Raak só met die vrede-evangelie versterk
Lees hier hoe ons mekaar moet bemoedig en troos met die evangelie van vrede in tye van geestelike oorlogsvoering.
![](https://www.kruispad.net/wp-content/uploads/2022/10/wapenrusting-skoen.jpg)
deur ds Ruan Steyn
Die Heilige Gees het vir Paulus gelei om te skryf oor die evangelie en die kerk se doel en roeping (Efesiërs 1-3) sodat gelowiges kan weet hoe hulle behoort te leef (Efesiërs 4-6). Ons moet egter besef dat ons ’n vyand het wat alles in sy vermoë doen om ons te probeer verhinder om ons roeping uit te leef. Paulus gee daarom vir ons die opdrag:
Soek julle krag in die Here en in sy groot mag. Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.”
Efesiërs 6:10-11
Skoene aan die voete
Ons dink dat ons voete nie belangrik is in die geestelike oorlogsvoering nie, maar ons voete is belangrike liggaamsdele waarop ons staan. As ons gly of nie reg vastrap nie, gaan ons struikel en die slagoffer van die vyand word.
Watter stuk wapenrusting is vir ons voete gegee? Efesiërs 6:15 gee vir ons die antwoord: “Die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete”.
Die Romeinse soldate het dik leersandale gedra met bande wat om hul enkels gedraai was. Soms is die sandale met klein stukkies metaal aan die onderkant bedek, en dit het ondersteuning en vaste vastrap gebied. Dit is die beeld wat Paulus in gedagte gehad het.
Paulus noem hierdie skoene “die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig.”
Die evangelie van vrede
Die skoene verwys in die eerste plek na die evangelie van vrede. Alle mense is eers geestelik dood:“Julle was dood as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het” (Efesiërs 2:1). Maar, gelowiges ontvang die troos van God. Die troos wat gelowiges te midde van die geestelike oorlogsvoering het, is dat hulle vrede met God het.
Paulus gee die rede waarom gelowiges vrede met God het: “Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered” (Efesiërs 2:4-5).
Ons het vrede met God, en dit is die fondasie wat maak dat ons vas en sterk kan staan te midde van die geestelike oorlogsvoering.
Die bereidheid om die evangelie te verkondig
Die skoene verwys in die tweede plek na die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig. Gelowiges het vrede met God en dit gee vir ons groot vertroue en sekuriteit in ons stryd met die bose.
Ons behoort egter nie hierdie goeie nuus vir onsself te hou nie. Petrus skryf: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe” (1 Petrus 3:15). Ons moet bereid wees om die evangelie in ons eie lewe te hoor, maar ook om die evangelie in die groot stryd te gebruik. Dit beteken dat ons die evangelie aan ongelowiges moet verkondig. So verkondig ons die Goeie Nuus – dat Jesus Christus die duurste prys betaal het om ons vry te koop.
Hoekom verkondig ons die evangelie?
Ons verkondig nie net die evangelie sodat mense tot geloof kan kom nie, maar ons herinner ongelowiges en gelowiges aan die waarheid van wat Christus vir ons gedoen het. Te midde van die geestelike oorlogsvoering vermaan, bemoedig en troos ons mekaar met die evangelie van vrede.
Ons almal het die evangelie nodig. Ons het nodig om daagliks herinner te word van die vrede wat tussen ons en God is; die vergifnis van ons sondes; die bereidheid om voortaan vir Hom te lewe. Daarom is dit nodig om daagliks die Woord van God te bestudeer. Ons stryd is ’n lewenslange stryd. Ons moet altyd die regte wapenrusting aanhê!
Is ons vasbeslote om vas en sterk te staan? Is ons gereed om sterk te staan wanneer Satan sy aanvalle teen God se kinders loods? Ons moet ons voete ingrawe in die vaste fondasie en daarom trek ons die skoene aan “as bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig”. Ons kan saam met Jesaja sê:
Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede verkondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: ‘Jou God is Koning.’
Jesaja 52:7