisiging en opstanding het Christus die bose oorwin. Maar alhoewel die Satan oorwin is, is hy nog nie vernietig nie. Dit sal Christus by sy wederkoms doen.
Vir nou loop die Satan nog rond “soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (1 Petrus 5:8). Hy weet hy is reeds oorwin, en dat sy tyd min is. Daarom probeer hy om soveel skade as moontlik aan te rig. Die geestelike oorlog duur dus voort. Wat moet jy te midde van hierdie oorlog doen?
Uiteensetting van Efesiërs 6:10-20
- Efesiërs 6:10-13 Wees sterk in die Here.
- Efesiërs 6:14-17 Trek die volle wapenrusting aan.
- Efesiërs 6:18-20 Wees waak saam en bid.
Lees Efesiërs 6:10-20 en beantwoord hierdie vrae
1. Watter twee opdragte kry jy in vers 10 en 11?
2. Hoe groot is die Here se mag? Dink aan die hele boek van Efesiërs en veral na Efesiërs 1:19-20. Hoe troos dit jou?
3. Hoe word die aanslae van die duiwel in vers 11 beskryf, en wat beteken dit?
Woordbetekenis: Listig
Misleidend, bedrieglik, slu. Die duiwel word met dieselfde woord in Genesis 3:1 beskryf: “Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is.” Die duiwel doen sy bes om ons te mislei en te bedrieg. Sy groot doel is om die kerk te vernietig. Hy wil keer dat mense gered word, en hy wil hê dat hulle wat reeds glo, aan die Here ontrou word.
4. Wat sal volgens vers 13 gebeur as jy die volle wapenrusting aantrek wat God jou gee?
5. Vers 14 tot 17 beskryf die wapenrusting in detail. Elke deel van die wapenrusting herinner jou aan wat God deur Christus en die Heilige Gees vir jou gedoen het, en steeds doen. Maak ’n lys van die verskillende dele van die wapenrusting, en beskryf waarna dit verwys en hoe dit jou troos.
Woordbetekenis: Wapenrusting
Dit verwys na die oorlogklere wat ’n destydse Romeinse soldaat aangehad het. Hy moes hierdie wapens gebruik om aan te val en homself te verdedig.
Gebed is die belangrikste
Mens sou verwag het dat die Woord een van die belangrikste dele van die Christensoldaat se wapenrusting sou wees. Vers 18 sê dat gebed die belangrikste deel is. Dit is nie net een deel van jou wapenrusting is nie, maar dit omarm elke deel daarvan. Die enigste manier hoe jy die wapenrusting kan aantrek, is deur gebed. Om staande te bly op jou pos, moet jy bid.
6. Vers 18 verduidelik hoe jy die volle wapenrusting van God aantrek. Hoe doen jy dit?
7. Wat beteken die opdrag in vers 18 om waaksaam te wees?
8. Vir wie moet jy bid te midde van hierdie geestelike oorlog?
9. In die lig van jou antwoord hierbo en alles wat jy vroeër in Efesiërs gelees het, wat sê dit oor gelowiges se eenheid?
10. Paulus is in die tronk as hy die brief aan Efesiërs skryf. Mens sou verwag dat hy hulle vra om te bid dat hy uit die tronk kan kom, maar waarvoor vra hy?
Die geestelike oorlog waarin ons is, is geweldig ernstig. Maar ons hoef glad nie te vrees nie. God gee ons die krag en die wapenrusting wat ons nodig het. Wees daarom sterk in die Here, en trek die volle wapenrusting aan. Dan sal jy staande kan bly in hierdie oorlog.
Onthou hiérvan in jou gebed
- Dank die Here dat Hy jou van die duiwel bevry het.
- Vra dat die Here jou die krag sal gee om staande te kan bly in die geestelike oorlog.
- Vra die Here om gelowiges wêreldwyd staande te hou in hierdie oorlog.
- Vra die Here vir die regte woorde wanneer jy die evangelie verkondig, en die vrymoedigheid om dit te doen.